Skip to main content

Sagaria 5:1-6:15

Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring

Hierdie twee hoofstukke bevat die laaste drie gesigte van Sagaria oor die herstel wat God in die geloofsgemeenskap sal bring sowel as ‘n opdrag aan Sagaria om die twee leiers te bemoedig wat die proses sal begelei (6:9-15).

  • Die vlieënde boekrol stel God se optrede teen wetteloosheid, onreg en oneerlikheid, voor (5:1-4).
  • Die graanmandjie se verbanning na Babel stel God se optrede teen goddeloosheid voor (5:5-11).
  • Die strydwaens stel God se beheer oor die wêreld voor as bemoediging vir die volk om met die herstelwerk aan die tempel voort te gaan (6:1-8). Hy sal vrede oral en vir almal bring.

Teks en konteks

Sagaria 5:1-4 – God belowe dat wetteloosheid uitgewis sal word

Die sesde visioen is van ‘n vlieënde boekrol wat besonder groot is en die vervloeking van wetteloosheid – diefstal en oneerlikheid – wat tot dusver ongestraf gegaan het, voorstel, d.w.s. gevare wat die volk van binne af bedreig. Die Here keer dié situasie om deur hulle in eie munt terug te betaal en onreg en oneerlikheid op dié manier uit te wis. Hy bring die situasie in die land weer onder beheer en herstel die gemeenskap om in harmonie met mekaar te kan lewe.

Sagaria 5:5-11 – God belowe dat goddeloosheid verban sal word

Die sewende visioen is van ‘n vlieënde graanmandjie met ‘n vrou daarin wat die goddeloosheid en sonde van die hele wêreld voorstel. Dié graanmandjie word deur twee ander vroue na Sinar, die vorige naam van Babel (Gen. 11), geneem. Goddeloosheid word dus ironies genoeg na Babel verban (vgl. Openb. 18 waar Babel met goddeloosheid vereenselwig word), nie die mense nie! Dit dui op God se mag oor die sonde en sy hantering daarvan in die lewe van dié wat aan Hom behoort. Hy maak sy mense rein en bring hulle in die regte verhouding met Homself.

Sagaria 6:1-8 – Die Here bemoedig die leiers om voort te gaan met die herstelwerk

Die agste en laaste gesig is van vier strydwaens met verskillende kleure perde (bruin, swart, wit, skimmel). Vgl. Openb. 6 wat verwant is hieraan, maar ‘n eie interpretasie gee. Dié strydwaens trek vanaf God se plek (twee berge van koper wat ‘n voorstelling is van die plek vanwaar die son opgekom het en op God se woonplek dui) in die vier windrigtings. Aan die een kant bevestig God daarmee sy beheer oor die wêreld, maar aan die ander kant ook sy belofte dat hy die goddelose Babel sal uitwis deur die werk van sy Gees.

Dit is ‘n bemoediging vir die volk om met die herstelwerk aan die tempel voort te gaan. God sal vrede skep oor die hele aarde en vir almal. Dit is ook ‘n bemoediging vir alle gelowiges van alle tye dat God uiteindelik die goddeloosheid tot ‘n einde sal bring en sy koninkryk sal vestig vir ewig.

Sagaria 6:9-15 – Sagaria bemoedig die leiers om die werk voort te sit

Die Here gee die opdrag aan Sagaria om ‘n kroon vir Jesua te maak van die geskenke uit Babel wat drie ballinge gebring het. Vgl. die beskrywing van die proses in Esra 1 (vgl. ook Eks. 6 waar dieselfde gebeur het). Die drie ballinge se vrygewigheid word daarmee deur die Here op prys gestel: Geldai, Tobija en Jedaja. Josia word in een asem met hulle vereer, wat waarskynlik beteken dat hy ook bygedra het.

Jesua kry daarmee die gesag om vir Serubbael te bemoedig om die werk aan die tempel te voltooi. Hulle is die uitverkore span wat die werk van die Here moet begelei. Let op dat Serubbabel “Loot” genoem word, waarmee hy eintlik as ‘n Messias beskryf word, soortgelyk as in die vierde visioen in hfst. 3, die een wat in hulle tyd uitkoms sal bring.

Dit moes ongelooflik inspirerend gewees het, al was die verantwoordelikheid daarvan ook baie groot. Die belofte was ook dat ander mense sal bykom om met dié werk te help, omdat die leiers en die werk waarmee hulle besig is, hulle daartoe sal inspireer. As hulle net gehoorsaam sal bly, natuurlik.

Boodskap en betekenis

Dit is opmerklik hoe die laaste drie gesigte telkens ‘n betekenis vir die tyd van Sagaria het, sowel as ‘n betekenis vir latere geslagte. Aan die een kant belowe die Here dat wetteloosheid en goddeloosheid aangespreek sal word, en dat Hy Babel sal straf vir hulle goddeloosheid. Dit gee moed vir die volk om die werk aan die tempel te voltooi en hulleself aan die Here en mekaar te verbind.

Die kroon van gesag wat aan Jesua gegee word – dit is waarskynlik waarom Jesua in die vierde visioen nie vanuit die staanspoor ‘n tulband gekry het nie, hy sou ‘n werklike kroon kry – sowel as die spanwerk wat die Here beveel tussen hom en Serubbabel tref ‘n mens. Die Here gee nie net alles wat nodig is vir die werk wat Hy beveel nie, maar Hy gee ook mense wat die pad saam kan loop!

Aan die ander kant is dit duidelik dat die visioene se boodskap gemik is op ‘n totale en finale uitwissing van wetteloosheid en goddeloosheid. Dit is immers die wêreld se sonde wat in daardie graanmandjie aangetref word en uiteindelik uitgewis word deur dit na Babel te verban en dan Babel uit te wis. Daarop kan ons as gelowiges hoop as ons die wetteloosheid en goddeloosheid wat so gedy in ons eie land en in die wêreld gade slaan.

Ons kan mekaar bemoedig dat God se koninkryk uiteindelik gevestig sal word. Ons kan met mekaar saamwerk om dié werk wat die Here vir ons het – dié tempel wat ook soos ‘n berg voor ons lê, by wyse van spreke – te voltooi. Die Here sal ons die oorwinning laat behaal.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!