Skip to main content

Matteus 3

Johannes die Doper doop Jesus en die Gees vervul Hom

Johannes die Doper begin met sy bediening deur die doop van bekering aan te kondig. Hy waarsku die godsdiensleiers dat skynheiligheid hulle onder die oordeel van God sal bring. Met Jesus se doop in die Jordaan word Hy deur die vervulling met die Heilige Gees as die Geliefde Seun van God verklaar.

Teks en konteks

Johannes die Doper kondig die doop van bekering aan (Matt 3:1-6)
Johannes bedien in die woestyn van Judea, naby die Jordaan, waar mense van Judea en Jerusalem na hom stroom om gedoop te word en hulle sondes te bely. Hierdie doop was simbolies van reiniging en voorbereiding vir die koninkryk van die hemele wat in Jesus aanbreek. Johannes roep op tot bekering, ‘n lewensverandering wat gehoorsaamheid aan God insluit.

Matteus verbind Johannes se bediening aan die profesie van Jesaja 40:3. Sy eenvoudige lewenstyl en profetiese klere herinner aan Elia, en sy invloed is enorm, aangesien talle die doop van bekering aanvaar. Bekering is steeds die sleutel tot ‘n verhouding met God, soos Paulus ook skryf: “Die genade van God … leer ons om nee te sê vir goddeloosheid” (Tit 2:11-12).

Johannes die Doper waarsku godsdiensleiers (Matt 3:7-12)
Johannes konfronteer die Fariseërs en Sadduseërs wat by sy doop kom kyk en waarsku hulle teen skynheiligheid. Hy eis vrugte wat by bekering pas en beklemtoon dat afkoms van Abraham nie voldoende is om God se oordeel te ontsnap nie. Johannes wys uit dat die Een wat ná hom kom, Jesus, met die Heilige Gees en vuur sal doop, en ‘n skeiding sal bring tussen die regverdiges en die onregverdiges.

Groepsbeskrywings:

  • Fariseërs: Konserwatief, met ‘n tradisie wat dikwels die Skrif vervang het. Jesus verkwalik hulle skynheiligheid.
  • Sadduseërs: Liberaal, fokus op aardse sake en ontken die opstanding.
  • Skrifgeleerdes: Kenners van die wet, uit beide Fariseërs en Sadduseërs.
  • Herodiane: Lojale ondersteuners van die Herodes-konings.
  • Esseners: Sekte by die Dooie See, sterk moralisties en sektaries.
  • Selote: Fanatiese opposisie teen Rome, maar een van hulle, Simon, word ‘n dissipel.

Jesus word gedoop en met die Gees vervul (Matt 3:13-17)
Jesus reis van Galilea na die Jordaan om deur Johannes gedoop te word. Johannes huiwer aanvanklik, maar Jesus verduidelik dat sy doop nodig is om “alle geregtigheid te vervul” – gehoorsaamheid aan God se wil. Hierdie daad bevestig Jesus se mensheid en verbind sy bediening aan Johannes s’n.

By Jesus se doop daal die Gees in die vorm van ‘n duif op Hom neer, en ‘n stem uit die hemel verklaar Hom as God se geliefde Seun. Dit simboliseer die begin van God se herskepping deur Jesus.

Boodskap en betekenis
Jesus se doop toon sy gehoorsaamheid en identifikasie met mense. Dit bevestig sy rol as die Verlosser en Seun van God, terwyl die neerdaling van die Gees sy goddelikheid en sending legitimeer.

Deur bekering, gehoorsaamheid en geloof word gelowiges steeds opgeroep om voor te berei op Jesus se wederkoms.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar