Skip to main content

Jesaja 49-50

Die Dienskneg van die Here is die lig vir die nasies

In Jesaja 49-50 verskuif die fokus na ‘n eerstepersoon oproep van die Dienskneg van die Here aan die eilande en afgeleë nasies om na Hom te luister, want Hy is gegee as ‘n lig vir die nasies (Jes 49:1-6). Die Here kom daarna aan die woord met ‘n boodskap van herstel vir sy volk Israel (Jes 49:7-13), ten spyte van hulle beswaardheid, want hulle naam is op sy twee handpalms ingegrif (Jes 49:14-21). Hy sal optree ter wille van sy volk sodat almal sal juig oor die troos wat Hy vir sy magtelose volk bring Wie op Hom wag, sal nie beskaamd wees nie (Jes 49:22-26).

Die Here se krag sal alle teenspraak laat verkrummel (Jes 50:1-3). Waarna weer in die eerstepersoon die Dienskneg van die Here sy keuse vir lyding ter wille van die volk motiveer op grond van sy  verbintenis aan die Here HERE (Adonay Jahwe). (Jes 50:4-11)

Jesaja 49:1-6

Dit is die Dienskneg van die Here wat praat, dws Iemand wat aangestel is deur God om sy Dienskneg te wees waardeur God se mag ten toon gestel sal word. Hy is waarlik mens, gebore uit ‘n vrou, maar tegelykertyd aangestel as Dienskneg. Hy kry die Naam Israel, omdat Hy die ideale Israel verteenwoordig. Maar, Hy is tog ook anders as Israel, omdat Hy juis gekies word om Israel na God toe terug te lei. Jakob en Israel is uitruilbare name.

Soos Jeremia (Jer 1:3) word Hy voor geboorte al geroep. En soos Jeremia (bv Jer 11:18-17) ervaar Hy pyn in die uitvoer van sy roeping. Hy is bang dat sy opoffering verniet en tevergeefs sal wees (Jes 49:4), en dit is ook duidelik dat Hy verag en verafsku is (Jes 49:7).

Tog staan Hy vas in sy vertroue dat God aan Hom reg sal laat geskied, en vrug op sy arbeid sal gee, met selfs die konings en leiers wat Hom sal erken.

Hy aanvaar sy pyn sowel as sy vreugde, want Hy is oortuig dat Hy deur God bevestig sal word. Trouens, Hy sal selfs as lig vir die nasies aangestel word om hulle ook na God toe terug te bring: “Ek gee jou as ‘n lig vir nasies, sodat my heil sal strek tot aan die uiteindes van die aarde.”

Jesaja 49:7-13

Die profeet kom nou aan die woord met ‘n woord van bemoediging van die Here af wat aan die Dienskneg van die Here gerig is, in woorde wat Paulus op Jesus van toepassing maak (Hand 13:47; 2 Kor 6:2). Die verandering word as ‘n gebedsverhoring – waarskynlik van die Dienskneg van die Here – beskryf (Jes 49:8).

Hy word nou die verbintenis, die verbond, van God met die volk om die land te herstel, en die mense te versorg. Maar let op dat die tydsberekening daarvan volledig afhang van die inisiatief van die Here. Gebed is noodsaaklik vir verandering, maar nie ‘n outomatiese versekering van verandering nie.

Die Siniete is ‘n onbekende volk. Hoewel hulle ook op ‘n paar ander plekke in die Bybel genoem word (Gen 10:17; 1 Kron 1:15), is die verwysing onbekend. Sommige geleerdes verbind dit met ‘n plek in Egipte (Siëne – die 2020-vertaling het: “gebied by Aswan”), maar dit bly steeds ‘n onopgeloste raaisel.

Jesaja 49:14-21

Dit is steeds die profeet wat aan die woord is met ‘n woord van bemoediging in antwoord op die volk (Sion) se beswaardheid dat die Here hulle vergeet het. Die Here bemoedig hulle en voorspel dat hulle asem sal wegslaan oor wat God in die toekoms gaan doen.

Die redding laat die hemel en aarde uitbars in lof. Tog is Sion steeds bang dat die Here hulle vergeet het, wat die Here met ‘n pragtige en vertroostende paar metafore beantwoord: ‘n vrou kan nie haar baba vergeet nie; Israel is onuitwisbaar in God se twee handpalms ingegrif. Let op hoe die Here die stelligheid van sy belofte aan sy lewe self koppel (Jes 49:18). Hy staan met sy lewe in vir die uitkoms.

Jeremia 49:22-26

Dit is steeds die profeet in nog ‘n verdere woord van bemoediging aan die oorblyfsel wat uit alle lande na die Here se land gebring sal word. Almal sal agterkom dat die Here God is.

Die oorvloedige uitkoms (nageslag) vir Israel dien as woord aan die nasies om hulle te oortuig dat God vertrou kan word, en dat Hy die enigste Here is.

Jesaja 50:1-3

Jesaja wy hier weer uit oor die redes vir die ballingskap – hulle sondes. Maar, hy verheerlik met twee retoriese vrae die Here as die Een wat selfs uit sondeskuld kan red: “Was my hand werklik te kort om te red? Of was daar geen krag in My om uit te red nie?”

Jesaja 50:4-11

Hierna kom die Dienskneg weer aan die woord in ‘n selfgesprek oor sy ervaringe in sy bediening. Hy dink na oor sy toerusting wat Hom in staat gestel het om dié wat moeg is, moed in te praat. Die belangrikste manier waarop dit gebeur het, was dat Hy na God geluister het en dat dít sy bediening gestruktureer het. Daarom kon Hy volhard in die ontsettende lyding wat Hom in die uitvoering van sy bediening te beurt geval het. Só het die Here Hom gehelp om staande te bly in die aangesig van onregverdige aanklagtes.

Elkeen wat dus na dié Dienskneg luister, sal die lig sien aanbreek in sy lewe, en die donker kan ontwyk. Laat ‘n mens dink aan die eerste hoofstuk van Johannes se evangelie waar Hy oor die Woord van God praat – Jesus – wat die lig vir die mense is (Joh 1:1-14).

Daarteenoor sal almal wat Hom probeer skuldig verklaar het, soos ‘n kleed verslyt. Motte sal hulle wegvreet. Almal wat brandpyle teen Hom aangesteek het, sal in die gloed van hulle eie vuur in ‘n plek van pyniging gaan lê. Deur sy hand sal dit gebeur!

Boodskap en betekenis

Die gedeelte gee ‘n mens ‘n kykie in die worsteling wat die Dienskneg van die Here moet deurgaan. Daar is die vreugde van die roeping en heerlike uitkoms, maar ook die pyn van verguising en verwerping. Hy aanvaar egter sy pyn sowel as sy vreugde, want Hy is oortuig dat Hy deur God bevestig sal word.

Trouens, dit is die weg waarlangs Hy as die lig vir die nasies aangestel word om hulle ook na God toe terug te bring: “Ek gee jou as ‘n lig vir nasies, sodat my heil sal strek tot aan die uiteindes van die aarde.”

Hy is die verbintenis, die verbond, van God met die volk om die land te herstel, en dit sluit mense uit alle nasies in.

In Handelinge 13:46-52 gebruik Paulus en Barnabas Jesaja 49:6 om die impak wat Jesus as die lig vir die nasies op die heidene het, te onderstreep. Dit kom ten koste van die Jode wat hulle teen Hom verset:

“Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar aangesien julle dit verwerp en julleself nie die ewige lewe werd ag nie, kyk, nou wend ons ons tot die heidennasies. Want so het die Here dit aan ons opgedra: ‘Ek het jou aangewys as ‘n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.’”

Dit is wonderlik om te lees dat toe die heidene dit hoor, hulle bly was: “En diegene wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.

Die Jode het egter ‘n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf, tot hulle ewige skande.

In 2 Korintiërs 6:2 haal Paulus Jesaja 49:8 aan om ‘n beroep op die Korintiërs te doen om God se bereidwilligheid om hulle te ontvang aan te gryp. Net soos God Israel uit ballingskap herstel het, versoen Hy nou mense met Homself deur Christus. Die dag van verlossing waarna Paulus (en Jesaja) verwys, dui op die tydperk tussen Christus se eerste en tweede koms waarin versoening met God vir alle mense beskikbaar is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar