Bybelskool

Geloofsgewoontes

Drie basiese geloofsgewoontes

Hier is die drie basiese geloofsgewoontes wat deur die eeue gelowiges gehelp het in geloofsvorming.

  1. Die eerste is die daaglikse ondersoek in gebed.
  2. Die tweede is die geestelike lees van die Bybel.
  3. Die derde is die beoefening van die teenwoordigheid van God.

Soos ‘n mens groei in die beoefening van hierdie drie geloofsgewoonte verdiep jou geloof en groei jy in geestelike volwassenheid.

1. Die daaglikse ondersoek in gebed

Die eerste geloofsgewoonte fokus op selfondersoek.

Dit lê jou diepste motiverings en bedoelings in die lewe bloot sodat jy deur God se krag daarvan verlos kan word.  Deur die eeue is daar drie basiese dinge geïdentifiseer wat veral in dié suiweringsproses gebeur.  Jy raak bewus van jou hoogmoed, wellus en gierigheid en word daarvan verlos.

2. Die geestelike lees van die Bybel

Die tweede geloofsgewoonte is die geestelike lees van die Bybel.

Dit laat God se Woord toe om tot in die diepste dele van jou menswees te skyn. Jy lees nie net die Woord vir inligting nie, maar dink ook na oor die praktiese betekenis van die teks vir jou lewe en word deur die Woord gevorm en verander.

3. Die beoefening van die teenwoordigheid van God

Die derde geloofsgewoonte het te make met die ervaring dat God se wil en strewe jou lewe so vol maak dat die lewe vir jou Christus word.

Jy leer om elke dag al hoe meer bewustelik in die teenwoordigheid van die Here te lewe, totdat jou hele lewe deur God gestempel word.

Al drie hierdie geloofsgewoontes is belangrik. ‘n Mens kan kies om jou dag af te sluit met die daaglikse ondersoek, die dag te begin met die geestelike lees van die Bybel en deur die dag te fokus op die beoefening van die teenwoordigheid van God. Of jy kan kies om die eerste twee te kombineer in jou stiltetyd (soos ek dit verkies) en steeds die derde geloofsgewoonte te beoefen deur die dag.

Joernaal

Vir al drie hierdie geloofsgewoontes is dit belangrik om een of ander vorm van joernaal te hou.  Dit help jou om jou gedagtes neer te skryf en só op ‘n geestelike reis te gaan met die Here.

‘n Joernaal help jou om gefokusde aandag te gee aan die dinge wat gebeur in jou lewe.  Dit help jou om bewustelik en sistematies te reflekteer oor jou verhouding met die Here. Soos Psalm 16:8 sê: “Ek hou die Here altyd voor oë.”  Dit help jou veral om God se teenwoordigheid en betrokkenheid in jou lewe te begin raaksien.  Benewens die feit dat die neerskryf van jou ervarings jou help om dit te verwoord, vorm dit mettertyd ‘n skriftelike rekord van jou verhouding met God.

‘n Joernaal kan daagliks of weekliks gehou word.  Dit is baie persoonlik en moet aanpas by jou lewensfase of manier van werk.  Soos Adele Calhoun sê: “Journaling is a way for you to be with God and your thoughts, not an exercise in language arts.”  Daarom moet jy dit ook so eerlik as moontlik doen, sodat jy God se pad met jou kan raaksien.  In die periodieke nadenke en refleksie oor wat jy geskryf het, kom jy herhalende temas in jou lewe agter wat jou sal help om jou behoeftes, frustrasies en verwagtinge in lyn met God se doel en wil vir jou lewe te bring (Fil. 4:4-9).

‘n Joernaal is ook veral waardevol wanneer jy deur tye van verandering gaan en dit jou kan help om rigting binne jou veranderende omstandighede te vind.  God is immers betrokke in alles wat met jou gebeur, ook in tye van verandering.  ‘n Joernaal help jou om veral die herhalende patrone en rigting van God se werk in jou lewe raak te sien.

‘n Joernaal kan baie verskillende vorme aanneem.  Hier is ‘n paar idees:

  • Begin deur net jou ervarings daagliks of weekliks neer te skryf.
  • As daar artikels is wat ‘n betekenisvolle impak op jou verhouding met God gehad het, oorweeg om dit te versamel en in jou joernaal te plak met jou kommentaar daarby (in ‘n boek of elektronies).
  • Sommige mense vind dat daar gedigte of aanhalings is wat hulle tref en help in hulle reis met God.  Skryf dit neer of plak dit in jou joernaal.
  • Ander mense werk meer visueel en sal baat vind om simbole of grafika van die dinge wat hulle raak in hul reis met God in ‘n joernaal te plaas.
  • Fokus óf op jou private verhouding met God óf op jou persoonlike reis in jou werk of bediening. Jy kan dit ook afwissel of kombineer.
  • Skryf jou gebede in jou joernaal neer.  Dit help jou om God se antwoorde op jou gebede raak te sien.
  • Jy kan ook fokus op dinge waaroor jy dankbaar is– ‘n dankie-sê joernaal (gratitude journal).  Jy kan dit ook met ander reisgenote deel – hetsy in jou familie- of vriendekring.
  • Neem van tyd tot tyd bestek op van wat jy geskryf het, en probeer patrone of fases in jou verhouding met God raaksien.  Bring dit in gebed na die Here en vra vir insig en wysheid.
  • Jy kan só ‘n joernaal ook hou in jou nadenke oor iemand ná aan jou, ‘n kind se gesegdes en ervaringe in die grootword proses, wat ‘n besondere geskenk kan wees as hy of sy mondig word of die volwasse lewe begin.

Hoe jy dit doen, kan baie verskil, maar dat jy dit op een of ander manier doen, is belangrik. Kies dus ‘n manier wat vir jou sal werk en kombineer dit met die daaglikse ondersoek óf die geestelike lees van die Bybel.

Kies ‘n geloofsgewoonte

Ek stel voor dat jy die geloofsreis as volg doen:

  1. Week een tot twee doen jy elke dag die daaglikse ondersoek soos ek dit voorskryf.
  2. Week drie tot vier konsentreer jy op die geestelike lees aan die hand van die voorbeeld wat ek gee.
  3. Week vyf tot ses konsentreer jy op die beoefening van die teenwoordigheid van God volgens een of meer van die voorbeelde wat ek gee.

Herhaal na ses weke nog twee keer

Na ses weke herhaal jy nog twee keer die proses en gebruik elke twee weke van die ander voorbeelde wat ek by die onderskeie geloofsgewoontes gee. Jy sal agterkom dat daar voorbeelde is wat vir jou beter werk as ander.

Ná jy 18 weke op hierdie reis was, sal die geloofgewoontes goed genoeg ingeoefen wees om dit deel van jou normale geloofsreis te maak.

Begin hier

Klik op die inleiding van die geloofsgewoonte wat jy gaan beoefen om jouself te oriënteer. Daarna klik jy op die skakels hieronder soos jy vorder met die proses. Elke twee weke sal ek ‘n ekstra geloofspraktyk laai by elke geloofsgewoonte wat jy dan kan inspan op jou geloofsreis.

Geniet!

Daaglikse ondersoek

Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 1-2. Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 7-8. En die derde een in week 13-14. Ek gee daarna ook ekstra geloofspraktyke indien jy nog verder wil werk hieraan.

Geestelike lees

Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 3-4.  Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 9-10. En die derde een in week 15-16. Ek volstaan met dié drie geloofspraktyke.

Beoefen die teenwoordigheid van God

Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 5-6.  Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 11-12. En die derde een in week 17-18. Ek gee daarna ook ekstra geloofspraktyke indien jy nog verder wil werk hieraan.

     

Onlangse kommentaar

  • Avatar

    Dieter Kreft

    |

    Naand se Dominee,

    ek is orrelis van ‘n gemeente in Kaapstad wat besig is om met ‘n ander een saam te smelt. Dit gaan gepaard met bietjie struweling, wat seker natuurlik is. Ek het gewonder hoekom psalm 133 so onbekend is? Amper as of hy nooit gesing was nie. Dalk kan jy bietjie lig daarop skyn

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Abe, ek kan nie nou vinnig my hand daarop lê nie, maar hier is ‘n verduideliking as deel van ‘n liturgie wat op my rekenaar is:

    Die liturgie is gebaseer op die Paasmaaltyd wat deur Christen-Jode gevier word. Die belangrikste elemente het waarskynlik ook deel uitgemaak van die laaste maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels gehad het die aand voor sy kruisiging.
    GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
    Aansteek van die kerse (’n groot wit Christuskers en 12 pers kerse)
    Lofprysing
    Prys die Here, ons God, die ewige Koning!
    Hy het sy enigste Seun, Jesus die Messias, gestuur as die Lig vir die wêreld en as ons Paaslam.
    Deur Hom mag ons lewe.
    Aanvangswoord
    Voorganger: Kom laat ons saam tot Jesus nader,
    Hy wat gehoorsaam was tot in die dood
    Almal: Ja, die dood aan die kruis. Amen.

    Sang
    Psalm 116:1, 7 en 10 “God het ek lief, want dié getroue Heer” (Totius-beryming)
    Stil gebed
    Verootmoediging
    Voorganger: Genadige God, ons het U nie liefgehad met ons hele hart en met ons hele siel
    en met al ons krag en met ons hele verstand nie.
    Almal: Here, ontferm U oor ons.

    Voorganger: Liefdevolle Here, ons het ons naaste nie liefgehad soos U ons geleer het nie.
    Almal: Christus, ontferm U oor ons.

    Voorganger: Hemelse Vader, ons het nie in volle oorgawe aan U gelewe nie.
    Almal: Here, ontferm U oor ons.

    Voorganger: Mag die Here genade aan julle betoon.
    Mag Hy julle vergewe in sy troue liefde.
    Mag Hy aan julle vrede gee.
    Almal: Amen. Aan God die dank.
    Sang
    Lied 245:1 en 2 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
    DIENS VAN DIE WOORD
    Skriflesing
    Johannes 13:1-17 en 31b-35
    Stil gebed
    DIENS VAN DIE TAFEL
    Instelling van die eerste beker
    Prys die Here, ons God, die ewige Koning!
    Hy is die Een wat die vrug van die wingerd voortbring.
    (Almal drink die wyn of druiwesap.)
    Vraag: Waarom is hierdie aand anders as al die ander aande?
    Antwoord: Ons was in Egipte die farao se slawe en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het. Op hierdie aand dink ons terug aan daardie nag toe die Here ons gered het uit die mag van Egipte.

    Ons was ook slawe van die sonde. Maar God het aan ons genade bewys. Deur die bloed van sy Seun Jesus Christus is ons verlos en is ons oortredinge vergewe. Op hierdie aand dink ons terug aan daardie nag toe die Here Jesus oorgelewer is om vir ons te sterwe.
    Instelling van die tweede beker
    Die tweede beker wat ons drink, is die beker van danksegging en ons drink dit as ‘n danksegging vir God se verlossingsdade. Neem, drink en dank God vir die verlossing wat Hy vir ons bewerk het.
    Prys die Here, die ewige Koning!
    Hy het ons trane in gelag verander, ons smart in vreugde.
    (Almal drink die wyn of druiwesap)
    Instelling van die brood
    Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
    Neem, eet, dink daaraan en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot volkome versoening van al ons sondes.
    (Almal eet van die brood)
    Instelling van die derde beker
    Na die maaltyd het die Here Jesus die derde beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
    Prys die Here ons God, die ewige Koning!
    Hy is die een wat ons verlos.
    Neem, drink, dink daaraan en glo dat die bloed van ons Here Jesus Christus gestort is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.
    (Almal drink van die wyn of druiwesap)
    Instelling van die vierde beker
    Die vierde en laaste beker rig ons oë na vore na die wederkoms van Christus. Mag dié dag spoedig kom.
    Prys die Here ons God, die ewige Koning!
    Neem, drink en leef vanuit die verwagting dat die Here Jesus spoedig weer sal kom.
    (Almal drink van die wyn of druiwesap)
    Sang
    Lied 453:1-3 “Aan die Vader dank en ere, laat ons saam sy lof besing”
    Gebed
    Seën
    Almal: Volgende jaar in Jerusalem!
    UITSENDING
    Sang
    Lied 390: 1-4 “Ons kniel hier aan u voete neer”
    Alle versierings (nagmaalservies, kanselkleed, baniere, ensovoorts) word uit die aanbiddingsruimte verwyder.
    Die gemeente verlaat die kerkgebou in stilte.

  • Avatar

    Abe Stoltz

    |

    Ds Chris
    n Paar jaar gelede het ek n artikel van u gelees oor die (Pasga) bekers van die OT. Jesus het een van die Bekers uitgesonder in die NT-iese Nagmaal en net een beker ingestel. Het u dalk so Artikel hieroor asb.
    Gtoete Abe

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hennie, seën van huis tot huis.

  • Avatar

    Hennie Strydom

    |

    Baie dankie vir al die moeite wat jy doen. Ek respekteer jou werkywer saam met jou deursigtige hantering van die Bybel in die tyd en omstandighede waarin ons ons bevind. As ek dink aan Josef se geskiedenis dan besef ek net al hoe meer dat die alomteenwoordige God nie soseer op ‘n plek is nie, maar dat Hy in ons as gelowiges is daar waar ons gaan – Nasaret, Kanaan, drome, ‘n put, ‘n klompie Moslems wat hom in Egipte gaan verkoop, Potifar en mev Potifar, Robertson, Port Elizabeth. So is die Here by en in jou en soos vir Josef, sal Hy sekerlik jou en jou werk seën – Gen 39:3-5; 21-23. Mooi loop.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi – jy kan meer lees oor die konteks by: https://bybelskool.com/genesis-3-die-mens-kruip-vir-god-weg-weens-die-sonde/

    Hier is wat ek oor die teks daar sê:

    Episode 6: Die versteuring van verhoudinge in die skepping – 3:14-21

    Let op hoe direk God in sy hantering van die ontstellende gebeure is. Ná Hy deeglik in gesprek getree het met die mens, tree Hy beslissend op.

    1. Hy vervloek die slang nie net as ‘n slepende stofkruiper onder die diere nie, maar gee ‘n bedekte belofte in die vyandskap wat Hy tussen die slang se nageslag en die vrou se nageslag verklaar: “Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (3:15).

    Dit staan volgens sommige bekend as die “moederbelofte” waarin die oorwinning van Christus aan die kruis oor die werk van die Satan voorspel word. In Gereformeerde kringe word die woord moederbelofte gewoonlik vermy onder andere weens ‘n ongemak met ‘n Rooms-Katolieke interpretasie wat dit aan die verhaal van Moeder Maria koppel sowel as ‘n ongemak om die gedeelte in die lig van die NT uit te lê.

    Ek dink die ongemak is onnodig, want ‘n mens kan aan die een kant duidelik sien dat hier meer ter sprake is in die teks as maar net dat daar vyandskap tussen die slang en die mensdom is, iets wat in ‘n eerste rondte natuurlik ook deel van die teks se betekenis is. Jesus is na alles uit Maria gebore!

    Dit is aan die ander kant ook duidelik dat die teks die onderbou vir die NT interpretasies vorm wat in Genesis 3:15 die begin van ‘n stryd tussen die mens en die Bose skets, wat in Christus sy toppunt bereik het. Daarom kan Paulus in sy Romeinebrief, onder andere op grond van hierdie teks, sê dat die Satan deur die werk van God en die genade van die Here Jesus onder hulle voete verpletter sal word: “Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!” (Rom. 16:19-20). Dit is ook duidelik dat hy die boom van alle kennis ook as deel van sy interpretasie neem. Vergelyk ook Johannes hieroor in Joh. 8:44; 1 Joh. 3:18 en Openb. 12:9.

    Ons kan dus gerus die teks Christologies lees. Jesus het immers op ‘n plek gesê dat die hele OT – die wet van Moses, die profete en die psalms – van Hom vertel en in Hom vervul is (Luk. 24:44).

  • Avatar

    Elaine

    |

    Wat beteken die skrif Genesis 3.15

  • Avatar

    Marnus

    |

    Dankie.

Prontuit die Waarheid