Skip to main content

Psalm 120

Here, bevry my van bedrieglike tonge

Psalm 110-118 in die 5de Psalmboek het die geloofsgemeenskap herinner aan God se (veral Messiaanse) beloftes uit die verlede wat bedoel was vir ‘n beter toekoms. Psalm 119 het hulle gehelp om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die Woord wat bedoel was vir die uitdagings van elke dag in die hede.

Psalm 120-134 help nou op soortgelyke wyse die geloofsgemeenskap om te fokus op die belewenis van God se teenwoordigheid in die tempel waar hulle met mekaar versterk kan word vir die geloofstryd. Dit is waar hulle saam sing en die Here loof wat hulle innerlik die krag kry om te doen wat die Woord van hulle vra.

Hierdie vyftien Psalms word daarom Pelgrimsliedere genoem wat bedoel was om drie keer ‘n jaar met die reis na die groot feeste by die tempel in Jerusalem gesing te word om onder andere die verlange na God (Ps 121), die gebed vir Jerusalem (Ps 122), die belydenis van afhanklikheid van God (Ps 123), en die gebed om beskerming van God (Ps 125) te verwoord.

Hoewel net vier van hierdie Psalms direk aan Dawid toegeskryf word (Ps 122; 124; 131; 133), hanteer ek die meeste van die Pelgrimsliedere hier, omdat die inhoud ooreenstem. Dit geld ook Psalm 132 wat nie ‘n Psalm van Dawid is nie, maar wel ‘n Psalm vir Dawid. Dit is dus heel waarskynlik in sy tyd geskryf deur ‘n anonieme skrywer.

Twee van dié Psalms sal egter later hanteer word. Psalm 126 is na aanleiding van die inhoud heel waarskynlik ná die ballingskap geskryf, en word dus ook later hanteer. Psalm 127 word aan Salomo verbind en sal dus as deel van Salomo se verhaal hanteer word.

Teks en konteks

Hoewel Dawid nie direk genoem word in die Psalm nie, is dit moontik geskryf na aanleiding van Dawid se ervaring van vreemdelingskap. Hy gebruik moontlik die twee uiteenlopende plekke, Meseg (in Turkye) en Kedar (in Arabië) as metafore vir sy ervaring van vreemdelingskap buite die grondgebied van Israel. Hoe dit ook al sy, die Psalm is uiteindelik as die begin van die Pelgrimsliedere gekies om die tuiskoms in Jerusalem uit die “vreemde” te vier.

Die nood (en konteks) van Psalm 120 lê waarskynlik in die xenofobiese kwaadpratery wat die Psalmis ervaar het in sy verblyf in die noord-weste in Mesek en in die suid-ooste in Kedar (Ps 120:5). Die burgers van hierdie lande was mense wat gelieg en bedrieg het in hulle verhouding met hom (Ps 120:2-4) en altyd gereed was vir oorlog (Ps 120:7), omdat hy ‘n vreemdeling was in hulle land. Vreemdelingehaat het sy verblyf daar dus amper onhoudbaar gemaak.

Mesek word verbind met die landstreek Frigië in Klein-Asië (vgl. Eseg. 27:3; 39:1) wat ons vandag as ‘n deel van Turkye ken. Kedar is min of meer waar Arabië vandag is suid-oos van Israel. Terloops, ons lees in die NT hoe Jode van Frigië die wonder van die Pinksteruitstorting ervaar het (Hand. 2:10) en deur Paulus bedien is (Hand. 16:6; 18:23).

En al is die Psalmis ten gunste van vrede – letterlik staan daar: “Ek is vrede” (anî-sjâlôm) – reageer sy teenstanders op enigiets wat hy sê met oorlogvoering (waarskynlik ‘n “woorde-oorlog”, maar dit kan ook meer om die lyf gehad het).

Maar, die Psalmis verkondig dat hy sy toevlug neem tot die Here – eintlik as verteenwoordiger van almal wat in soortgelyke situasies verkeer – en getuig dat die Here hom in sy nood geantwoord het. Let op die raak beskrywing van hoe God hulle bedrieglike taal troef: sy woorde is soos “die skerpgemaakte pyle van ‘n held saam met gloeiende besemboskole.” (120:4 – 2014-vertaling). Dit is so flymskerp soos ‘n skerpgemaakte pyl wat getemper is oor gloeiende kole.

Maar, die Psalmis bely ook dat hy nou al te lank woon by mense wat vrede haat. En ‘n mens kan jou amper indink in sy onuitgesproke gedagtes – op pad na die tempel toe – dat dáár in die geloofsgemeenskap hy weer vrede in die teenwoordigheid van die Here sal ervaar.

Boodskap en betekenis

Ek kan my indink in die ervaring van die pelgrims wat Psalm 120 as hulle eie lied gesing het terwyl hulle oor die berge en die dale van hulle verspreide verblyf in die vreemde na Jerusalem opgetrek het, en die Psalm met intense heimweë en hartlike verlange gesing het.

Dié Psalm is dus ‘n lied vir almal wat die pyn van vreemdelingskap en vreemdelingehaat ervaar, waar julle jul ook al mag bevind. Soms voel ‘n mens mos ‘n vreemdeling selfs in ‘n bekende omgewing. Die Here belowe bevryding van bedrieglike tonge.

Veel later sou Petrus aan die vreemdelinge in die Diaspora – die verstrooiing van gelowige Jode – skrywe in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1) – dele wat grens aan Frigië (Mesek) – en hulle met genade en vrede seën omdat hulle deur God uitverkies is en ‘n nuwe hoop het op ‘n erfenis: “wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word …” (1 Pet. 1:2,4).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…