Skip to main content

Esegiël 19

Twee treurliedere oor die konings van Israel

Esegiël vervolg met twee treurliedere oor die konings van Israel. In die eerste verwys hy na die onverkwiklike regering van twee van die onlangse konings van Juda: Joahas en Jojakim. Hulle koningskap is onderskeidelik deur Egipte en Babel beëindig. In die tweede verwys hy na die soortgelyke onverkwiklike regering van die huidige koning van Juda: Sedekia. Sy koningskap sou deur die Galdeërs van Babel onder leiding van Nebukadnesar beëindig word.

Tog hoor ‘n mens geen leedvermaak in die beskrywing van hulle termyne nie. Al het die konings onder die oordeel van die Here gestaan weens hulle ongehoorsaamheid aan Hom, bly die toedrag van sake tragies. Dit is ‘n klad op die naam van die volk van Juda. Trouens, hierdie woord van die Here is twee treurliedere wat bedoel was om gesing te word. Vandaar die beeldende metafore van ‘n leeuwyfie en haar welpies, en ‘n wingerstok met haar sterk lote wat die lot van hierdie konings beskryf.

Teks en konteks

Esegiël 19:1-9 – Treurlied oor Joahas en Jojakim

Die eerste treurlied gebruik die metafoor van ‘n leeuwyfie wat ‘n klomp jong welpies grootgemaak het. Die simbool van Juda was immers ‘n leeu (Gen. 49:9). Twee van die jong leeus het mensvreters geword het wat daarom deur die nasies, Egipte en Babel, gevang en weggevoer is – 19:1-9. Die leeuwyfie staan vir die volk Israel, en die twee mensvreters kan verbind word met koning Joahas en koning Jojakim.

Joahas was die 21ste koning van Juda, Sy verhaal word vir ons in 2 Kronieke 36 vertel. Die burgers van die land het Joahas koning gemaak om sy pa Josia op te volg op die jeugdige ouderdom van 23. Hy is gebore vir Josia toe dié net 16 jaar oud was. Jeremia noem hom Sallum (Jer. 22:11). Hy was die 4de oudste van Josia se kinders met Joganan, Jojakim en Sedekia ouer as hy (1 Kron. 3:15).

Joahas het egter nie veel tyd vir regeer nie en word na net 3 maande deur die koning van Egipte, Neko, afgesit en na Egipte weggevoer (“met hake na Egipte toe gesleep” – 19:4), waarskynlik as straf vir die koppige dwaasheid van Josia wat in die konflik met Neko gesterf het. Die Kronis gee geen beoordeling van sy regering nie, hoewel Konings vermeld dat hy die Here nie gedien het nie en in Egipte gesterf het (2 Kon. 23:30-34), soos Jeremia ook voorspel het (Jer. 22:11-12).

Jojakim was die 22ste koning van Juda. Sy regte naam was Eljakim. Hy was eintlik Joahas se ouer broer, en word op 25 jarige ouderdom as koning aangestel deur die Egiptiese koning. Sy naam word na Jojakim verander om duidelik aan die volk te kommunikeer dat Juda nou onderdanig is aan Egipte.

Hoewel hy 11 jaar in Jerusalem regeer, staan sy regering volledig in die teken van die afvalligheid van sy voorsate. Die Kronis gee nie enige detail nie, maar verkwalik Jojakim vir die “afskuwelike dinge” wat hy sou gedoen het. Konings wyt die opeenvolgende konflikte wat Juda beleef aan die sonde van Manasse wat nog ’n groot invloed in die land gehad het, veral weens die onskuldige bloed wat in die land vergiet is (2 Kon. 24:4).

Jeremia brei uitvoerig daarop uit en wys dat Jojakim kwistig daaraan meegedoen het: hy het sy huis met onreg gebou, sy mense sonder betaling laat werk, nie die saak van die swakke en arme behartig (soos sy pa Josia) nie, homself verryk ten koste van ander en (soos sy grootjie Manasse) mense onskuldig laat doodmaak (Jer. 22:13-19). Jeremia het nog baie ander materiaal oor Jojakim wat jy gerus kan lees vir ’n meer volledige prentjie van die regeringstyd van Jojakim: Jeremia 25 (Die ballingskap sal sewentig jaar duur); Jeremia 26 (Jerusalem sal soos Silo verwoes word); Jeremia 36 (Jojakim verbrand Jeremia se boekrol).

Jeremia se oordeel oor Jojakim is: “Hy sal soos ’n donkie begrawe word: hy sal van hier weggesleep word en buite die poorte van Jerusalem weggegooi word.” (Jer. 22:19). Soos Esegiël hier oor hom skryf: “Hulle het hom in ‘n hok gesit en hom met hake na die koning van Babel toe gesleep.” (19:9).

Die Kronis sluit hierby aan en sê dat Jojakim met bronskettings geboei is om na Babel weggevoer te word, hoewel geleerdes verskil oor die uitkoms hiervan. Die Hebreeus kan verstaan word asof Jojakim geboei is om weggevoer te word, maar dat die uitkoms daarvan oopgelaat word: “geboei met bronskettings om na Babel toe te vat …” Dit kan dus beteken dat hy nooit daar uitgekom het nie.

Hoe dit ook al sy, dit gebeur in 597 v.C. en Jerusalem word vir die eerste keer ingeneem deur koning Nebukadnesar van Babel – volgens Konings, weens Jojakim se opstand teen Nebukadnesar na ’n tydperk van 3 jaar se onderdanigheid (2 Kon. 24:1). Die tempel word geplunder en Jojakim se regering op 36 jarige ouderdom beëindig.

Esegiël 19:10-14 – Treurlied oor Sedekia

Die tweede treurlied gebruik die metafoor van ‘n wingerdstok met sterk lote wat uitgeruk en verbrand is. Nou kan die wingerdstok geen sterk lote meer lewer wat as koninklike nasate kan dien nie – 19:10-14. Die wingerdstok kan op soortgelyke wyse met die volk Israel en die komende ballingskap van koning Sedekia verbind word.

Sedekia, Joahas se jongste broer en oom van Jojagin (maar omtrent dieselfde ouderdom) word op 21 jarige ouderdom koning, die laaste koning van Juda. Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.

Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het. Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.

Sy gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”) word geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel, waarvoor hy die prys betaal om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý oë daarna uitgesteek is en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11). ’n Grillerige gru-verhaal!

Die leiers van die priesters en die volk het hom nagevolg en die tempel ontwy met hulle afgodsdiens, die boodskappers van die Here, soos Jeremia, uitgelag, God se woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here onherroeplik oor sy volk losgebreek het. Baie mense het hulle lewens verloor met die laaste veldtog van Nebukadnesar en is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer. Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.

Die Kronis wyt dié ontsetting van die ballingskap aan die konsep van ’n sabbatsjaar waarin die land as’t ware kon braak lê om te vergoed vir die ongehoorsaamheid oor die loop van 5 eeue, wat ’n hele sewentig jaar lank sou duur.

In 2 Konings 24:18-25:21 en Jeremia 52:1-30 word die verhaal van Sedekia met meer detail vertel.

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n treurlied oor die konings van Juda. Daar is geen leedvermaak, net die afgryse en hartseer oor die verydeling van jong leeus wat mensvreters geword het en ‘n wingerdstok met sterk lote wat uitgeruk, uitgedor en verbrand is. Die hoop op goeie leierskap het gefaal. Die laaste konings van Juda vóór die ballingskap het die volk en die land in die afgrond in bestuur. Dit is om van te huil.

Esegiël leer ons hiermee dat daar nie net vingers gewys moet word as dinge in ‘n land en regering misluk en leiers met dwase keuses daartoe bygedra het nie. Daar moet doelbewus daaroor getreur word. Die Here se aangesig moet daaroor gesoek word en vir sy ingrype gebid word. Jesus het nie verniet gesê: “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matt. 5:4).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.