Skip to main content

Psalm 92

Groots is alles wat U doen, Here

Die vierde Psalmboek, Psalms 90-106, fokus op die feit dat Jahwe reg deur die eeue getrou gebly het aan die volk van Israel ten spyte van die problematiek van die Dawidiese koningshuis en die volk se voortdurende ongehoorsaamheid. Dit eindig met ’n appèl aan Jahwe om die ballinge weer terug te bring na Jerusalem, soos dit in Psalm 106:47 uitgespel word, een van die verse wat Dawid reeds met die ark se verwelkoming in Jerusalem gekomponeer het.

In hierdie vierde deel van die Psalms is interessant genoeg veral Lofpsalms wat God se redding en koningskap besing, soos treffend in die Psalm gedoen word wat ons nou gaan lees, want: “Dit is goed om die Here te loof, om u Naam te besing, Allerhoogste, om elke môre van u liefde te getuig en elke aand van u trou … U groot dade, Here, het my baie bly gemaak, ek wil juig oor wat U doen, Here … Wie dit nie besef nie, is ’n dom mens.” (Ps 92:2-7 – 1983-vertaling).

Dit verskaf ‘n noodsaaklike perspektief en korrektief op die werklikheid van konings wat ook voete van klei het. God bly in beheer selfs al werk dinge op aardse vlak nie altyd presies uit soos ons dit graag sou wou hê nie. Ons kan God loof midde-in uitdagende situasies.

Hierdie reeks Psalms kan net so wel met die tempel in Salomo se tyd geassosieer word, maar omdat Hebreërs 4:7 Psalm 95 met Dawid assosieer, wat deel is van hierdie reeks, het ek besluit om dit hier as ‘n eenheid te hanteer.

Teks en konteks

Die titel val op – ”n Lied vir die sabbatdag” – die enigste Psalm in die Hebreeuse grondteks wat só ‘n titel het. In die Griekse vertaling van die Psalms is daar egter sewe Psalms wat só aangedui word, in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke”. Ons lees daarvan in Eksodus 34:22, Deuteronomium 16:10, 16, Numeri 28:26, en Levitikus 23:15. Dit is gehou sewe weke ná die Paasfees, wat gelei het daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is. Dit is natuurlik ook die dag wat die Heilige Gees in die NT tyd uitgestort is. By dié feesgeleentheid is sewe Psalms in hierdie volgorde voorgeskryf: Psalm 24; 48; 82; 94; 81; 93; 92.

Indeling

Die Psalm kan in vier dele opgedeel word:

  • Vers 2-8 – ‘n Danklied: “Dit is goed om die Here te loof (dank – 2014 vertaling).”
  • Vers 9-10 – ‘n Belydenis: “Almal wat onreg doen, sal vernietig word.”
  • Vers 11-12 – ‘n Vertrouenslied:Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel.”
  • Vers 13-16 – ‘n Verwagtingslied:Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.”

Weereens gee dié indeling ‘n mens ‘n handige struktuur vir jou eie gebede: dank, belydenis, vertroue, verwagting.

Dank: “Dit is goed om die Here te dank” – vers 2-8

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer. Die woordjie loof in die 1983 vertaling is een manier om die Hebreeuse woord yā∙ḏā(h) te vertaal. Die 2014 vertaling het dank en dit kan ook bely beteken, hoewel dit dan gewoonlik met negatiewe sake geassosieer word. In die konteks beteken die woord dus loof of dank.

Die fokus is op God se liefde en trou, sy groot dade en alles wat Hy gedoen het. Trouens: “Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.” Wie dit nie besef nie, is onnosel. Wie dit nie insien nie, het geen insig nie. Sulke mense sal daarom uitgewis word, al lyk dit asof hulle voorspoedig is (vgl Ps 73!).

Let op hoe die Psalmis hierdie lof en dank met musiek voor die Here bring, met snaarinstrumente (‘n tiensnarige instrument word waarskynlik bedoel), harpe en liere. Dit is dus bedoel vir die volle vergadering van die geloofsgemeenskap.

Belydenis: “Almal wat onreg doen, sal vernietig word” – vers 9-10

Die lof en dank lei onvermydelik tot ‘n belydenis dat God se koningskap vir ewig is en dat Hy dit sal bewys in die feit dat onreg en dié wat onreg pleeg, God se vyande, uitgewis sal word.

Vertroue: “Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel” – vers 11-12

Daarteenoor staan die gelowiges wat kan getuig dat hulle krag het soos dié van ‘n buffel, dat God hulle toelaat om deel te hê aan die oorwinning oor Sy vyande, wat ook die gelowiges se teëstanders is. Vir hulle hoef gelowiges dus nie in vrees te lewe nie. Hulle dreigemente sal tot niks kom nie.

Verwagting: “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome.” – vers 13-16

Omdat die vertroue in God deur hulle ervaring bevestig word (vers 11-12), kan die Psalmis dus ook die verwagting en hoop uitspreek dat dit in die toekoms ook só sal wees. Hy gebruik die twee metafore van die krag van die palmbome sowel as die hoë seders van Libanon om hulle oorlewing en lewenskrag te beskryf. Omdat hulle die Here ken, sal hulle selfs in hulle ouderdom nog toeneem in krag, sodat ook dié getuienis sal laat blyk dat die Here regverdig is. Hy bly vir ons die onbeweeglike rots.

Boodskap en betekenis

Die wonder van Psalm 92 lê aan die een kant in die struktuur wat dit vir ons gebede gee: dank, belydenis, vertroue, en verwagting. Dit is ‘n gebedsmodel wat soveel sin maak vir ons gebedslewe.

Aan die ander kant is dit die hoof Psalm vir die sabbatsweek (die fees van die weke) wat saamval met ons Pinksterweek. Dit herinner my dus daaraan om:

  1. tot rus te kom in die wete van God se liefde en trou,
  2. om sy groot dade in herinnering te roep,
  3. om my vertroue in Hom te bely en ook
  4. my verwagting van sy regverdigheid uit te spreek.

Groots is alles wat U doen, Here!” Inderdaad.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar