Skip to main content

1 Konings 8:12-61; 2 Kronieke 6

Salomo plaas gebed sentraal in die verhouding met God

Vandag lees ons drie gedeeltes (in twee hoofstukke) wat handel oor 1) Salomo se toespraak aan die volk (1 Kon 8:12-21; 2 Kron 6:1-11), 2) sy gebed vir die volk sowel as die nasies (1 Kon 8:22-53; 2 Kron 6:12-42) en sy seën van die volk (1 Kon 8:54-61 – Kronieke vermeld dit nie).

Teks en konteks

In Konings se weergawe herinner Salomo die volk in sy seëngroet aan die begin aan die verbond wat God met Dawid aangaande die tempel en sy nageslag gesluit het (2 Sam 7:1–17). Salomo verklaar dat hy nou die regmatige opvolger van Dawid is aan wie die vervulling van God se beloftes voortgesit gaan word.

Let op hoe hy van God praat wat in duisternis wil woon. Salomo verwys hiermee waarskynlik na die donker wolk wat op die berg Sinaï met God se teenwoordigheid geassosieer is (Eks 20:21) en wat so pas ook in die tempel gesien kon word. In Moses se toespraak aan die einde van sy lewe verwys hy na die wolk van God se teenwoordigheid op Sinaï as ’n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het (Deut 4:11; 5:22). Ook Dawid verwys in ’n loflied oor die oorwinning wat God in nood gee, na God se verskyning as ’n gebeurtenis waaronder daar duisternis onder sy voete is (Ps 18:10 soos ook in 2 Sam 22:10 opgeneem).

God se teenwoordigheid het dus ’n misterieuse kant, uitgedruk met die donkerte van ’n wolk, iets heel anders as die duisternis van dié wat God nie wil dien nie, óf die duisternis van die doderyk (Ps 88:13). Vir God is die duisternis natuurlik soos lig (Ps 139:12).

Nadat hy die Here voor die vergadering geseën het, draai Salomo na die altaar en doen ‘n lang gebed, die langste opgetekende gebed in die Bybel. Hy begin deur te herhaal dat sy koningskap die vervulling van God se belofte aan Dawid is. Hy fokus op baie van dieselfde temas as die boek Deuteronomium, insluitend die gevolge van ongehoorsaamheid. Sy gebed is ook bedoel vir God se ore sowel as vir diegene uit die volk wat na hom luister.

Salomo is egter ook baie bewus daarvan God nie deur die tempel ingeperk kan word nie, want hy woon in die hemel. Dit is net sy naam wat in die tempel “woon” (vv. 27, 29, 39, 43, 49). Die tempel dien as ‘n fokuspunt vir die gebede van mense, terwyl die antwoorde van God vanuit die hemel na hulle toe sal kom (v.29, 33, 35, 38, 42, 44).

Nadat hy sy gebed voltooi het, draai Salomo om na die volk om hulle te seën. Soos in die voorafgaande gebed het Salomo se seënwens baie van dieselfde temas en frases as die boek Deuteronomium. Salomo beklemtoon getrouheid aan God se insettinge, reëls en opdragte.

In Kronieke se weergawe hiervan word baie dieselfde temas as in Konings aangeraak. Dit bevat ook twee gesprekke, die een ‘n toespraak gerig aan die volk (vers 1-11) en die ander ’n gebed gerig aan die Here wat so pas sy teenwoordigheid in ’n wolk bevestig het (vers 12-42). Daarmee plaas Salomo gebed sentraal in die verhouding met God, iets wat selfs vir die vreemdelinge sal geld.

Boodskap en betekenis

Die wyse waarop Salomo God se beloftes in gebed na Hom toe bring en vir die langtermyn bevestiging daarvan vra, tref my besonderlik. Hierdie beloftes is ook nie net in terme van die verbondsvolk en Salomo se regering nie, maar ook van gebedsverhoring vir beide 1) vergifnis met oortredings en 2) regstelling met verontregting.

Let ook op dat dit gebid word vir die individuele gelowige sowel as die geloofsgemeenskap. Maar die kersie op die koek van dié gebed is vir my dat Salomo vir gebedsverhoring ook vra vir die vreemdeling wat bid! Daarmee bely hy dat God die God van almal is wat op aarde woon.

Geen wonder dat Jesus die tempel in die NT skoongemaak het van die handelaars omdat hulle van God se “plek van gebed” ’n handelshuis gemaak het (Mark 11:17: – Jesus haal uit Jes 56:7 aan waar soos volg van die tempel gepraat word: “want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke.”).

Dit beteken ook dat as die kerk in die NT ná Pinkster van die tempel as primêre aanbiddingsplek skuif na die huis van die gelowiges (vgl die beweging in Hand 2 tot 4 van tempel na huis) en daar van gelowiges se liggame as “tempel van die Heilige Gees” gepraat word (1 Kor 6:19), gebed een van die primêre dinge is waardeur ons geestelike lewens gestruktureer moet word.

Dat Salomo dié gebede nie as outomaties verstaan nie, val nogal op, sowel as die feit dat hoewel hy baie maak van die bid “na die tempel toe”, hy vra dat God “uit die hemel sal antwoord”. God werk binne ‘n verhouding en vanuit sy eie domein, nie outomaties en aan óns wil onderworpe nie. Die tempel is daarom net ’n simbool van God se teenwoordigheid. God is oral beskikbaar en teenwoordig.

Hoe mooi sê Salomo nie: “Kom dan nou na u rusplek toe, Here God, U en u magtige ark. Laat u priesters, Here God, onder die beskerming van u hulp lewe, en laat u troue dienaars hulle verheug in die goeie dinge. Here God, hou u gesalfde onder u sorg. Dink aan wat U toegesê het aan u dienaar Dawid.” (2 Kron 6:41).

Die betekenis van beide hierdie toespraak aan die volk en die gebed tot God is dat die kern van God se betrokkenheid by mense in gebedsverhoring verwoord word. Dit is nogal paradigma-skuiwend, as ’n mens dít ter harte neem. Dit nooi ons uit om in ‘n ander tipe verhouding met God te staan, nie net vir jouself nie, maar vir die geloofsgemeenskap sowel as vir die wêreldgemeenskap.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda