Skip to main content

Handelinge 20:1-2a; 2 Korintiërs 1:1-2:11

God die Vader bemoedig ons in alle beproewings

Ons keer terug na Handelinge 20:1-2a om net die konteks in Efese weer op te tel, vóór ons die volgende brief van Paulus aan die Korintiërs lees.

Ons lees in Handelinge 20 dat kort nadat die oproer in Efese bedaar het, Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat het. Daarna het hy hulle gegroet en na Masedonië toe vertrek onder andere vergesel van Timoteus. Op sy reis deur daardie gebiede (Filippi, Tessalonika, Berea ensomeer) het hy die gelowiges telkens met sy prediking bemoedig.

Hier in Masedonië skryf Paulus 2 Korintiërs saam met Timoteus, waarskynlik in 56 n.C., voordat hy weer by die Korintiërs aangedoen het in die winter (vgl. 1 Kor. 16:6). Tydens sy drie maande besoek daar het hy die brief aan die Romeine geskryf.

2 Korintiërs is ‘n baie interessante brief. Gordon Fee vergelyk bv. 2 Korintiërs met ‘n baie gekompliseerde televisie dramareeks wat jy in die middel daarvan aanskakel. Mense praat en dinge gebeur, maar jy is nie altyd seker wie al die karakters is nie, en wat aan die gang is nie (2002: How to Read the Bible Book by Book)!

2 Korintiërs is dus soos ‘n nuwe wêreld wat jy betree na jy 1 Korintiërs gelees het. In ‘n sekere sin is die enigste direkte raakpunte tussen die twee briewe die kollekte vir die gemeente in Jerusalem (2 Kor. 8-9) en moontlik ‘n voortsetting van die gesprek oor afgode en vleis van afgodstempels in 2 Korintiërs 6:14-7:1.

Tog, is daar ‘n dieper verband: die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor:

  • sy beplande/uitgestelde besoeke (2 Kor. 1:12-2:13; vgl ook 2 Kor. 7:5-16),
  • die kollekte (2 Kor. 8-9),
  • sy apostelskap (2 Kor. 2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte” tipe apostelskap te verduidelik) en,
  • die vals apostels (2 Kor. 10-13; vgl ook 2 Kor. 2:14-4:6).

Vandaar die intense persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2 Kor. 2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (2 Kor. 10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”) afgewissel met die sagte appèl (2 Kor. 6:1, 11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar.

Let op dat 2 Korintiërs deur Paulus en Timoteus geskrywe word, terwyl Sostenes saam met Paulus by 1 Korintiërs betrokke was. Paulus was in dié tyd in Masedonië (2 Kor. 2:13; 7:5), moontlik in Filippi, en het daar van Titus terugvoer gekry oor hoe dit in die gemeente van Korinte gaan (2 Kor. 7:5-7).

Hy skryf aan die een kant omdat hy bly is dat dit beter gaan in die gemeente (2 Kor. 7:2-16), maar ook omdat hy ‘n derde keer (2 Kor. 12:14; 13:1) by hulle besoek sou aflê om onder andere die kollekte vir die gemeente in Jerusalem te ontvang (2 Kor. 8:4,19; 9:1-5) op sy pad daarheen, asook om hulle te waarsku oor die vals apostels (2 Kor. 11:13).

In die proses gee hy ‘n diepsinnige teologiese besinning oor God en die bediening van die versoening, met 2 Korintiërs 2:12-6:10 van die beste prentjies in die Nuwe Testament van die werk van die Gees in ons om God se heerlikheid te weerspieël. Hy maak van ons nuwe skeppings van God (2 Kor. 5:17), sodat ons in die triomftog van die evangelie deur die wêreld hierdie versoening van God met alle mense kan deel. En dit alles gebeur steeds as ‘n kruis-evangelie, deur die bedienaars van die evangelie, die kleipotte wat maklik breek, maar die skat van God aan die wêreld bring.

Teks en konteks

Paulus loof God vir sy bemoediging in beproewing – 2 Korintiërs 1:1-11

Paulus noem homself, soos in 1 Korintiërs 1, weereens ‘n apostel van Christus, deur die wil van God, maar skryf die brief saam met Timoteus (wat vroeër na hulle gestuur is – 1 Kor. 4:17; Sostenes het 1 Korintiërs saam met Paulus geskryf).

Die brief is ook nie net aan die Korintiërs gerig nie, maar aan almal wat aan God behoort in die hele Agaje – die Romeinse provinsie in die suide van Griekeland, waarvan Korinte die hoofstad was (Masedonië was die noordelike provinsie).

‘n Mens sien hier dus ook die eerste brief wat eksplisiet vir meer gehore bedoel is. Ons lei ook af dat die evangelie verderaan in Agaje verkondig is, waarskynlik vanaf Korinte as basis.

Let op hoe spesifiek Paulus die ontferming van God aan sy Vaderskap verbind, ‘n metafoor wat hy reeds in 1 Tessalonisense 2:11 op sy eie bediening van toepassing gemaak het. Die Vader wat die begin is van alles, en oor alles is, is die Een wat in elke omstandigheid, in elke moeilikheid vir ons bemoedig.

Die moeilikheid wat hulle in die proses ervaar ter wille van die boodskap van Christus, word aan die bemoediging wat Hy gee, gekoppel. Alles geskied dus in ‘n intieme verhouding met Christus. En dié bemoediging is bedoel nie net vir hulleself nie, maar ook sodat hulle ander kan bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer om lyding met geduld en volharding te verduur. God red immers nie UIT die nood nie, maar IN die nood (vgl. hoe Paulus later hieroor skrywe in 2 Korintiërs 12, dat as hy swak is, is hy sterk, want dan kom God se krag tot sy volle werking).

Paulus skryf oor die swaarkry wat hulle verduur het in die provinsie Asië – moontlik verwys hy na die oproer in Efese (Hand. 19:21 vv. en 1 Kor. 15:32) – en dat dit so erg was dat hulle selfs die hoop op lewe laat vaar het. Maar God het hulle uit die doodsgevaar gered wat hulle nie net met blydskap gevul het nie, maar ook die hoop gegee het dat Hy hulle ook verder sal red. Interessant is dat hy krediet gee vir hulle gebede vir hom, want dié gebede het meegewerk tot hulle redding (vgl. Openb. 8:3-5 waar Johannes ons gebede verbind aan die uitvoer van God se agenda met die sewe trompette).

Paulus verdedig sy integriteit met verwysing na God se betroubaarheid – 2 Korintiërs 1:12-2:11

Paulus beweeg dan aan na ‘n lang verduideliking van die verandering in sy reisplanne, waarmee hy sy integriteit aantoon deur na sy opregtheid en eerlikheid te verwys. Die verandering het te make met die feit dat hy hulle nie verder wou kom hartseer maak met ‘n persoonlike besoek nie, maar eerder ‘n brief geskrywe het, die sogenaamde “tranebrief” (wat ons nie meer het nie). In elk geval wou hy nie regtig vir hulle hartseer maak nie, maar eerder laat besef dat hy hulle baie liefhet.

Let op hoe Paulus sy integriteit vergelyk met God en Christus se getrouheid, ‘n getrouheid wat die Korintiërs self ervaar het: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom ‘amen’ aan God, tot sy eer.” (2 Kor. 1:20)

Net so seker as wat God dus sy beloftes in Christus sal nakom, net so seker kan hulle hom glo oor sy beweegredes vir die uitstel van sy besoek. Dit is hoe integriteit werk, om jou woord na te kom, soos wat God dit doen!

“Dit is God wat ons saam met julle in Christus ‘n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het, wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.” (2 Kor. 21-22)

Let ook op hoe Paulus hulle in dieselfde asem in hoofstuk 2 aanmoedig om ‘n oortreder te vergewe, sodat hy nie moed verloor nie, anders kan die Satan die oorhand kry. Terloops – hoewel ‘n mens geneig is om hierdie persoon te verbind aan die man wat saam met sy stiefma geleef het (1 Kor. 5), lyk dit eerder asof hy ‘n teenstander van Paulus was, iemand wat hom onder verdenking probeer bring het.

Teregwysing deur die meerderheid is vir Paulus in hierdie geval genoeg. Die persoon moet eerder vergewe en bemoedig word. Hulle liefde aan hom moet herbevestig word.

Boodskap en betekenis

Wat my bybly van hierdie inleiding tot Paulus se boodskap in hierdie brief, is die verwysing na hoe die gebede van die Korintiërs meegewerk het tot Paulus-hulle se redding, en die seën van die Here vir hulle meegebring het. Al God se beloftes is immers in Christus beskikbaar vir vervulling en sy Gees is as waarborg daarvan in ons harte gegee. Dit moedig my aan om meer te maak van my eie gebede vir gelowiges wat regdeur die wêreld die evangelie versprei.

Dit is ook opmerklik hoe Paulus beide die noodsaak van teregwysing as die bemoediging en liefde vir die oortreder beklemtoon. Waar ‘n gemeenskap in liefde aan die waarheid vashou, is dit die gepaste manier om teenoor oortreders op te tree. Waar die gemeenskap egter onder druk van verkeerde lering kom, is ander reëlings nodig, soos Paulus later in sy brief aan die Romeine sal skryf (Rom. 16:17-18).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar