Skip to main content

Openbaring 14

Die Lam vergader die kerk as sy eiendom

Openbaring 14 fokus egter op vervolgens op die vervolgde, maar oorwinnende kerk. Dit vorm die hart van die boodskap van Openbaring, want God beskerm sy mense – die vervolgdes op aarde (14:1-5), sowel as dié wat reeds in die hemel is (14:6-13) – vir die ewigheid ten spyte van al die boosheid van hierdie teenstand (14:14-20).

Die hoofstuk skets aan die eenkant die wonderlike toekoms van die gelowiges wat aan God getrou bly, sowel as aan die ander kant die afgryslike toekoms van die ongelowiges wat nie met ontsag vir God gelewe het nie en eerder die dier en sy beeld aanbid het. Dit is nog ‘n prentjie van die wederkoms van die Here Jesus Christus.

Teks en konteks

Die Lam vergader die kerk as sy eiendom – 14:1-6

Die 144 000 mense op Sionsberg is weereens, soos in hoofstuk 7, ’n simbool van die hele volk van God. Hulle het soos “maagde” op onberispelike wyse aan die Here Jesus getrou gebly in die geloofstryd en hulle nie met die wêreld besoedel nie (vgl Deut 23:9-10; 1 Sam 21:5; ook 2 Kor 11:2 waar die hele kerk as ‘n jongmeisie, ‘n “maagd” voorgestel word).

Hulle sing ’n nuwe lied as die eiendom van die Lam in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in die hemel. God se Naam en dié van die Lam is op hulle voorkoppe geskryf.

Waar die vorige visioen van die 144 000 na gelowiges verwys het wat nog midde-in die stryd op aarde is, word hulle hierdie keer as in die teenwoordigheid van die Here self en die ander hemelse wesens geteken. Daarmee dra dit die boodskap dat God in staat is om elkeen wat Hy gemerk het as sy eiendom, te bewaar vir die ewige heerlikheid.

Die finale oordeel en verlossing word aangekondig – Openbaring 14:6-13

Die drie engele wat in hierdie perikoop die oordeel en verlossing wat God bring, aankondig regoor die wêreld, doen dit waarskynlik met die hoop op ’n moontlike inkeer van sommige, hoewel dit tog lyk asof die hoop beskaam.

  • Die eerste engel verkondig die aanbidding van God as die Skepper.
  • Die tweede engel verkondig die val van Babilon (Rome – vgl. 1 Pet. 5:13 waar Rome direk só genoem word).
  • Die derde engel verkondig die oordeel oor dié ongelowiges wat volhard in die aanbidding van die dier en sy beeld.

’n Grusame prentjie van foltering word aan die ongelowiges voorgehou, interessant genoeg, as waarskuwing vir die gelowiges om te bly volhard in die geloof en gehoorsaamheid. Elkeen wat die dier en sy beeld aanbid het en gemerk is met sy teken sal die wyn van God se toorn drink. Hulle sal gepynig word met vuur en swael voor die heilige engele en voor die Lam.

Dink jou dié ewige straf in. Om bedags en snags geen rus te hê nie. Om altyd en ewig jouself te verwyt, het ek maar geluister.

Die Gees roep daarenteen oor dié gelowiges ’n saligspreking uit van ewige rus. Hulle dade volg saam met hulle. Dit is die heiliges wat volhard het in die gehoorsaamheid aan God se opdrag en die geloof in Jesus behou het.

Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel – Openbaring 14:14-20

Dan verskyn iemand net soos die Seun van die mens. Hy verskyn as Koning (kroon) en Regter (sekel). Die uur het gekom vir die oes, omdat die oes van die aarde daarvoor ryp is.

In lyn met die vorige perikoop is daar twee oeste, die graanoes (14:14-16) en die druiwe-oes (14:17-20).

  • Die graanoes kan met die gelowiges wat oorgebly het op die aarde verbind word en word deur die Here Jesus self ingebring, een soos ’n Seun van die Mens (vgl. Daniël 7:13).
  • Die druiwe-oes kan met die ongelowiges verbind word wat deur die engel met die skerp sekel afgesny word en in die groot druiwepers van God se toorn gegooi word.

Die 1 600 stadia waarvan Johannes hier praat, is min of meer 296 km lank. Dit is die hele lengte van Palestina wat meer as ‘n meter diep (tot aan die tooms van die perde) met die “bloed” van die ongelowiges vol raak!

Boodskap en betekenis

Openbaring 14 beeld die oorwinning van die kerk en die uiteindelike skeiding tussen gelowiges en ongelowiges uit. Ten spyte van die vervolging en teenstand wat die gelowiges op aarde ervaar, word hulle verseker van God se beskerming en die finale verlossing. God is getrou en sal sy kinders deur die geloofstryd dra totdat hulle in sy heerlikheid deel.

Die aankondiging van die finale oordeel en verlossing deur die drie engele dien as ’n aanmoediging vir gelowiges om in die geloof te volhard, aangesien hulle uiteindelik die saligheid van ewige rus sal ontvang, terwyl die teenoorgestelde vir die ongelowiges waar sal wees. Hulle sal die ewige straf tegemoet gaan.

Die verlossende oordeel word voltrek deur ‘n finale skeiding van gelowiges en ongelowiges, soos Jesus ook in Matteus 25 verkondig het met die gelykenisse van die vyf verstandige en vyf dwase maagde, die drie slawe met die talente, waarvan een nutteloos was (muntstukke) en die skape en bokke. Hier word die beeld van ‘n graanoes vir die insameling van die gelowiges gebruik en die beeld van ‘n druiwe-oes vir die oordeel oor die goddeloses, wat in die groot druiwepers van God se toorn vertrap word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda