Skip to main content

Deuteronomium 18

Die priesters kry alles wat die Here toekom en die profeet raak God se woordvoerder

Teks en konteks

Na die aandag aan die publieke sisteme van die regstelsel en die politiek, fokus Moses op die godsdienstige sisteme, die priesters en Leviete (Deut. 18:1-8) en die profeet wat die Here vir hulle sal gee (Deut. 18:9-22). In die geval van die stam van Levi geld die beginsel dat hulle alles kry wat die Here toekom uit die oorvloed wat Hy vir die volk gee. In die geval van die profeet – let op die enkelvoud – geld die beginsel dat hy, soos Moses, alles moet deurgee wat die Here vir hom in die mond lê. Hy word die woordvoerder van die Here.

Die volk moet daarom die profeet nougeset gehoorsaam en doelbewus en konsekwent alle ander stemme ignoreer. Sommige dink dat Moses hier verwys na die profeteamp. Die NT beskou dit ten diepste as ‘n verwysing na die Here Jesus Christus (Mark. 6:15; Matt. 21:11, 46; Luk. 1:76; 7:16; 24:19; Joh. 1:45; 4:19; 5:46; 6:14; 7:40; 9:17; Hand. 3:22-23; 7:37).

Die priesters kry wat die Here toekom – Deuteronomium 18:1-8

Omdat die stam van Levi die plek van die eersgeborenes van Israel ingeneem het (vgl. Num. 3-4), om die Here permanent te dien in die kultus van Israel (Num. 8), maak Moses die reëling dat hulle alles kry wat die Here uit die volk toekom. Dit sluit offers en gawes in. Israel sou dus vir die Leviete en priesters kos (vleis van die offers en ander kos van die oeste: koring, wyn, en olie) en klere (wolskeersel) verskaf. Selfs Leviete wat op ander plekke bly in die stede wat deur die ander stamme vir hulle gegee is (Num. 34-35), kon by die sentrale diens kom aansluit, sonder dat hulle erfgoed teen hulle gehou is.

Die Here sal ‘n profeet gee soos Moses om God se woorde aan hulle te gee – Deuteronomium 18:9-22

Moses begin met ‘n waarskuwing teen die “ander stemme” wat hulle in die land sal aantref. Die NAV is nie so duidelik in terme van die sake wat verbied word nie. Die BDV vertaal dit beter: “Daar mag nooit by jou iemand wees wat sy seun of dogter in die vuur offer (met die oog op ‘n boodskap), of wat voorspellings maak, voortekens lees, waarsêery beoefen, of ‘n towenaar is nie, wat towerspreuke gebruik, waarsêer- of voorvadergeeste oproep, of dooies raadpleeg nie.” Die Here het ‘n afsku aan die mense wat sulke praktyke beoefen. Hulle moet aktief teengestaan word en op geen manier nagevolg word nie. Trouens, dit is juis vanweë dié praktyke wat die Kanaäniete die land verbeur het.

Moses belowe dat die Here ‘n profeet vir hulle sal gee, uit hulle eie geledere, wat soos Moses hulle die wil van God kan leer, in vervulling van die versoek wat hulle destyds by Sinai (Horeb) aan die Here gerig het. Die Here sal sy woorde in dié profeet se mond lê, in ooreenstemming met die wet wat Hy van Sinai af tot by die vooraand van die Intog in die beloofde land aan Moses gegee het.

Só ‘n profeet mag dus niks anders verkondig as wat die Here hom beveel nie. Sy gesag sal ook lê in die uitkoms van sy woorde al dan nie. Dit sal ook bepaal of die volk na hom moes luister of nie.

Die belofte van ‘n profeet het dus onmiddellike betekenis vir hulle, hoewel hulle name eers mettertyd aan ons bekend word. Ons lees van een naamlose profeet in die Rigterstyd in die tyd van Gideon (Rigt. 6:8), dan natuurlik van die groot profeet Samuel (1 Sam. 3:20) waarna daar sprake is van ‘n profeteskool (1 Sam. 10:10; 19:23). In die tyd van Dawid is daar ‘n paar profete wat optree (Gad – 1 Sam. 22:5; Natan – 2 Sam. 7:2). Dit alles voor die groot profeet Elia in die tyd van Agab op die toneel verskyn (1 Kon. 17 tot 2 Kon. 2).

Boodskap en betekenis

Die belofte van ‘n profeet het egter ook ‘n dieper betekenis. Die belofte van ‘n profeet is as sodanig ook profeties. Dit kom ons uit die NT agter. Jesus word op talle plekke as die profeet waarvan Moses gepraat het, geïdentifiseer, soos dit bv. ‘n paar keer in die evangelie van Johannes gestel word. Filippus verduidelik vir Natanael: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het.” (Joh. 1:45). Die skare by die wonderteken van die broodvermeerdering maak dieselfde konneksie: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (Joh. 6:14), soos ook sommige mense by die huttefees: “Hy is werklik die Profeet.” (Joh. 7:40).

Dit het ook deel van Jesus se selfverstaan gevorm: “As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe.” (Joh. 5:46). Ná Jesus se opstanding en hemelvaart verkondig Petrus (Hand. 3:22-23) en Stefanus (Hand. 7:37) dit dan ook as deel van die boodskap van die koninkryk (Vergelyk ook Mark. 6:15, Matt. 21:11, 46, Luk. 1:76; 7:16; 24:19; Joh. 4:19; 9:17).

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda