Skip to main content

1 Samuel 1

Die Here het aan haar gedink

Tydperk

Die verhale waarvan die twee boeke Samuel – dit is eintlik een boek wat in twee boekrolle oorgelewer is – ons vertel, vind in die 11de tot die vroeë 10de eeu vC plaas. Daar is verskil van mening oor die presiese tydperk wat Samuel gelewe het, maar Saul se regeringstyd kan met redelike sekerheid vasgestel word as van 1051-1011 vC en Dawid s’n van 1011-971 vC.

Dit was ‘n tydperk van groot plaaslike konflikte in Israel, veral tussen Israel en die Filistyne, soos ons in die bekende verhaal van Goliat lees (1 Sam 17). Volgens geleerdes het Egipte nie meer veel invloed in Kanaän gehad nie. Die plaaslike volkere het dus meegeding met mekaar om oorheersing.

Wat uitstaan van die verhale in Samuel is dat dit geskryf is in die lig van die seëninge en vervloekinge van die verbond wat God met die volk Israel gesluit het waarvan veral Deuteronomium ons vertel. Waar Israel en sy koning Jahwe se voorskrifte gevolg het, het hulle sy seëninge en voorspoed ervaar. Maar, waar Jahwe se gebooie teëgestaan en verwerp is, het hulle allerlei vervloekinge en teenspoed ervaar.

Outeur

Tradisioneel is Samuel as skrywer geag van 1 Samuel 1-24 (dws tot met sy dood wat in 1 Sam 25:1 vermeld word), en die profeet Natan en die siener Gad vir die res van 1 Samuel 26-31 en 2 Samuel 1-24. Dit is gebaseer op die inligting in die Kronieke boek:

29Die vroeëre en latere geskiedenis van koning Dawid, kyk, dit is opgeteken in die Geskiedenis van die siener Samuel, in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad, 30met ‘n weergawe van sy hele koningskap en sy magtige dade; en ook die lotgevalle wat hom en Israel en al die koninkryke van die aarde oorgekom het. (1 Kron 29:29).

Trouens, uit die ander verwysings in die Vroeë Profete is dit duidelik dat daar ten minste vyf bronne beskikbaar was uit hierdie tyd: die Kronieke van koning Dawid (1 Kron 27:24), die Geskiedenis van die siener Samuel (1 Kron 29:29), die Geskiedenis van die profeet Natan (1 Kron 29:29) ), en die Geskiedenis van die siener Gad (1 Kron 29:29). Daar is ook verwysings na die Boekrol van die Opregte (Jashar in Hebreeus) waarin Dawid gebeure laat opteken het (2 Sam 1:18 –– vgl ook Jos 10:13).

Alhoewel dit nie bewys kan word dat die skrywer van 1 en 2 Samuel hierdie bronne gebruik het of selfs toegang gehad het daartoe nie – want, ons beskik nie meer oor hierdie bronne nie – is dit redelik om dit te beskou as moontlike of selfs waarskynlike bronne vir die inligting wat in die kanonieke boek van 1 en 2 Samuel aangebied word (Bergen, 1,2 Samuel).

Die hand van ‘n redakteur is ook sigbaar in die twee boeke. Dit kan ‘n mens aflei uit bv die verwysing na “die konings van Juda” wat duidelik op die tyd van die verdeelde koninkryk ná Salomo dui, en die frase “tot vandag toe” wat ook op ‘n tyd ná die tyd van die oorspronklike skrywers dui (1 Sam 27:6).

Die basiese inhoud van die twee boeke kan dus Bybels gesproke aan dié drie profete se skryfwerk gekoppel word sowel as aan Dawid self. Hoewel talle geleerdes hierdie inligting nie aanvaar nie, is daar geen wesenlike rede om die Bybel se eie getuienis te verwerp nie.

Struktuur van 1 en 2 Samuel

Dit verhale van drie groot leiers van Israel vorm die struktuur van die twee boeke.

  1. Die eerste siklus van verhale is dié van Samuel. Hy word as rigter-profeet-priester aangestel om die openbaring van die Woord van God te herstel in Israel: 1 Samuel 1 – 7.
  2. Die tweede siklus van verhale is dié van Saul waarin Dawid ook sy opwagting maak. Ons sien met sy aanwysing as koning ‘n nuwe struktuur in Israel, dié van koninklike dinastieë. Die konings is deur ‘n profeet aangestel en was veronderstel om die Here sowel as sy profeet te gehoorsaam. Die koning word daarom aan die hand van sy gehoorsaamheid aan Jahwe en sy gesante, al dan nie, beoordeel. Dit vorm natuurlik die basis van die konflik tussen Saul en Dawid, want God verwerp baie gou vir Saul deur sy profeet Samuel oor Saul se ongehoorsaamheid en verkies vir Dawid, omdat sy hart aan die Here behoort het. Die siklus eindig met Saul se dood: 1 Samuel 8 – 31.
  3. Die derde siklus van verhale is dié van Dawid wat reeds in die eerste boek as koning aangestel word, maar wie se koningskap die hoofinhoud van die hele tweede boek vorm. Vanweë sy gehoorsaamheid sluit Jahwe met Dawid ‘n verbond met die belofte van ‘n ewige Messiaanse koninkryk daaraan gekoppel. Selfs met Dawid se erge ongehoorsame en destruktiewe keuses bly die verbond staan weens die feit dat hy telkens in berou en bekering hom wend tot die Here: 2 Samuel 1 – 24.

‘n Paar perspektiewe op die inhoud

Twee groot bewegings word met hierdie drie siklusse aan die orde gestel in die ontvouende heilsgeskiedenis van Israel.

  1. Die oorgang na ‘n meer gestruktureerde bestaan van die volk Israel:
  • van die rigter-priester, Eli, na die rigter-profeet-priester, Samuel, omdat Eli nie die eer van die Here beskerm en aan Hom gehoorsaam gebly het nie en Samuel wel;
  • van die priesterlike dinastie van Eli na die priesterlike dinastie van Sadok wat die verreikende gevolge van verkeerde keuses uitwys, selfs van passiewe keuses;
  • van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul;
  • van ‘n koning wat sy eie pad volg, Saul, na ‘n koning wat aan God gehoorsaam is, Dawid;
  1. Die vestiging van die ware aanbidding van God:
  • die ark – die “eer van Israel” (1 Sam 21-22) – speel daarin ‘n belangrik rol: die ark is die simbool van die ware plek van ontmoeting met God;
  • die uiteindelike keuse van Jerusalem as die plek vir die ark in die heiligdom van God;

Ons sien in die verhale ook hoe ware leierskap werk:

  • Die storie van die konings is die storie van die volk. Wat met die leier gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.
  • Daar is maar net een manier om leierskap te beoefen, en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe. Want, God is soewerein en aan die werk agter die skerms in die wel en lewe van die volk soos dit ‘n neerslag vind in die onderskeie leiers wat die Here aan- of afstel.

Die karakters in die boek is verder soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en uit wie se lewenskeuses ons lewenslesse leer:

  • Eli se reaktiewe en passiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel. Hy kon wel vir Samuel aan die Here bekendstel, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd. Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku dat God as die eintlike koning geeër moet word. En hy leef met integriteit. Niemand kon ‘n vinger na hom wys oor iets wat hy verkeerd gedoen het nie. Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool. Samuel staan onder almal bekend as die een wat regtig die stem van die Here kan hoor.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap. Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei. Aanvanklik was Dawid se gehoorsaamheid ‘n ongelooflike bate vir die volk. Maar na sy ongehoorsaamheid met Batseba staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n harde leerskool vir hom was. Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

Let terloops ook op in die deurlees van die boek na ‘n paar idiome wat hulle weg tot in die Afrikaanse taal gevind het: ’n man na God se hart (1 Sam 13:14); daar is maar net een tree tussen my en die dood (1 Sam 20:3); hoe het die helde geval? (2 Sam 1:27).

Teks en konteks

Die eerste hoofstuk fokus op die gelofte van Hanna wat die Here beantwoord deur die geboorte van Samuel – 1 Samuel 1:1-20 – en die nakoming van haar gelofte deur Samuel by die huis van die Here te laat grootword – 1 Samuel 1:21-28.

Elkana en sy twee vroue het in Ramatajim Sofim in die stamgebied van Efraim gebly. Elkana word ‘n Efraimiet (1:1) genoem sowel as op ander plekke in die OT as van Levitiese afkoms (Jos 24:33; 1 Kron 6:33-34). Die naam Ramatajim was ook bekend met die verkorting Rama (1 Sam 1:19; 7:17), en is die plek vanwaar Samuel later as rigter, priester en profeet optree. Dit was 8 km noord van Jerusalem (Samuel is ook daar begrawe – 1 Sam 25:1). Die dorp was op die grens van die stamgebied van Benjamin en Efraim (hoewel daar ‘n paar verskillende teorieë daaroor is onder andere dat Ramatajim eerder met Arimatea geïdentifiseer moet word, die tuisdorp van Josef van Arimatea, in wie se graf Jesus in Jerusalem begrawe is – Matt 27:57).

Die drie karakters se name is van betekenis:

  • Elkana se naam beteken: “God het geskep”. Die naam het dus moontlik betekenis in terme van wat God deur hom en sy vrou gaan doen.
  • Hanna was sy eerste liefde, maar egter kinderloos. Hanna se naam beteken “genade” of “genadig” (gracious). ‘n Naam wat swanger is aan belofte – woordspeling intensioneel (pun intended) – ook in terme van wat God deur haar gaan doen.
  • Pennina was Elkana se tweede vrou met wie hy moontlik getrou het met die oog op ’n nageslag. Peninna se naam beteken “juweel” of “robyn” en het haar naam gestand gedoen in terme van die tien kinders wat sy vir Elkana gegee het. Sy het egter haarself daaroor verhef bó Hanna wat haar naam ‘n ironiese betekenis gee.

Dat Hanna kinderloos was, is binne die Bybelse konteks egter nie noodwendig ‘n negatiewe feit nie. Hanna se kinderloosheid het haar aan die een kant met die soortgelyke situasie van die aartsmoeders, Sara, Rebekka, en Ragel, verbind, wat ook vir lank kinderloos was. Die konflik met haar “mededinger” soos Pennina beskryf word, bring daarby ook die konflik tussen Sara en Hagar in spel.

Maar, terselfdertyd bring daardie verhale ook die perspektief in spel dat kinders ’n geskenk is van die Here. Hy sluit die moederskoot toe as soewereine God en Hy sluit die moederskoot oop. Hy is die Here, die Heerser oor alle magte (die hemelse en aardse lëermagte van God), soos beide Elkana met sy jaarlikse pelgrimstog na Silo en Hanna in haar gebed by die huis van die Here erken het (1 Sam 1:3, 11).

Dit is op dié soewereine God waarop Hanna haar hoop geplaas het om soos in die verlede met die aartsmoeders ook vir haar ‘n kind te gee.

Dit is insiggewend dat Elkana verby die plaaslike heiligdomme Sigem en Mispa – wat nader was aan sy blyplek – gegaan het na die heiligdom van Silo (32 km noord van Jerusalem), heel moontlik omdat die ark daar was nadat Josua Silo as die rusplek van die tent van ontmoeting uitgekies het (Jos 18:1). Dit getuig van Elkana se absolute lojaliteit aan die Here.

Die huis van die Here waarvan hier gepraat word, was heel moontlik ’n houtstruktuur (1 Sam 1:9 praat van die deurkosyn; 1 Sam 3:15 praat van die deure van die huis van die Here) op die patroon van die tabernakel. Dit is ook moontlik dat dit as ‘n meer permanente struktuur bo-oor die tabernakel gebou is, waarna dus as ‘n “tempel” verwys kon word (1 Sam 1:9; 3:3).

Die gebou is in elk geval kort hierna verwoes met die buitmaak van die ark en die verwoesting van Silo. Samuel gaan bly daarna in sy tuisdorp Rama (1 Sam 7:15-17).

Wanneer die ark uiteindelik in Dawid se tyd terugkom na Jerusalem (2 Sam 6) word dit geplaas in die tent wat Dawid daarvoor gereed gemaak het, moontlik weer gebou op die patroon wat in Eksodus voorgeskryf is.

Hanna beskrywe haarself as ’n dienares van die Here (1:11), ’n voorloper van hoe haar seun die Here sou antwoord: “U dienaar luister”. Let op dat sy ‘n gelofte aan die Here doen (1 Sam 1:11 – sy is die enigste vrou in die Bybel waarvan ons eksplisiet lees dat sy ‘n gelofte afgelê het) en dat Elkana ná Samuel se geboorte dié gelofte betaal (1 Sam 1:21; vgl Numeri 30 wat die riglyne hieroor uitgespel het).

Let ook op dat sy nie via die priester Eli bid nie, maar direk tot God. Dit is anders as haar voorganger aartsmoeders. Nie Sara, of Rebekka, of Ragel het tot God gebid rondom hulle kinderloosheid nie. Hulle mans wel. Veral Isak se volharding in gebed vir 20 jaar vir ‘n kind staan uit.

Maar, hier bid Hanna direk tot God, ‘n uitstaande voorbeeld van ‘n vrou wat ‘n diep geestelike pad met die Here self geloop het. Let op dat sy nie eers vir Eli noem wat haar versoek aan die Here was nie. Sy het haar antwoord van die Here self verwag. Verstommende voorbeeld van geloof vir almal wat ná haar sou bid vir die Here se ingrype.

As deel van haar gelofte aan die Here belowe sy dat Samuel ‘n Nasireër sal wees – “‘n skeermes sal nie oor sy kop gaan nie”, dws hy sal aan die Here gewy wees (1 Sam 1:11; vgl Num 6:5).

Let op hoe sy vra vir genade. Dit is baie betekenisvol! Dit wat haar naam “Genade” reeds van haar gesê het.

Sy pleit by Eli dat hy haar nie as ‘n “deugniet” of “slegte vrou” sal beskou nie ( in kontras dus met mense soos bv Hofni en Pinehas wat met die manlike weergawe van daardie frase beskryf word – 1 Sam 2:12), maar dieper sal kyk en haar kommer en ontsteltenis sal raaksien. Wat Eli dan ook inderdaad doen en met ‘n groot belofte van die Here laat reageer: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het…” – let op dat hy ook nie vra wat dit is wat sy in die stilte van haar hart van die Here gevra het nie – “…toestaan.” God sal haar genadig wees.

Eli het duidelik ‘n sagte hart gehad. Hoewel dit beteken het dat hy sy seuns nie aangespreek het vir hulle sonde nie, en hy die toekoms van sy hele familie daardeur in gedrang gebring het, het hy tog vir Hanna met ‘n goeie gemoed laat weggaan. Haar gemoed lig die oomblik toe sy bevestiging kry dat sy geantwoord sal word, en weet die saak is in die Here se hande.

Interessant dat sy Samuel se naam kies, iets wat normaalweg aan die vader oorgelaat is. Samuel se naam beteken: “naam van God”, of: “sy naam is God”, wat ook ‘n woordspeling inhou met ‘n Hebreeuse frase wat baie dieselfde klink en: “gehoor deur God”, beteken.

Die Here verhoor dus Hanna se gebed met die geboorte van Samuel. Sy hou ook by haar gelofte deur hom ná sy hom gespeen het – ongeveer drie jaar oud (vgl 2 Makkabeërs 7:27 wat die gebruik om drie jaar ‘n kind te speen, verduidelik) – aan die Here te wy by die huis van die Here in Silo.

Die Hebreeuse teks vertel vir ons dat Elkana drie bulle gebring het vir die offers – ‘n baie rojale geskenk. Die Griekse teks vertel vir ons egter van net een driejaar oue bul met die implikasie dat Elkana die bul moontlik doelbewus by Samuel se geboorte gekies het om as gelofteoffer te dien.

Jy sal sien dat die vertalings vir óf die Hebreeuse óf die Griekse weergawe kies – die 1953-vertaling volg die Hebreeuse teks, en die 1983- en 2020-vertaling volg die Griekse teks – afhangende van die vertaler se perspektief.

Dit maak egter vir my meer sin om die Hebreeuse weergawe te volg, omdat dit waarskynlik is dat daar drie offers nodig was in hulle situasie: die jaarlikse brandoffer, die maaltydoffer waarvan hulle self geëet het, en die gelofteoffer. Dat vers 25 dus net die een bul wat geslag is, vermeld, beteken nie dat die ander bulle nie ook as deel van die ander twee offers geslag is nie. Na my mening vermeld die Hebreeuse teks in vers 25 net die een bul (van die drie) wat as gelofteoffer geslag is in vervulling van Hanna se gelofte om Samuel aan die Here af te gee.

Boodskap en betekenis

Die oorhoofse teologiese insig wat die verhaal van Israel en veral die lewensverloop van die individuele karakters in die boek van Samuel vir ons gee, is dat God soewerein is. Daarbenewens is Hy altyd aan die werk, meesal agter die skerms. Ons sien dit reeds hier in hoofstuk 1. Toe almal gedink het dit is klaar met God se teenwoordigheid in Israel was Hy alreeds besig om deur ‘n kinderlose vrou ‘n glorieryke toekoms vir sy volk voor te berei.

Dit is ook insiggewend om die teenstelling tussen twee families reg aan die begin van die boek te sien. Aan die een kant die familie uit die platteland wat die Here op oorvloedige wyse aanbid het (hulle bring drie bulle as offers!). Aan die ander kant die priesterlike familie, Eli, Hofni en Pinehas wat hulle posisie gruwelik misbruik het. Eli deur sy passiewe nalatigheid. Hofni en Pinehas deur hulle aktiewe ongehoorsaamheid.

Geen wonder dat die Here die familie van Elkana se toewyding raakgesien het en uiteindelik nie net aan hulle gedink het nie, maar aan sy volk. Dieper nog. God se gawe aan Hanna, haar seun Samuel, is tegelykertyd God se begin van beide die profeteskool beweging sowel as die monargie in Israel. Die Here het dus nie net aan Hanna gedink nie, maar ook aan sy volk en wat Hy vir hulle beplan!

Ons sien hierdie teenstelling regdeur die boek van Samuel. Byvoorbeeld, daar is maar net een manier om leierskap te beoefen (soos Dawid, nie soos Saul nie). Daar is maar net een manier om jou lewe effektief te leef (nie nie soos die deugniet Nabal nie, maar wel soos sy vrou, Abigajil).

Dit onderstreep die boodskap dat almal opgeroep word om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe. Die verhaal van Samuel se gretige gehoorsaamheid reg aan die begin van die boek lei daardie perspektiewe in, veral in die kontras wat sy lewe vir ons gee met die gierige ongehoorsaamheid van Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas.

Dit leer ons dat ons kleiner verhale – bv van kinderloosheid – deel is van God se groter verhale – van grootskaalse verandering. God nooi jou vandag uit om te bly bid vir jou behoeftes. Hy wil dit antwoord.

Die wonder is, dat God ons gebede antwoord binne die groter konteks van wat Hy met hierdie wêreld beoog. Iets wat in die geboorte van Jesus volledig sigbaar geraak het. Iets wat ook in jou lewe kan gebeur.

Soos Jesaja jare later ons motiveer om die Here elke dag te herinner aan sy beloftes:

“Gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie!”

Totdat Hy antwoord en sy beloftes in jou en ander se lewens vervul (Jes 62:6-7).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar