Skip to main content

Romeine 5

Die regte verhouding met God red ons van sy oordeel

Die derde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 5:1-11 en handel oor die resultaat van die regte verhouding met God: vrede, vreugde en hoop.

Die vierde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 5:12-6:23 en handel oor die implikasies van die regte verhouding met God wat veral in oorwinning oor sonde ervaar word. Adam het sonde in die wêreld gebring en daarmee die dood, terwyl Christus die verhouding met God herstel het, en daarmee lewe gebring het (5:12-21). ‘n Mens sien dit in God se genade wat tot oorwinning oor sonde en ‘n nuwe lewe lei (6:1-14). Om aan God te behoort, lei tot gehoorsaamheid en lewe (6:15-23).

Teks en konteks

Die regte verhouding met God bring vrede, vreugde en hoop selfs in lyding (5:1-5)

Let op hoe Paulus nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle. Let ook op hoe hy weer van die drietal: geloof (x2), hoop (x3) en liefde (x2) praat, maar die klem hier meer op die hoop laat val.

Hy bars uit in ’n lofsang en geloofsbelydenis oor die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het op grond van sy genade. Let op hoe hierdie genadegawe alles verander.

  • Aan die een kant bring dit die hoop dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self.
  • Aan die ander kant kan ons ons ook verheug in ervarings van swaarkry, want dit bring volharding, wat lei tot betroubaarheid (beproefdheid) van geloof, wat net soseer as die ervaring van genade lei tot hoop.

Dit alles is moontlik omdat God se liefde in ons hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat ons oortuig dat Hy in ons woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.

Christus het vir ons gesterf en ons gered van God se oordeel (5:6-11)

Die res van hierdie deel neem die gedagte van die liefde van God verder. Dit is as gawe van die Heilige Gees aan ons gegee om ons op grond van die kruisdood van die Here Jesus Christus van God se oordeel te red waarvan Paulus in Romeine 1:18 gepraat het.

Jesus het op die regte tyd vir ons gesterf en ons met God versoen. Meer nog, Hy het dit gedoen toe ons nog sondaars was, en vir ons die dood oorwin deur sy opstanding sodat ons in daardie versoening wat Hy bewerk het, kan floreer vir ewig.

Adam het sonde in die wêreld gebring en dus die dood (5:12-14)

Paulus begin hier met die vierde hoofdeel van sy boodskap wat die verhaal van die versoening in die konteks plaas van die sonde van Adam wat die hele mensdom geraak het, en die versoening wat Christus bewerk het wat op soortgelyke wyse die hele mensdom raak.

Die dood wat Adam se sonde gebring het, sê Paulus, het tot alle mense deurgedring, omdat almal uit hom voortspruit. Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer.

Maar, die mensdom se sonde lê nie net in almal se sondige menslikheid nie, maar ook in hulle eie sonde: “omdat almal gesondig het.” En die straf vir die sonde is die dood.

Gevolglik, selfs in die tyd vóór die wet die mag van die sonde in sy volheid openbaar het, het die dood oor die mensdom geheers, en ‘n einde aan enige hoop op die ewige lewe gebring (Gen 3:19: “stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer”).

Daarteenoor het Christus versoening gebring en dus lewe (5:15-21)

Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense wat in Hom glo. Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe lewe laat voortspruit.

Elkeen wat in Jesus glo, ontvang nou die oorvloed van ‘n nuwe lewe. En deur Jesus voer die genade nou heerskappy in hulle lewens eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.

Soos Paulus dit opsom:

“Net soos die sonde deur die dood geheers het, sal ook die genade deur die regverdiging heers en tot die ewige lewe lei deur Jesus Christus, ons Here.”

Boodskap en betekenis

Paulus sluit sy boodskap in die derde hoofdeel af met ‘n beklemtoning van die diep betekenis van die regte verhouding met God en die verlossing wat deur Christus bewerk is. Paulus beskryf hoe hierdie verhouding vrede, vreugde en hoop bring, selfs te midde van lyding, omdat die Heilige Gees God se liefde in gelowiges uitstort. Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was en die versoening met God deur geloof moontlik gemaak.

Paulus begin die vierde hoofdeel deur Adam en Christus te kontrasteer: deur Adam het sonde en die dood die wêreld binnegekom, maar deur Christus het genade en lewe vir almal wat glo die wêreld binnegekom. Die genade van oorwinning oor sonde en dood lei tot die heerlike vooruitsig van ewige lewe. Dit is die basis vir die volgende hoofstuk se klem op ‘n lewe vir God en heiligmaking.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar