Skip to main content

Numeri 19

God voorsien reinigingswater sodat hulle met Hom in gemeenskap kan lewe

Teks en konteks

Die Here gee in hierdie hoofstuk vir Moses en Aäron opdrag om die riglyne rondom die sondoffer (Levitikus 4:1-5:13 – Die sondeoffer as reiniging en vergifnis van konkrete sondes) uit te brei. Dit moes die problematiek van ‘n al hoe groter voorkoms van onreinheid die hoof bied, omdat daar so ‘n groot klomp mense weens hulle verset teen God en sy leiers dood is. Enige kontak met die dood het jou immers onrein gemaak, sodat jy nie die Here by die Tabernakel kon dien nie. Selfs die tente van die families waarin iemand dood is, het onrein geword, sowel as almal wat in aanraking met lyke gekom het.

Polariteit van lewe of dood

Jy kan jou geheue verfris om net weer te lees wat ek oor heiligheid en reinheid geskrywe het in my bydrae daaroor by bybelskool.com oor Levitikus: “Wees heilig, want Ek is heilig”. Dit help om oor rein en onrein te dink as ‘n polariteit van lewe of dood. Dit wat lewe gegee en bevorder het, was rein. Dit wat die lewe bedreig en die dood gebring het, was onrein. Daarom het die aanraking van ‘n lyk of ‘n dooie dier jou onrein gemaak. Soortgelyk een of ander velsiekte of gebrek. Wanneer daar egter genesing ingetree het óf jy deur ‘n proses van reiniging gegaan het, is jy weer rein verklaar.

Israel het ‘n groter behoefte aan reiniging gehad weens die groot kontak met die dood

Die groot hoeveelheid mense wat in hierdie tyd dood is, het tot gevolg gehad dat baie mense nie offers kon bring nie en ook nie die Here by die Tabernakel kon aanbid nie, weens hulle kontak met die dood. Daar moes dus ekstra reinigingsmaatreëls geskep word, sodat die geloofsgemeenskap kon voortgaan om deel te neem aan die normale geloofsaktiwiteite en veral die offers en liturgie by die Tabernakel.

Reinigingswater het hulle gemeenskap met God herstel

‘n Spesiale sondoffer is dus gebring, ‘n rooi koei (waarskynlik ‘n vers) wat buite die kamp verbrand is, saam met sederhout, hisop en bloedrooi wolstof, waarvan die as gebêre en in reinigingswater gebruik is. Dit ritueel het behels dat ‘n rein persoon van die as geneem en in ‘n pot gesit het, vars water daaroor gegooi, en daarna die reinigingswater op die onrein persone gesprinkel het op die derde en sewende dag van die tyd van hulle onreinheid, waarna hulle weer rein sou wees.

Die feit dat die koei ‘n rooi kleur (waarskynlik bruin-rooi) moes hê, sou die volk herinner aan die bloed van die versoening deur die offerkultus en die priesterlike bediening, soos dit ook die geval was met binneste bedekking van die Tabernakel van rooi gekleurde ramsvelle (Eks. 26).

Ook Jesaja verbind eeue later versoening aan die rooi van sonde wat wit word deur die Here se genade: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (Jes. 1:18).

Betekenis

Weereens is hierdie reinigingsritueel ‘n skadubeeld van die werklikheid van die Here Jesus Christus wat nie net ons uiterlike reinig nie, maar ons binnekant, ons gewete. Soos die Hebreërskrywer skrywe: “Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring.

Hy vergelyk dan spesifiek hierdie reinigingsritueel van Numeri 19 met die veel beter reiniging wat die Here Jesus bring vir gelowiges: “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.” (Hebr. 9:11-14).

Die doop is natuurlik by uitstek die sakrament in die NT wat ons van ons sonde red en reinig en die gemeenskap met God herstel, vir ewig. Petrus noem daarom die doop nie net: “’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.” (1 Pet. 3:21b).

Oordink vandag die wonder van nie net die vergifnis van die Here nie, maar ook die reiniging wat Hy bring van die sonde, dit waaraan die doop jou ook herinner. Soos Johannes sê: “Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.