Skip to main content

Handelinge 6:8-7:60

Stefanus se marteldood stimuleer die verspreiding van die evangelie

Let op hoe ’n mens aan die einde van die vorige gedeelte – hoofstuk 1-6:7 – kon sien hoe daar in die gemeente van Jerusalem twee hoofgroepe vorm aangeneem het: die Griekssprekende Joodse Christene (Helleniste) en die Aramees-Hebreeus-sprekende Joodse Christene (Jerusalemiete). Die eerste groep, wat vermoedelik meesal uit die Hellenistiese sinagoge in Jerusalem tot bekering gekom het (Gordon Fee), is die groep wat dit regkry om grense te begin oorsteek as voorbeeld vir ander wat hulle sou navolg. Soos hulle die leiding geneem het in die bediening van die Griekssprekende weduwees (die 7 manne het almal Griekse name), neem hulle nou ook die voortou in die volgende uitbreiding van die evangelie, die tweede fase (Stefanus, Filippus).

Dit bly egter die Here Jesus self wat agter alles die eintlike voorloper van hierdie oorgrens beweging is, en wat self die vuurvreter vervolger Saulus in ’n vuurwarm verkondiger van die evangelie verander, soos ons in hoofstuk 9 sal sien, wat die vierde fase van die uitbreiding sou inlui. Jesus se Hemelvaart beteken dus nie dat Hy op ’n manier weg is dat Hy nie meer hier by ons betrokke is nie. HY is steeds betrokke by die uitbreiding van die evangelie – soos Saulus van aangesig tot aangesig sou agterkom.

Vandag fokus ons op die stimulus vir, aan die een kant, die vervolging van die Christene en, aan die ander kant, vir die uitbreiding van die evangelie. En die hoofkarakter is Stefanus wat gevang word weens sy impak op die volk, kans kry om op omvattende wyse te getuig van hoe Jesus in die hele geskiedenis van die volk van Israel ingebed is, en uiteindelik vir Hom gestenig te word.

Teks en konteks

Stefanus se toespraak is die langste in Handelinge en dien as sy verdediging teen aanklagte dat hy laster teen die tempel en die wet. Hy gee ’n oorsig van Israel se geskiedenis, fokus op hoe God voortdurend werk buite die beperkings van plek en rituele, en toon aan hoe Israel herhaaldelik God se boodskappers verwerp het. Hy gebruik die Ou Testament om sy argument te bou.

Let weereens op hoe Stefanus se bediening met die woorde wonders en tekens beskryf word, net soos nou al ’n refrein in die boek Handelinge geword het. Dit getuig van die werklikheid van God se werk in die lewe van Sy dissipels.

Dit tref my egter dat die Jode wel kan sien dat die Here werk – die verlamde man is genees, en hulle sê self dat Stefanus se gesig soos dié van ‘n engel is – maar hulle kies om die werklikheid (van God) te ignoreer, erger nog, hom te stenig daaroor. Hoe siende blind kan ’n mens nie wees nie! Maar, wat hulle vir die tweede keer regkry, is om die volk teen die ontluikende Christelike beweging te laat draai. Die eerste keer was met die kruisiging van Jesus. Hier is dit met die steniging van Stefanus.

In ‘n verstommende goeie oorsig oor die geskiedenis van die volk Israel van Abraham en Moses (met verstommende ooreenkomste met Jesus se eie bediening) se dae af tot by Salomo en die tempel, wys Stefanus aan die Jode uit hoe hulle nou, soos deur die eeue, hulle eie geskiedenis verontagsaam het. Hy vat veral hulle misplaaste vertroue op die tempel aan in plaas daarvan om op God self te vertrou. Dit is een van die redes waarom Jesus voorspel het dat die tempel vernietig sou word, omdat dit die geleentheid sou skep dat die ware aanbidding van God ’n kans sou kry, iets wat baie maklik verlore gegaan het in die amperse verafgoding van die tempel onder die Jode.

Stefanus verwys in sy toespraak na die volgende hoofmomente in die Ou Testament:

  • Abraham en die verbond (Handelinge 7:2-8): Hy verwys na Genesis 12:1-3; Genesis 15:13-14; Genesis 17:9-14.
  • Josef en die voorsiening van God (Handelinge 7:9-16): Hy verwys na Genesis 37; Genesis 39-50.
  • Moses en die verlossing uit Egipte (Handelinge 7:17-43): Hy verwys na Eksodus 1-3; Eksodus 12:40; Eksodus 3:2-10; Eksodus 32. God openbaar Homself ook buite Israel.
  • Tabernakel en tempel (Handelinge 7:44-50): Eksodus 25:9; Jesaja 66:1-2: Die hemel is God se troon en die aarde sy voetbank.
  • Profete en afvalligheid (Handelinge 7:51-53): Jesaja 63:10; Amos 5:25-27; Eksodus 20:1-17. Israel het afgode gevolg selfs in die woestyn.

Stefanus gebruik hierdie gedeeltes om sy aanklag te versterk dat Israel herhaaldelik God se boodskappers verwerp, insluitend Jesus, wat die uiteindelike vervulling van God se plan is.

Maar sy skerp teregwysing lei tot sy steniging. Sy laaste woorde eggo Jesus s’n aan die kruis. Let op hoe Lukas beskryf hoe die Jode hulle ore toedruk en Stefanus stenig – dit is ’n grusame simbool van hulle wrede weerstand ten spyte daarvan dat hulle die wonders en tekens nie kan ontken nie. Die tragiese episode eindig met die bekendstelling van Saulus wat nog ‘n groot rol sou speel in die ontvouende verhaal van die evangelie, hoewel hy hier nog aan die kant van die Joodse Raad optree.

Boodskap en betekenis

Stefanus se toespraak en dood beklemtoon dat God nie beperk is tot plekke of rituele nie, maar deur sy mense werk in enige omstandighede. Dit onthul die weerstand van die Joodse leiers teen God se werk, terwyl dit die weg baan vir die verspreiding van die evangelie buite Jerusalem. Stefanus staan as ‘n model van vrymoedige getuienis, wat wys hoe geloof in Jesus krag gee te midde van vervolging, en hoe vergifnis en gehoorsaamheid God se werk bevorder selfs in dood.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar