Skip to main content

1 Kronieke 15

Dawid bring die ark op die regte wyse na Jerusalem

Die ark se reis na Jerusalem, wat in 1 Kronieke 13 begin het, word hier voltooi. Die skrywer van Kronieke gee vir ons meer detail as wat 2 Samuel 6 bevat. Kronieke beskryf onder andere Dawid se eie voorbereidings en die sorg wat hy getref het om te verseker dat die ark behoorlik gedra word, begrond op die Woord van die Here. Die skrywer toon ook Dawid se beplanning vir die viering wat die ark se ontvangs moes begelei.

Teks en konteks

Die belewenisse van God se sorg en seën bemoedig uiteindelik vir Dawid om die ark se reis na Jerusalem te voltooi, maar dié keer eers nadat hy noukeurig navorsing gedoen het van wat die Here se goedkeuring wegdra. Dit lei daartoe dat Dawid ‘n reël herbevestig dat net die Leviete met die ark mag werk, en dít op die wyse soos die Here dit in die Skrif beveel het (Eks 25; 37; Deut 8).

Soos Dawid dus God vir dinamiese leiding in die oorlog gevra het (1 Kronieke 14), en die Here hom geantwoord het, só lees hy hier die geopenbaarde wil van God: “soos wat Moses in ooreenstemming met die ‘woord van die Here’ opdrag gegee het,” (vers 15). Hy hoor dus die duidelike stem van God nie net op ‘n dinamiese manier nie, maar ook in die skriftelike openbaring van God. Dit is ‘n merkwaardige stelling oor die status van die woorde van Moses wat as in ooreenstemming met die “woord van die Here” geag word.

Die tent wat Dawid vir die ark van God opgeslaan het, was een wat Dawid self laat maak het, aangesien die tabernakel op hierdie tydstip in Gibeon was (2 Kron 1). Die ark en die tabernakel is wel later saam in die tempel deur Salomo gesit (1 Kon 8:3–6; 2 Kron 5:4–7).

Daar word ses groepe Leviete genoem wat by die prosessie betrokke was, die drie hoofgroepe: Kehat, Merari, en Gerson (soos in die geslagsregisters) sowel as drie verdere groepe uit die Kehat-groep wat ‘n meer onafhanklike status bereik het, hetsy weens getalle of hulle tipe bediening: Elisafan, Hebron, en Ussiël (vgl die geslagsregisters in 1 Kron 7 wat hulle deel van die Kehatgroep maak).

Interessant genoeg lyk dit asof Sadok en Abjatar hier gesamentlik die voortou neem as hoëpriesters. Abjatar se termyn is egter deur Salomo beëindig toe dié sy broer Adonia verkies het in die stryd om Dawid se opvolging (2 Kon 2) wat die Sadokgroep se voorrang onder die priestersgeslag tot gevolg gehad het.

Daar was twee tipe Levitiese musikante in die liturgiese prosessie: sangers en instrumentaliste. Die instrumentaliste het met harpe (hoë toon), liere (laer toon) en kopersimbale vir die begeleiding gesorg. Die priesters het daarby trompette geblaas (ook ramshorings of sjofars) wat hulle voorreg was volgens die wet van Moses (Num 10). Om dit alles af te rond was daar Levitiese poortwagte en draers betrokke wat net onderstreep hoe belangrik die volk se gesamentelike geestelike verhouding met God was. Hulle is begelei deur die mense wat amptelik deur God daarvoor gekies is.

Almal was uitbundig en verheug oor die herstel van die simbool van God se teenwoordigheid in Jerusalem, met Dawid wat gespring en gedans het voor almal uit. Let op dat die Kronis nie die vreugde en feestelike stemming van die geleentheid te veel wil demp met die vertel van die ongelukkige geskiedenis van sy vrou Migal, dogter van Saul, wat Dawid geminag het nie. Hy noem dit net in ‘n enkele sin, terwyl daar meer detail in 2 Samuel 6 daaroor beskikbaar was.

Boodskap en betekenis

Ons moet raaksien in hierdie gedeelte dat daar ‘n plek is vir God se dinamiese leiding, maar die geopenbaarde wil van God ‘n voorrang het as ‘n absolute waarheid. Die skrywer van Kronieke verwys hierna met die woorde: “soos wat Moses in ooreenstemming met die ‘woord van die Here’ opdrag gegee het,” (vers 15).

Die rol wat die Levitiese poortwagte en draers speel, onderstreep ook net weer vir ons hoe belangrik die begeleiding van die volk in hulle geloofsgemeenskap is deur mense wat amptelik deur God daarvoor gekies is. Ons sal goed doen as ons ‘n deeglike proses van onderskeiding sal volg voor ons mense aanwys in die liturgiese begeleiding van ons gemeentes.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…