Skip to main content

Openbaring 4

God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid

Die Here God, die Almagtige, op sy troon openbaar aan Johannes sy verseëlde agenda vir die heelal (Openb. 4) wat deur die Lam van God oopgemaak en in werking gestel word (Openb. 5).

Teks en konteks

Dit is weereens Jesus wat die leiding neem om Johannes in te lig, met ‘n stem soos ‘n trompet, soos dit was met die boodskap aan die gemeentes (vgl. Openb. 1:10). Dit is die Drie-enige God aan die werk. Ons hoor die stem van Jesus en sien Hom in die hemel as die Leeu-Lam. Ons neem die Gees se werk waar wat van Johannes besit neem en verteenwoordig word in die sewe vuurfakkels rondom die troon. Ons sien saam met Johannes die Skeppergod wat op die troon sit in onuitspreeklike heerlikheid.

Die Troon van God is die middelpunt van alles in die hemel sowel as alles in die heelal. God is die geestelike middelpunt van alles wat bestaan, soos die son die middelpunt van ons sonnestelsel is. Alles wentel om Hom. Alles aanbid Hom. Alles word deur Hom bepaal.

Alles wentel om God

Waar die eerste drie hoofstukke gehandel het oor Jesus se teenwoordigheid op aarde in die midde van die gemeentes, handel die volgende agt hoofstukke oor die Drie-enige God se teenwoordigheid in die hemel wat op alles wat bestaan in die heelal ’n verlossende en veroordelende impak het. Daarom word Johannes opgeneem deur die geopende deur in die hemel om vanuit die hemelse perspektief te kan besef wat hierna moet gebeur.

God se troon in die hemel word met min detail beskryf, behalwe die omringende reënboog wat soos smarag (groen) lyk en dat vanuit die troon weerligstrale, ’n gedreun en donderslae gekom het. Die troon bevestig God se heerlikheid en heerskappy oor alles vanuit die hemel, ten spyte van die pogings van die keisers en konings van die aarde om hulleself te laat geld in die prag en praal van hulle koninkryke.

God se voorkoms word met edelgesteentes beskryf – jaspis ([of opaal] – dis gewoonlik dofgeel tot rooi, maar hier waarskynlik bedoel as ’n wit kristalhelder steen [vgl. Openb. 21:11 wat dit só beskryf]) en karneool ([of sardoniks] – dit is helderrooi) wat sy heerlikheid uitbeeld. Sommige verklaarders sien in die jaspis iets van God se heiligheid, in die karneool iets van sy oordeel en in smarag iets van sy genade.

Rondom die troon van God het sewe vuurfakkels gebrand, die sewe Geeste van God, die simbool van die Heilige Gees. In ‘n volgende sirkel na dié vuurfakkels was ’n kristalhelder see van glas.

Twee groepe wat God in die hemel aanbid, word beskryf: die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat in ‘n volgende sirkel rondom die troon sit.

Die vier lewende wesens

Die vier lewende wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle het ses vlerke soos die serafs van Jesaja (Jes. 6:2) en is vol oë aan die voor- en agterkant, soos met die gerubs van Esegiël se wiele vol oë (Eseg. 1:18).

Hulle stel God se alwetendheid (oë) en alomteenwoordigheid (vlerke) voor in die hele skepping (Du Rand, A-Z).

In hulle aanbidding verteenwoordig hulle dan ook die hele skepping met die gesigte van die leeu, bul(kalf), mens en arend. Interessant genoeg het die Joodse rabbi’s dié vier voorstellings as verteenwoordigend van die hele skepping soos volg uitgelê: dit stel die edelste (leeu), die sterkste (bul), die slimste (mens) en die vinnigste (arend) in die skepping voor.

Nog ‘n ander interpretasie is om die leeu as simbool van die wilde diere te neem, die bul as simbool van die mak diere, die mens uiteraard as simbool van die mensheid en die arend as simbool van die voëls in die lug.

24 Ouderlinge

Rondom God se troon is die 24 trone van die ouderlinge – waarskynlik ’n simboliese getal vir die 12 aartsvaders van die OT stamme en die 12 apostels van die NT. Hulle verteenwoordig die hele volk van God, in die ou bedeling/verbond, sowel as in die nuwe bedeling/verbond.

Let op dat die vier lewende wesens God aanbid “sonder om te rus” en “dag en nag”, d.w.s. 24 uur elke dag. Hulle aanbid God vir sy grootheid en sy heerlikheid soos uitgedruk in sy alwetendheid en alomteenwoordigheid in die hele skepping.

Daarin volg die ouderlinge hulle na, wat beteken dat aanbidding die hele skepping en die hele Godsvolk se primêre en belangrikste roeping is. Dit moet alles kleur wat ons doen, dag en nag, vir altyd, eintlik sonder ophou.

Boodskap en betekenis

Openbaring 4 begrond dus alles wat hierna gebeur, elke detail daarvan, in God se teosentriese heerskappy wat alles omvat. Hy is nie net die Een wat was nie, maar ook die Een wat is, sowel as die Een wat kom, soos dit van Jesus vroeër gesê is. Daarin lê ons hoop en ons verwagting.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…