Skip to main content

2 Konings 17

Hosea en die ander konings het deur nikswerd afgode te aanbid self nikswerd geword

Terug by die verhaal van die konings, kom ons by die einde van die Noordryk soos 2 Konings 17 dit vir ons vertel. Hoewel Hosea, die 19de koning van Israel (hy regeer 9 jaar – 731-722 vC), minder kras geoordeel word as die konings van Israel voor hom, ten spyte selfs van die feit dat hy Peka vermoor het om die troon te bestyg, is hy die laaste koning van Israel in wie se tyd die ballingskap uiteindelik ’n werklikheid word vir die 10 noordelike stamme in die jaar 722/1 vC.

Teks en konteks

Die genadetyd het uitgeloop vir die tien stamme van Israel se Noordryk. Hosea verbreek sy aanvanklike ooreenkoms met Salmaneser, koning van die Assiriërs, deur nie belasting te betaal nie, en by Egipte (koning So van die Nyldelta, nie die farao nie) hulp te soek. Hy word gevange geneem, en na drie jaar se beleg, word Samaria ingeneem en die Israeliete na Assirië weggevoer.

Hierna volg ’n opsommende verklaring van die rede vir die ballingskap wat uiteraard in die eerste plek vir die ballinge self verduidelik waarom hulle in ’n benarde posisie in die vreemde sit. Maar in die tweede plek is dit ’n aanduiding van wat God verwag van sy mense:

  1. dankbaarheid/verering vir God vir verlossing (2 Kon 17:7),
  2. ’n lewenstyl volgens sy wil en nie volgens die gangbare gebruike van die ander volke nie (2 Kon 17:8) en
  3. aanbidding van God alleen en volgens sy voorskrifte wat ander gode uitsluit (2 Kon 17:9-12).

Interessant dat die skrywers meld dat Israel dinge aan God toegedig het wat nie waar was nie. Dit het begin met die goue kalwers wat Jerobeam in Dan en Bet-El opgerig het, wat tot verkeerde persepsies van God aanleiding gegee het, en daarom deur die volk en die konings nagevolg is. Hoewel die Here oor eeue moeite gedoen het om die volk deur die profete en sieners te waarsku, en sy beeld te herstel, het die konings en die volk die waarskuwings in die wind geslaan en die gevolge gedra. Hulle het mense van geen betekenis geword:

“hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword” (2 Kon 17:15)

Die ballingskap het egter ’n verdere nadraai gehad, immigrante van oral oor is deur die Assiriërs in die Noordryk se grondgebied kom vestig. Hulle het Samaria oorgeneem en in die stede daar gaan woon. Hieruit het die Samaritaanse volk ontstaan, uit die vermenging van Israeliete wat in die land agtergebly het, met die immigrante uit alle wêrelddele. Selfs die terugbring van een van die priesters om die nasies te leer om die Here te vereer, na ’n plaag van leeus deur die Here gestuur is, het nie die situasie ooit heeltemal herstel nie.

34Tot vandag toe handhaaf hulle die vroeëre gebruike. Hulle het nie ontsag vir die Here nie, en tree nie op in ooreenstemming met die vaste voorskrifte en bepalings wat hulle ontvang het nie, of ooreenkomstig die wet en gebod wat die Here die nageslag van Jakob, aan wie Hy die naam Israel gegee het, beveel het nie… 40Hulle het egter nie geluister nie, maar ooreenkomstig hulle vroeëre gebruike opgetree. 41Hierdie volksgroepe het vir die Here ontsag gehad, maar hulle gesnede beelde het hulle bly dien. Ook hulle kinders en kleinkinders doen wat hulle voorouers gedoen het; dit is vandag nog so.”

Sinkretisme was dus aan die orde van die dag: die Here is vereer, hulle het selfs ontsag vir Hom gehad, maar terselfdertyd ’n mengelmoes van eie afgodsbeelde bly dien. Dit verklaar Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou: “julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh 4:22).

Hiskia (715-686 vC) het egter ‘n paar jaar hierna begin om stadigaan ‘n verskil te maak in die Suidryk en het Juda uiteindelik van Assiriese oorheersing bevry.

Boodskap en betekenis

Die interessante is egter in 2 Kronieke 29 tot 32 – wat ons sal lees ná die bydraes oor Jesaja 13-35 – dat Hiskia met die skoonmaak van die tempel en die herinstelling van die Paasfees ‘n deel van die noordelike 10 stamme weer deel gemaak het van die suidryk se 2 stamme.

Ook in Jeremia 40 word vertel van ‘n hele klomp van die Jode wat verstrooid was wat teruggekom het.

Daar was dus ‘n terugkoms uit ballingskap ook vir die Noordryk, maar dit was stuksgewys en, belangrik, na die Suidryk toe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…