Skip to main content

1 Tessalonisense 5

Onverwags maar nie onverwag nie

Paulus sluit duidelik in hierdie laaste hoofstuk aan by dinge wat hy hulle met sy eerste besoek al geleer het. Wat uitstaan van sy lering hier oor die wederkoms van die Here is die skielike onverwagse aard daarvan. Die Here sal soos ’n dief in die nag verskyn.

Op ’n baie kunstige wyse beskryf hy die gelowiges egter as mense van die lig, wat beteken dat hulle wakker sal wees as Jesus weer kom, en dié dag dus nie hoef te vrees nie.

Die wederkoms is dus onverwags, maar nie onverwag nie!

Teks en konteks

Paulus moedig hulle aan om steeds nugter en wakker te bly, interessant genoeg met dieselfde woorde waarmee hy die brief begin het: geloof, liefde en hoop (ook weer in dieselfde volgorde). Let op die oorlogsterminologie, waarop hy later in die brief aan die Efesiërs sal uitbrei (hfst. 6).

Sy laaste woorde het met respek vir leiers, wat moontlik nog onervare sou wees, en omgee vir mekaar te make. Die omgee sluit teregwysing sowel as bemoediging in, opkom vir die regte van mense wat kwaad aangedoen word en die beywering vir die belange van nie net medegelowiges nie, maar ook die mense van die gemeenskap.

Let op hoe Paulus blydskap, gebed en dankbaarheid aan mekaar verbind as die lewenstyl wat hulle ten toon moet stel.

Hy moedig die gemeente aan om die werk van die Heilige Gees toe te laat, heel moontlik veral in die vorm van profesieë, maar met ’n onderskeidende gees. Profesieë moet getoets word.

Hy sluit af met ’n verwysing na God wat in staat is om hulle te bewaar.

Boodskap en betekenis

Die volgende storie illustreer iets van hoe hierdie dankbaarheid waarvan Paulus praat, werk, en inspireer my om ook dankbaar te lewe:

Corrie ten Boom in The Hiding Place vertel van ’n insident wat haar geleer het om altyd dankbaar te wees. Sy en haar suster, Betsy, is oorgeplaas in die Tweede Wêreldoorlog na een van die ergste Duitse tronke, Ravensbruck. Die barakke waar hulle moes slaap, was oorvol en vol vlooie. Hulle lees een oggend vers 18 uit Tessalonisense 5: “Wees in alle omstandighede dankbaar” waarop Betsy Corrie aanmoedig om die Here ook te dank vir elke detail van hulle kwartiere. Corrie het eers geweier om vir die vlooie dankie te sê, maar op Betsy se aandrang het sy ingegee en die Here ook vir die vlooie gedank. Met tyd het hulle agter gekom dat hulle ongehinderd kon Bybelstudie hou en bid sonder dat die wagte tussenbeide gekom het. Dit was eers na ’n paar maande dat hulle besef het dat die wagte nie daar wou kom nie, as gevolg van die vlooie!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar