Skip to main content

Spreuke 17:1-28

Verhoudings maak saak

Spreuke 17:1

Spreuke 17 gaan oor verhoudings. Verhoudings maak saak. Dit sluit die volgende in:

  • Familieverhoudings (vers 2, 6, 21, 25);
  • Gesinsverhoudings (vers 2, 6, 17, 21, 25);
  • Huweliksverhoudings (vers 1);
  • Werksverhoudings (vers 2);
  • Regsverhoudings (vers 8, 15, 18, 20, 23, 26);
  • Vriendskapsverhoudings (vers 9, 17);
  • Gemeenskapsverhoudings (vers 5, 7, 11, 12, 13, 16, 19, 24, 27, 28);
  • Verhouding met jouself (vers 22).

Vers 1 sê gebrek en vrede is verkiesliker as oorvloed en getwis (vgl Spr 17:14,19). Die agtergrond is die maaltydoffer by die tempel waarvan die familie ‘n groot deel van die vleis self kon geniet en ook met vriende kon deel. As die maaltydoffer dus ‘n strydoffer geword het, weens konflik, was dit duidelik beter om liewer net ‘n stukkie brood te eet in stilte en vrede.

Spreuke 17:2-3

Vers 2 bevestig die waarheid dat vermoëns beter is as voorregte. ’n Verstandige slaaf sal gesag kry oor ’n seun en sal saam met hulle erf. ’n Spreuk wat bewaarheid is in die lewe van Salomo. Sy onderdaan, Jerobeam, het al hoe meer gesag gekry in die koninkryk weens sy vermoëns. Met Salomo se dood het hy die noordelike tien stamme laat wegbreek (geërf) van die suidelike twee stamme onder Salomo se seun, Rehabeam, wat weens sy dwaasheid ’n verleentheid vir Israel geword het (1 Kon 11). Vermoëns troef voorregte. Vers 3 verwoord die waarheid dat die smeltkroes van die lewe – uitdagings en beproewinge – deur die Here gebruik word om ons binnekant te suiwer soos ’n goudsmid of silwersmid. Hy verhoog daardeur ons deugsaamheid (vgl Spr 27:12 vir ’n soortgelyke spreuk).

Spreuke 17:4-5

Vers 4. Jou integriteit bepaal waarna jy luister. Waarna jy luister, wys weer wat jou integriteit is. “Evil words die without a welcome; and the welcome gives us away.” (Kidner). Vers 5. Jou perspektief oor arm mense en mense wat teenspoed beleef, sê ten diepste wat jy van God dink. Jy sal nie ongestraf bly nie.

Spreuke 17:6

Hierdie vers skets die positiewe impak wat jongmense en oumense op mekaar het in familieverband. Kleinkinders is vir oupas en oumas die “kroon” (diadeem – ’n kosbare versierde kroon) van hulle lewe. Ouers is die trots van hulle kinders.

Spreuke 17:7-8

Vers 7 praat oor egtheid. Welsprekendheid pas nie by ’n dwaas nie (vgl Nabal, die “dwaas”, in 1 Sam 25:25), soos leuens nie by ’n eerbare man pas nie. Vers 8 praat oor die mag van omkopery: “geld wat stom is, maak reg wat krom is.” Vers 15 en veral 23 wys egter wat die Here daarvan dink.

Spreuke 17:9-11

Vers 9. Jou houding teenoor mense bepaal hoe jy hulle oortredinge gaan hanteer. As jy oortredinge “bedek”, wys dit jou liefde. As jy vorige oortredinge gedurig ophaal, breek jy verhoudings selfs tussen boesemvriende (vgl Spr 10:12).

Dit beteken natuurlik nie dat sonde oorgesien word nie. “Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang.” (Spr 28:13). Dit beteken ook nie dat jy nie ander oor sonde tereg moet wys nie. “’n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly. Op ’n vriend wat jou seermaak, kan jy reken; iemand wat jou haat, is oordadig met sy soene.” (Spr 27:5-6).

Maar dit leer ons om in liefde te lewe.

Vers 10. Verstandige mense is ‘n honderd keer meer sensitief vir dreigemente as dwase. Vers 11. ‘n Bose mens wil net rebelleer, maar die kwaad wat só ‘n mens beplan, haal uiteindelik homself in. Daarvoor sorg God (vgl vers 13).

Spreuke 17:12-13

Vers 12 verwoord die wrede en gewelddadige verwoesting wat ’n dwaas kan veroorsaak. Sy sotheid is meer destruktief as ’n beerwyfie wat van haar kleintjies beroof is. Vers 13 gryp terug op vers 11 en waarsku dat selfs jou huis sal ly daaronder as jy goed met kwaad vergeld. Dit is presies wat met Salomo se ouers gebeur het in die kwaad wat Dawid en Batseba aan Urija gedoen het. Die gevolg was dat die Here die swaard nooit van hulle huis laat wyk het nie (2 Sam 12:10).

Spreuke 17:14-15

Vers 14. Die begin van ’n rusie is soos water wat by ’n swakplek in ’n voor deurbreek. Stop dit voor dit in ’n volskaalse (reg)stryd ontwikkel. Vers 15. Die persoon wat op eie insig die goddelose regverdig en die regverdige goddeloos verklaar, is vir die Here ’n gruwel, want hulle rebelleer teen en verdraai die openbaring van God in die Skrif (vgl Deut 25:1).

Dit is so goed Abraham bid vir die goddeloses in Sodom en Gomorra asof hulle regverdig is en dat die goddeloses eerder as die regverdiges gered behoort te word (Gen 18). Of dit is soos ’n regter wat die skuldige vryspreek vir omkoopgeld en die onskuldige sy reg ontneem (Jes 5:23).

Die Here is egter in sy wese regverdig en “vind nie ’n onskuldige skuldig nie.” (Eks 23:7). Hy is gelukkig ook genadig. Hy verklaar goddeloses regverdig wat in Hom glo en Hom gehoorsaam (Rom 4:5). Dit is dieselfde genade wat Lot en sy mense van die oordeel oor Sodom en Gomorra gered het (2 Pet 2:7). Soos dit ook die geval was met die redding van Noag met die sondvloed (2 Pet 2:5).

Spreuke 17:16 

Spreuke beklemtoon die algemene waarheid dat ‘n dwaas nie wysheid kan bekom nie, selfs al probeer hy daarvoor betaal. Wysheid kan nie deur ’n dwaas gekoop word nie (Job 28:15-19). Wysheid begin met die vrees van die Here (vgl Spr 9:10) en groei deur ’n fokus op waarheid en ’n aanvaarding van teregwysing (vgl Spr 23:23).

Spreuke 17:17-18

Peterson vertaal vers 17: “Friends love through all kinds of weather, and families stick together in all kinds of trouble.” (The Message). Ware vriendskap en familiewees wys sy waarde in swaar tye.

Spreuke verfyn hierdie gedagtes op ’n paar plekke (’n vriend kan nader wees as ’n broer – Spr 18:24; ou vriende, veral vriende van jou ouers, kan soms meer beteken as ’n broer – Spr 27:10; ’n buurman is soms nader as ’n broer – Spr 27:10).

Maar, Spreuke is ook baie bewus van die teendeel (’n verontregte broer kan onversetlik teenoor jou raak – Spr 18:19; verkeerde maats kan jou breek – Spr 18:24; armoede kan enige verhouding versuur – Spr 19:7).

Vers 18 waarsku dat ’n mens nie moet borg staan vir enigiemand se skuld nie (vgl Spr 6:1-6). Dit geld uiteraard nie wanneer ’n mens iemand anders iets kwytskeld of help met ’n geskenk nie (vgl Spr 3:27-28).

Spreuke 17:19-21

Vers 19. Iemand wat graag stry, hou ook van sonde. Iemand wat groot praat (letterlik: “sy deur hoog maak”) soek moeilikheid. Vers 20. Valsheid vernietig voorspoed. Dit is waar van verkeerde motiewe wat kom uit ‘n perverse hart. Dit is ook waar van leuens vertel. “The twisted tongue tumbles into trouble.” (NLT). Vers 21. ‘n Dwase kind bring hartseer vir ‘n ouer. Dit suig die vreugde uit jou lewe uit (vgl Spr 17:2, 6, 25). Twee verskillende woorde vir dwaasheid word gebruik. Die eerste woord (kĕsîl) dui op skaamteloosheid of onnoselheid, ‘n “imbesiel”. Die tweede woord (nābāl) op intellektuele of morele goddeloosheid, om in gedagtes of gedrag te lewe in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie, ‘n “immorele”.

Spreuke 17:22

Hierdie vers sluit by die ander spreuke aan wat wys hoe ‘n vriendelike woord iemand kan opbeur (vgl Spr 12:25) deur ook jou eie verantwoordelikheid aan te spreek om ‘n positiewe gesindheid te kweek. ‘n Vrolike hart – a heart of rejoicing – is genesend, terwyl ‘n verslae gees – a crushed spirit – jou siek kan maak (vgl Eseg 37:1-4 se droë bene).

Spreuke 17:23

’n Mens wonder soms hoekom iemand in die openbaar die reg verdraai of hulle mag misbruik om ’n uitspraak te maak wat duidelik nie strook met die wet nie. Spreuke dui een van die oorsake aan. Omkoopgeskenke. Dit is wat baie keer agter goddelose mense se verkeerde uitsprake lê. Hulle het in die geheim omkoopgeskenke ontvang en dwarsboom so die regstelsel (vgl ook vers 8).

Spreuke 17:24-25

Vers 24 herinner ons daaraan dat wysheid nie moeilik is om te vind nie, want God gee dit vir dié wat dit soek. Moses beklemtoon die rol van die Woord: “Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.” (Deut 30:14). Jakobus beklemtoon die rol van gebed: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee.” (Jak 1:5).

Die dwaas se oë is egter nie op God en sy Woord gerig nie, maar op watter wysheid die wêreld vir hom kan gee, soos dit letterlik daar staan: “die oë van ’n dwaas is gerig op die einde van die aarde.”

Vers 25. Dwaasheid maak ouers egter seer. ’n Dwase seun is ’n hartseer vir sy pa, ’n bitterheid vir sy ma wat aan hom geboorte gegee het.

Spreuke 17:26

Om ’n regverdige (onskuldige) te straf – ’n boete op te lê – is alreeds nie goed nie; om eerbare mense te gesel – slaan met ’n kats – druis in teen wat reg is. Iets wat Jesus gewillig namens ons in sy verhoor verduur het (Joh 19:1).

Spreuke 17:27-28

Hierdie verse beklemtoon dat ’n mens moet dink voor jy praat. Vers 27. As jy regtig kennis het, kan jy kies wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Letterlik: “Hy wat sy woorde spaar, ken kennis”. ’n Kalm gees toon ware insig. Letterlik staan daar ’n “koue gees” – dws iemand se binnekant wat soos ’n poel koue water is. Dit dui op selfbeheersing, iets wat die Heilige Gees natuurlik vir ons as kinders van God gee (“God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” – 2 Tim 1:7). Vers 28. Selfs ’n dwaas wat stilbly, sal as wys en verstandig gereken word. Dit is natuurlik nie net ironies bedoel nie. ’n Dwaas wat sy woorde tel, is nie langer meer heeltemal dwaas nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar