Skip to main content

Esegiël 34

Die Here oordeel die herders van Israel en word self hulle Herder

Gegewe die vorige hoofstuk se geweldige negatiewe beoordeling van beide die agtergeblewenes en die ballinge, sowel as al hulle leiers, is dit geen wonder nie dat hierdie volgende boodskap na Esegiël toe kom.

  • Die Here beveel Esegiël om as profeet op te tree teen die ”herders” wat net vir hulleself sorg en die “kleinvee” laat wegdwaal en oor die aarde laat verstrooi. Die Here maak ‘n end aan dié herders (34:1-10).
  • Die Here belowe Hy sal self sy kleinvee se herder wees. In verbondstaal belowe die Here: “Julle is my kleinvee, julle is die volk vir wie Ek sorg, en Ek is julle God.” (34:11-31).

Teks en konteks

Esegiël 34:1-10 – “Ek gaan optree teen die herders.”

Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg.” Dit is nie asof die volk verskoon word deur hierdie uitspraak nie. Daarvoor was die Here te duidelik in die vorige hoofstukke oor die afvalligheid en hardkoppigheid van sy mense. Maar, van leiers word meer verwag as dat hulle net vir hulleself sorg. Met die metafoor van die herder en sy kleinveekudde, word die leiers veroordeel omdat hulle die melk, wol en vleis van die kleinvee geniet, sonder om vir hulle te sorg. Die gesonde kleinvee word nie waardeer nie, en die swakkes en siekes nie gehelp en gedokter nie. Die afgedwaaldes word nie gesoek en teruggebring nie.

Julle was harde en wrede regeerders,” is die oordeel van die Here. Daarom straf Hy die wrede herders en verwyder hulle uit hulle posisie sodat die kwaad wat hulle doen nie langer ‘n verwoestende uitwerking op die kleinvee sal hê nie.

Esegiël 34:11-31 – “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.”

Daarom sê die Here: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.” Die Here skilder ‘n prentjie van ‘n totale transformasie wat duidelik messiaanse kenmerke het, nie net 1) met die versorging op die berge, in die klowe en in al die woonplekke van die land nie, maar ook 2) in die regverdige oordeel tussen skaap en skaap, en skaap en bok (vgl. Matt. 25 se eindoordeel tussen die skape en die bokke), sowel as 3) in die herstel van herderskap van God se dienaar Dawid (34:23 – vgl. Luk. 15:1-7 se gelykenis van die verlore skaap, sowel as die twee ander wat daarop volg, die gelykenis van die verlore muntstuk en die verlore seun).

Die Here wys hiermee sy bewussyn van die feit dat sommige skape (en bokke) die beste gras afgewei het, die oorblyfsel vertrap het en so baljaar het in die water dat niemand ná hulle dit kon drink nie. Daarom oordeel die Here tussen die “vet skape en die maeres”. Hy bring gelykstelling in sy oordeel, sodat al het sommige skape gely en gekrepeer, selfs ten sterwens toe, Hy hulle status herstel sodat hulle nie meer uitgelewer is aan boelies en uitbuiters nie.

‘n Mens hoor hierdie perspektief weerklink in die verhaal wat Jesus vertel oor die arm Lasarus wat by die deur van die ryk man gelê het in die hoop dat hy van die oorskiet van sy tafel te ete sou kry, maar verniet. Geen wonder dat die ryk man vir water vra om sy tong af te koel in die pyniging wat hy in die doderyk verduur, maar verniet … (Luk. 16:19-31). Die pyn wat ons in hierdie lewe verduur, weeg nie op teen die pyn wat ons in die lewe hierna sou kon verduur nie.

Dit beteken ook dat die Here nie net die slegte leiers sal uitsorteer nie. Hy sal ook die slegte mense uitsorteer, mense wat op soortgelyke wyse as die slegte leiers, nie omgee vir ander nie, en nie sorg dat die reg en die waarheid seëvier nie, en net sorg dat hulle aan die wenkant bly in die samelewing en gemeenskap.

Die Messiaanse trekke van die beskrywing van die vrede en oorvloed wat God se volk onder sy Dawidiese herder – wat eintlik niemand anders as die Here is nie – sal beleef, word in gloeiende taal beskryf – geen roofdiere, veilig in die weiveld, kan slaap in die bosse, reëns op die regte tyd, bome lewer vrugte, grond lewer opbrengs, geen slawerny, geen vrees vir ander nie, geen hongersnood en geen vernedering nie: “Hulle sal besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is en dat hulle my volk Israel is.” Hyself sal hulle Herder wees.

Sjoe, watter prentjie om na uit te sien, selfs ook vir hierdie lewe, waar die Here dit vir ons ten dele laat waar word!

Terloops, dit is waarskynlik dat die Here Jesus Esegiël 34 gelees het vóór Hy die gelykenisse en verhale in Lukas 15 en 16 vertel het, sowel as vóór Hy Homself as die “Goeie Herder” in Johannes 10 beskryf het. Dit lei ‘n mens af nie net uit die ooglopende ooreenkomste in metafore nie, maar ook uit die kleiner detail, soos die ooreenkoms tussen die metafoor van die: “vet skape en die maeres” met die verhaal van Lararus en die ryk man.

Boodskap en betekenis

Hierdie is ‘n woord wat goed pas in die ontwrigtende tyd van die ballingskap. Beide die agtergeblewenes en die ballinge is in die steek gelaat deur hulle leiers. Maar die misbruik van die agtergeblewenes se meerderheidsmag in Juda (hulle steel die ballinge se grond), sowel as die saampraat in veroordeling daarvan deur die ballinge in Babel, terwyl hulle self nie doen wat die Here vra nie, staan onder die oordeel van die Here.

Die volk is dus net so skuldig soos hulle leiers, hoewel die Here beter van die leiers verwag het. Hy weet immers hoe kragtig die mag van ‘n leier in sy gemeenskap is wat stewig staan vir die reg en die waarheid. Wat ook verklaar hoekom Hy uiteindelik die roete van die “Goeie Herder” kies, soos Johannes 10 ons vertel.

Dit is daarom ook ‘n woord wat baie goed pas by enige situasie waar regeerders net vir hulleself sorg en nie waarderend en omarmend teenoor hulle volgelinge optree nie; waar die reg en die waarheid vertrap word deur diefstal en leuens. Maar dit is daarom ook nie net die regeerders wat aangespreek word en veroordeel word nie. Elke mens is verantwoordelik om te luister na God en die reg en die waarheid na te streef. Dít is diegene vir wie die Here die “Goeie Herder” sal wees.

Dit is dié vir wie Hy reg sal laat geskied en vir wie Hy sal sorg dat hulle goeie weiding kry, in dié lewe, en nog meer só in die lewe wat kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…