Skip to main content

1 Kronieke 1

Identiteit gewortel in Adam en Abraham

Ons fokus vervolgens op die eerste nege hoofstukke van Kronieke wat in hierdie tyd geskryf is sodat die volk Israel ná die ballingskap weer kon ontdek watter ryk erfenis hulle het en dat hulle daarmee ‘n nuwe pad met God in die hede kon begin loop.

Geslagsregisters in Kronieke

’n Paar opmerkings oor geslagsregisters kan jou help om die sin daarvan te verstaan en selfs te waardeer (met erkenning aan Braun, 1 Chronicles, Word Biblical Commentary).

Geslagsregisters kan horisontaal beskryf word: “Noag se seuns was Sem, Gam en Jafet.” (1 Kron. 1:4) of vertikaal: “Die seun van Salomo was Rehabeam en die geslag loop dan oor Abia, Asa, Josafat …” (1 Kron. 3:10). Wanneer dit beide horisontaal as vertikaal beskryf word (geleerdes noem dit gesegmenteerd), soos baie keer in 1 Kronieke 1-9, druk dit veral die onderlinge verhoudinge tussen die onderskeie vertakkinge van die geslagsregister uit, wat van groot betekenis is om die relatiewe belangrikheid van dié onderskeie geslagte al dan nie te onderskei. Terloops, wanneer sommige persone meer prominent genoem word, of ander heeltemal uitgelaat word, word dit met die term teleskopering beskryf.

Dit verklaar hoekom Juda, die 4de seun van Jakob, daarom in 1 Kron. 3 eerste beskrywe word en in meer detail as die ander seuns van Jakob, veral omdat dit die prominensie van die Dawidshuis bevestig, een van die doelwitte van die Kronis se boek. Die geslagregisters het daarom ook groter waarde as maar net die eksplisiete beskrywing van die bloedlyne wat daarmee uitgelig word en dien om die belang van geografiese, sosiale, ekonomiese, godsdienstige en politiese realiteite te onderstreep.

Die geslagsregisters gee daarmee ’n omvattende historiese oorsig van Israel waarin die kronologiese verbintenis van die terugkerende ballinge met dié wat voorheen daar gewoon het, bevestig word. Die Kronis verbind die Judeërs dus aan hulle eie geskiedenis en vestig hulle identiteit in dié van hulle voorgeslagte.

Dit beteken natuurlik ook dat hy hulle verbind aan God se geskiedenis met Sy volk, ’n God wat lojaliteit aan Hom beloon deur dié te seën wat Hom gehoorsaam, soos in die verhale van Dawid en Salomo uitgespel gaan word. Dit is juis omdat die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse nie hulle verhouding met God in ere gehou het nie, dat hulle weggevoer is, soos die Kronis met hulle geslagsregister in hoofstuk 5 gaan aantoon. Daarteenoor word die omgekeerde met die verhaal van Jabes in die geslagsregister van Juda geïllustreer, hoofstuk 4, om as simbool te dien van hulle getrouheid aan God, uitgedruk deur Jabes se gebedsafhanklikheid.

Twee van die Nuwe Testament evangelieskrywers het ook geslagsregisters in hulle evangelies ingesluit om die verbintenis van Jesus Christus aan Abraham en Dawid se nageslagte te bevestig – Matt. 1:1-17 – sowel as nog verder terug ook aan Adam, “die seun van God” – Luk. 3:23-38.

Dit kan jou baie help in jou leeswerk om met ‘n paar kaarte langs jou te lees. Só kan jy die verspreiding van die stamme en volkere plot terwyl jy lees, sowel as die plekke en streke nagaan waarvan Kronieke praat om só ‘n globale prentjie te kry van die tydvak en konteks waarvan hy skrywe.

Ek beveel sterk aan dat jy die volgende kaart uitdruk om die geslagsregisters geografies te plaas terwyl jy die eerste 9 hoofstukke lees (dit is gratis):

Vir die res van Kronieke kan jy die volgende kaarte gebruik wat jy (letterlik!) per hoofstuk kan nagaan:

Daar is ook ’n uitstekende hulpbron om enige plek of geografiese verwysing in die Bybel na te gaan vir latere gebruik:

Teks en konteks

Fokus op Dawid en die Joodse volk van Juda

Onthou dat die geslagsregisters van 1 Kronieke 1-9 dien om veral die persoon en betekenis van Dawid binne die geskiedenis van die mensdom (Adam-Noag-Abraham) en die Joodse volk (Israel [Jakob]-Juda-Dawid) te plaas. Die Nuwe Testament skrywers, Matteus en Lukas, doen dieselfde met hulle beskrywing van Jesus Christus as gebore uit die nageslag van Adam (Lukas) en Abraham en Dawid (Matteus).

Daarmee beklemtoon die Kronis dat die behoud van familie-bande deur die geslagte heen die sleutel is nie net vir die behoud van nasieskap nie, maar ook vir die behoud van die geloofsgemeenskap. Uiteraard is dit onderworpe aan die regte Godsverhouding, soos dit op vele plekke uitgespel sal word:

  • 1 Kronieke 10:13-14 (Saul word weens ‘n gebrekkige Godsverhouding verwerp);
  • 1 Kronieke 22:12 (die nakoming van die wet van God word vooropgestel);
  • 1 Kronieke 28:9 (Salomo word gewaarsku om getrou aan die Here te bly);
  • 1 Kronieke 29:12 (God se soewereiniteit word geloof).

Maar die afstamming van die geloofshelde van Israel bly ‘n belangrike identiteitsvormende aspek van die geloofsgemeenskap.

Dinamiese lewende geskiedenis wat identiteit vorm

Wat vir ons dus vandag baie maklik as die verveligste dele van die Bybel kan voorkom, hierdie geslagsregisters, was vir die volk na die ballingskap, die tyd van Esra en Nehemia, ‘n dinamiese lewende geskiedenis waarin hulle die band met die verlede kon waardeer, hulleself in die hede in terme van hulle eie afstamming van dié geskiedenis kon plot, en met hoop en verwagting na die toekoms wat God vir hulle beplan, kon uitsien. Die God van Adam-Noag-Abraham-Israel-Juda-Dawid was ook hulle God. Dié dinamiese lewende geskiedenis het hulle identiteit gevorm.

Eksklusiewe verstaan van die Godsvolk

Dit is ‘n perspektief wat waarskynlik tot ‘n baie eksklusiewe verstaan van die volk van God kon lei, en wat na alle waarskynlikheid ‘n deel van die teenstand van die Joodse leiers teen die inklusiewe evangelie van Jesus in die NT kan verklaar, Hy wat armes en melaatses insluit in sy genade, trouens wat aktief meewerk om heidense nasies in die volk van God in te sluit.

Dit kan selfs ook verklaar hoekom die Joodse Christene soveel moeite gehad het met die insluiting van heidense Christene:

  • Die vraag oor die insluiting van heidene in die geloofsgemeenskap word onder andere op die spits gedryf by die “sinode” in Jerusalem. Vgl. Handelinge 15 – Joodse gelowiges wou gelowiges uit die heidene verplig om die Joodse gebruike as lewenswyse te aanvaar, wat gelukkig afgewys is.
  • Die insluiting al dan nie van gelowiges uit die heidene in tafelgemeenskap met die gelowiges uit die Jode lei tot die konflik tussen Petrus-Barnabas en Paulus in Galasië. Vgl. Galasiërs 2 – Petrus en Barnabas skaar hulle by gelowiges uit die Joodse kultuur wat nie wou saam eet met gelowiges uit die heidense kulture nie, en word daarom sterk deur Paulus teengestaan omdat die evangelie van Christus se vryspraak daarmee in die gedrang kom en afhanklik gemaak word van die nakom van die Joodse gebruike.
  • Die gehoorsaamheid aan Joodse gebruike al dan nie is uiteindelik indirek verantwoordelik vir Paulus se inhegtenisname en uiteindelike gevangenskap in Rome. Vgl. Handelinge 22 – Paulus moes sy onderdanigheid aan die Joodse gebruike bewys deur in te staan vir koste van die reinigingsgebruike van 4 Joodse mans en is toe in die proses in hegtenis geneem op aandrang van Jode uit Asië wat hom valslik aangekla het dat hy Grieke in die tempel ingebring het en die tempel só verontreinig het.

Die gedagte dat suiwer familie-bande fundamenteel is om geestelik-godsdienstig suiwer te kan bly, was vir baie Joodse Christene net te moeilik om te laat vaar. Ek vermoed ons sien dit selfs in moderne gestaltes soos in aparte kerkformasies gebaseer op ras-suiwerheid.

Dit wil voorkom asof die skrywer die minder belangrike nageslagte eerste noem, om dan meer volledig op die belangriker nageslag lyn te kan fokus, die Adam-Noag-Abraham-Israel-Juda-Dawid lyn.

Die geslagsregister van Adam – 1 Kronieke 1:1-4

Die tien name van Adam en sy nageslag tot en met Noag word in dieselfde volgorde as in Gen 5:1-31 gelys, net in hulle direkte vertikale liniêre verband, maar sonder enige verdere beskrywing, soos wel die geval is in Genesis 5. Die belang hiervan is egter fundamenteel – dit bind die Joodse geskiedenis aan God se geskiedenis met die nasies van die hele wêreld en verkondig die onvervreembare verbintenis van alle mense aan mekaar. Let op dat die name van Abel en Kain (en sy nageslag) nie genoem word nie (Gen. 4).

Die geslagsregister van Noag – 1 Kronieke 1:5-23

Genesis 10 het meer detail as die Kronis se weergawe van die geslagsregister van Noag met klem op die verspreiding van die nasies oor die aarde, ongeveer 70 in getal, wat tradisioneel as verteenwoordigend van al die mensegroepe in die wêreld geneem word. Daar is eintlik 71, maar sommige geleerdes tel nie die Filistyne afsonderlik nie, omdat hulle deel van die Kaslugiete gevorm het, en ander geleerdes weer nie vir Nimrod nie, omdat hy ‘n Kusiet was, wat hulle by die simboliese getal 70 nageslagte van die oorspronklike 3 seuns van Noag bring. Weereens word die onderlinge verbintenis van mense aan mekaar bevestig.

  • Let op dat die Mediërs (Madai) en Grieke (Javan in die oorspronklike teks), almal nageslag van Jafet, seun van Noag, is, wat in die tyd van die Kronis en veral hierna die botoon internasionaal gesproke sou begin aangee.
  • Die afstammelinge van Gam word ‘n bietjie meer volledig hier aangegee, moontlik omdat Israel deur hulle geskiedenis nader kontak as met die nageslag van Jafet gehad het, waaronder die Filistyne en Kanaäniete. Egipte (Mizraim in die oorspronklike teks) en Ethiopië (Kus) is deel van hierdie nageslag.
  • “in sy tyd is die land verdeel” in 1 Kronieke 1:19 verwys waarskynlik na die verstrooiing by die toring van Babel. Die Hebreeuse woord vir land is presies dieselfde as die woord vir aarde – êrêtz – en net die konteks bepaal watter betekenis ‘n mens gebruik. Omdat die skrywer op hierdie punt juis met die geslagte in die tyd van die verhaal van die toring van Babel werk (Gen 11), is dit meer waarskynlik dat van die verdeling van die aarde gepraat word.
  • Sem se geslagsregister word laaste gelys om dit meer direk te skakel aan dié van Abraham wat net daarna sal volg. Dit is Sem se nageslag uit wie die Messias gebore sou word.

Die geslagsregister van Abraham – 1 Kronieke 1:24-42

  • Let op dat Abram se naamsverandering na Abraham genoem word in vers 27. Dit is baie belangrik omdat die naam Abraham aan die belofte van God gekoppel is dat hy die vader van baie nasies sou wees (Gen 17:5).
  • Let ook op die orde van Abraham se seuns: Ismael word eerste genoem, sonder om Hagar te noem (vgl die oorlog teen die Hagareërs, haar nageslag in 5:18-22), en dan die seuns van Ketura, wie se naam wel genoem word. Dan eers Isak. Sy ma, Sara, word glad nie genoem nie. Tog begin die gedeelte met net die twee seuns se name, Ismael en Isak, en geen-een van Ketura se seuns word genoem nie. Hulle was dus waarskynlik nie as erfgename gereken nie. Let interessantheidshalwe op dat Ismael ook 12 seuns gehad het net soos Jakob dit later sou hê.
  • Ismael se nageslag word in dieselfde volgorde as Gen 25:13-16 gelys. Hulle het waarskynlik in wat ons vandag ken as Noord-Arabië gebly.
  • Ketura se nageslag was waarskynlik Suid-Arabiere (vgl Gen 25:1-4).
  • In vers 36 in die oorspronklike teks word Timna en Amalek net soos dit hier in die NAV vertaal is, aangegee. Maar Timna was eintlik ‘n vrou, soos ons uit 1:39 agterkom, waar sy die suster van Lotan genoem word. Dit is ook hoe Gen 36:12 dit het, dat sy ‘n byvrou was van Elifas, Esau se seun, en die ma van Amalek. Die teks moet dus eintlik verander word na iets soos “by Timna, Amalek”.
  • Die verhaal van Lot word nie in dié geslagsregisters ingesluit nie, omdat hy net ‘n broerskind was van Abraham. Dit is ook insiggewend dat hy juis oos van die Jordaan gaan bly het, en dít die deel van die land is wat eerste in ballingskap weggevoer is (Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse).

Die geslagsregister van die konings van die Edomiete – 1 Kronieke 1:43-54

  • Die lys van konings en stamhoofde kom amper woordeliks ooreen met Gen 36:31-43.
  • Esau se nageslag se verkiesing van konings lank voor Israel dieselfde gedoen het, word spesifiek gemeld. Die lys wys ook dat Edom se konings mekaar nie opgevolg het nie. Elke keer is daar ‘n ander stad betrokke en die konings se name kom nie ooreen met die vorige koning nie. Dat daar later net stamhoofde geregeer het, is waarskynlik aan die veldtogte van Dawid te wyte, wat Edom aan hom onderhorig gemaak het (1 Kron. 18:13; 2 Sam. 8:13-14).
  • Die belang van die geslagsregister van Ismael en Esau, hoewel nie die uitverkore seuns in terme van die Godsvolk nie, is dat dit die antieke verbintenis van Israel as volk aan hulle bure beklemtoon. Hulle geskiedenis kan nooit losgemaak word van wat rondom hulle gebeur nie.

Boodskap en betekenis

Hierdie uitsortering van die geslagsregisters was ‘n uiters tydige inset, want die ballinge het weliswaar teruggekeer na Jerusalem, maar het die gevaar geloop om hulle identiteit as Godsvolk te verloor omdat hulle nie meer die wortels waaruit hulle geloofsgemeenskap gegroei het, geken het nie.

Daarom spandeer Kronieke soveel tyd om die volk se verbintenis aan die mensdom (Adam), die Joodse volk (Abraham) en die Koningshuis van Juda (Dawid) met die eerste nege hoofstukke se geslagsregisters te beklemtoon. Dit word opgevolg in die res van Kronieke met die talle verhale van God se sorg deur die eeue van Dawid af tot in die hede om die volk weer uit te nooi om hulle in ‘n gehoorsame verhouding met Hom te anker. Die verhale het ons egter al gelees.

Met dié perspektiewe wil die boek hulle inspireer om die Here in die hede met hul hele hart te dien aan die hand van hulle identiteit as Godsvolk, sowel as na aanleiding van die konkrete voorbeelde van die geloofshelde van weleer. Daarmee spreek die boek ook tot elkeen van ons wat in Jesus Christus deel van die volk van God geword het en ook Abraham ons vader kan noem (Gal. 3:29). En word ons ook opgeroep om God met ons hele hart te dien in ‘n groeiende geloofsverhouding.

In Esra en Nehemia word daarby die noodsaak van institusionele strukture om die gemeenskap van Israel as gemeenskap te beveilig en bestendig verder beklemtoon, sodat hulle nie net nie sou vermeng met hulle bure nie, maar hulle identiteit as Godsvolk sou kon behou. Vandaar die weiering dat die Samaritane saam kon bou aan die tempel (Esra 4:2), omdat die gevaar van sinkretisme te groot was.

Gevolglik is die klem op die regte geslagsregister geplaas wat ’n groot impak op die Joodse gemeenskap en hulle ontwikkeling sou hê. Hulle identiteit het hiermee ongelukkig ook die gevaar geloop om te skuif na een van afstamming eerder as geloof wat selfs in die latere ontwikkeling van die Christen gemeenskap in die eerste eeu ’n enorme effek sou hê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar