Skip to main content

Sagaria 5:1-6:15

Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring

Hierdie twee hoofstukke bevat die laaste drie gesigte van Sagaria oor die herstel wat God in die geloofsgemeenskap sal bring sowel as ‘n opdrag aan Sagaria om die twee leiers te bemoedig wat die proses sal begelei (6:9-15).

  • Die vlieënde boekrol stel God se optrede teen wetteloosheid, onreg en oneerlikheid, voor (5:1-4).
  • Die graanmandjie se verbanning na Babel stel God se optrede teen goddeloosheid voor (5:5-11).
  • Die strydwaens stel God se beheer oor die wêreld voor as bemoediging vir die volk om met die herstelwerk aan die tempel voort te gaan (6:1-8). Hy sal vrede oral en vir almal bring.

Teks en konteks

Sagaria 5:1-4 – God belowe dat wetteloosheid uitgewis sal word

Die sesde visioen is van ‘n vlieënde boekrol wat besonder groot is en die vervloeking van wetteloosheid – diefstal en oneerlikheid – wat tot dusver ongestraf gegaan het, voorstel, d.w.s. gevare wat die volk van binne af bedreig. Die Here keer dié situasie om deur hulle in eie munt terug te betaal en onreg en oneerlikheid op dié manier uit te wis. Hy bring die situasie in die land weer onder beheer en herstel die gemeenskap om in harmonie met mekaar te kan lewe.

Sagaria 5:5-11 – God belowe dat goddeloosheid verban sal word

Die sewende visioen is van ‘n vlieënde graanmandjie met ‘n vrou daarin wat die goddeloosheid en sonde van die hele wêreld voorstel. Dié graanmandjie word deur twee ander vroue na Sinar, die vorige naam van Babel (Gen. 11), geneem. Goddeloosheid word dus ironies genoeg na Babel verban (vgl. Openb. 18 waar Babel met goddeloosheid vereenselwig word), nie die mense nie! Dit dui op God se mag oor die sonde en sy hantering daarvan in die lewe van dié wat aan Hom behoort. Hy maak sy mense rein en bring hulle in die regte verhouding met Homself.

Sagaria 6:1-8 – Die Here bemoedig die leiers om voort te gaan met die herstelwerk

Die agste en laaste gesig is van vier strydwaens met verskillende kleure perde (bruin, swart, wit, skimmel). Vgl. Openb. 6 wat verwant is hieraan, maar ‘n eie interpretasie gee. Dié strydwaens trek vanaf God se plek (twee berge van koper wat ‘n voorstelling is van die plek vanwaar die son opgekom het en op God se woonplek dui) in die vier windrigtings. Aan die een kant bevestig God daarmee sy beheer oor die wêreld, maar aan die ander kant ook sy belofte dat hy die goddelose Babel sal uitwis deur die werk van sy Gees.

Dit is ‘n bemoediging vir die volk om met die herstelwerk aan die tempel voort te gaan. God sal vrede skep oor die hele aarde en vir almal. Dit is ook ‘n bemoediging vir alle gelowiges van alle tye dat God uiteindelik die goddeloosheid tot ‘n einde sal bring en sy koninkryk sal vestig vir ewig.

Sagaria 6:9-15 – Sagaria bemoedig die leiers om die werk voort te sit

Die Here gee die opdrag aan Sagaria om ‘n kroon vir Jesua te maak van die geskenke uit Babel wat drie ballinge gebring het. Vgl. die beskrywing van die proses in Esra 1 (vgl. ook Eks. 6 waar dieselfde gebeur het). Die drie ballinge se vrygewigheid word daarmee deur die Here op prys gestel: Geldai, Tobija en Jedaja. Josia word in een asem met hulle vereer, wat waarskynlik beteken dat hy ook bygedra het.

Jesua kry daarmee die gesag om vir Serubbael te bemoedig om die werk aan die tempel te voltooi. Hulle is die uitverkore span wat die werk van die Here moet begelei. Let op dat Serubbabel “Loot” genoem word, waarmee hy eintlik as ‘n Messias beskryf word, soortgelyk as in die vierde visioen in hfst. 3, die een wat in hulle tyd uitkoms sal bring.

Dit moes ongelooflik inspirerend gewees het, al was die verantwoordelikheid daarvan ook baie groot. Die belofte was ook dat ander mense sal bykom om met dié werk te help, omdat die leiers en die werk waarmee hulle besig is, hulle daartoe sal inspireer. As hulle net gehoorsaam sal bly, natuurlik.

Boodskap en betekenis

Dit is opmerklik hoe die laaste drie gesigte telkens ‘n betekenis vir die tyd van Sagaria het, sowel as ‘n betekenis vir latere geslagte. Aan die een kant belowe die Here dat wetteloosheid en goddeloosheid aangespreek sal word, en dat Hy Babel sal straf vir hulle goddeloosheid. Dit gee moed vir die volk om die werk aan die tempel te voltooi en hulleself aan die Here en mekaar te verbind.

Die kroon van gesag wat aan Jesua gegee word – dit is waarskynlik waarom Jesua in die vierde visioen nie vanuit die staanspoor ‘n tulband gekry het nie, hy sou ‘n werklike kroon kry – sowel as die spanwerk wat die Here beveel tussen hom en Serubbabel tref ‘n mens. Die Here gee nie net alles wat nodig is vir die werk wat Hy beveel nie, maar Hy gee ook mense wat die pad saam kan loop!

Aan die ander kant is dit duidelik dat die visioene se boodskap gemik is op ‘n totale en finale uitwissing van wetteloosheid en goddeloosheid. Dit is immers die wêreld se sonde wat in daardie graanmandjie aangetref word en uiteindelik uitgewis word deur dit na Babel te verban en dan Babel uit te wis. Daarop kan ons as gelowiges hoop as ons die wetteloosheid en goddeloosheid wat so gedy in ons eie land en in die wêreld gade slaan.

Ons kan mekaar bemoedig dat God se koninkryk uiteindelik gevestig sal word. Ons kan met mekaar saamwerk om dié werk wat die Here vir ons het – dié tempel wat ook soos ‘n berg voor ons lê, by wyse van spreke – te voltooi. Die Here sal ons die oorwinning laat behaal.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.