Skip to main content

2 Kronieke 32:20-23, 26-33; 2 Konings 19; 20:20-21; Jesaja 37

Gebed en vertroue beweeg God tot optrede

Ons het nou in detail gefokus op Sanherib se bedreiging en lees vandag die reaksies in gebed en vertroue van Hiskia en Jesaja sowel as die uitvoering van God se planne deur die Engel van die Here wat van die “voortyd” af al gereed is om uitgevoer te word in antwoord op hulle gebed. 2 Kronieke 32:20-23 is ‘n kort opsomming van die gebeure, en 2 Konings 19 die uitgebreide weergawe. 2 Kronieke 32:26-33 en 2 Konings 20:20-21 is ‘n opsomming van sy lewe. Jesaja 37 kom amper woordeliks met 2 Konings 19 ooreen, so jy kan dit laat as jou tyd beperk is.

Teks en konteks

2 Kronieke 32:20-23 gee ‘n kort sinopsis van die verdere gebeure. Hiskia en Jesaja het met gebed gereageer op die uitdagings van die Assiriërs: “en na die hemel om hulp geroep.”

Die Here het beslissend daarop gereageer deur die Engel van die Here te stuur wat: “elke dapper kryger, leier en bevelvoerder in die kamp van die koning van Assirië uitgewis het.” Sanherib het daarop: “beskaamd na sy land teruggekeer.” Met groot ironie word beskryf hoe hy in sy eie afgodstempel gaan aanbid, maar deur sy eie seuns vermoor is. Dit was twintig jaar later in 581 vC volgens Assiriese bronne (wat ook vir ons ‘n idee gee van hoe lank Jesaja se bediening was).

Die Here het dus vir Hiskia-hulle verlos uit die hand van Sanherib. Trouens, die Here het hulle aan alle kante rus gegee met baie offers en kosbaarhede wat aan Hiskia geskenk is, want hy het na hierdie gebeure hoë aansien geniet in die oë van al die nasies.

2 Konings 19 (en Jesaja 37) vertel die verhaal in sewe episodes wat verskeie gesprekke tussen Hiskia, Jesaja, en Sanherib insluit, sowel as gesprekke met die Here wat fokus op die Assiriese aggressie en lastering waarop Hy beslissend antwoord.

1. Hiskia se boodskap aan Jesaja

Hiskia, in rouklere weens die krisis, stuur ‘n boodskap na Jesaja van die huis van die Here af oor die moeilikheid waarin die stad hulle bevind en brei uit oor die vernedering wat nie net vir Israel te beurt geval het nie, maar wat ook die lewende God self getart het.

“Miskien sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het. Begin dan bid ter wille van die res wat nog oorgebly het.”

Let op hoe hy staatmaak op Jesaja om as Intersessor op te tree, maar dat hyself ook in gebed die Here nader.

2. Jesaja se boodskap aan Hiskia

Jesaja stuur ‘n boodskap na Hiskia van die Here af dat Hy die Assiriese uitdaging sal afweer, trouens die Here sal die koning laat terugkeer na sy eie land en hom daar laat doodmaak, soos later bevestig word: “Kyk, Ek gaan ‘n gees van hom besit laat neem, en hy sal ‘n gerug hoor en terugkeer na sy land.” Die Here werk dus deur sy eie gedagtes, sowel as deur gerugte wat hom van stryk bring.

3. Die hoofadjudant se berig aan Sanherib

Die hoofadjudant (rabsakee) tref Sanherib aan waar hy besig is om Libna (stad in Juda, egter onseker waar dit geleë was) aan te val, vermoedelik om hom in te lig oor wat in Jerusalem gebeur het.

4. Sanherib se boodskap aan Hiskia

Sanherib kry egter terselfdertyd ook berig dat koning Tirhaka van Ethiopië (eintlik op dié stadium ‘n generaal wat eers later koning word van Egipte, en nog later van Ethiopië) op pad was om hom aan te val.

Hy stuur briewe aan Hiskia moontlik met die hoop dat hy hulle bang kan praat terwyl hy die uitdaging uit die Suide kan hanteer, waarin hy uitbrei oor al sy vorige suksesse. Gosan was in Mesopotamië (Sirië); Haran was die stad in die noord-ooste van Mesopotamië (vandag in die weste van Turkey) waarvandaan Abraham na Kanaän getrek het; Resef is die moderne Rusafa (Bagdad in Irak); Eden in Telassar is onseker, moontlik ‘n gebied naby die Eufraat; Hamat en Arpad was ook in die ooste van Mesopotamië (Sirië) en Laïr, Sefarwajim, Hena en Awwa is meer na die weste in Mesopotamië (Irak).

5. Hiskia se gebed tot die Here

Uiteindelik wend Hiskia hom direk tot die Here en sprei die briewe in gebed voor Hom uit. Let op hoe Hiskia die Here se Almag, Alleen-heerskappy oor al die koninkryke van die aarde en Skepper-status erken en vra dat Hy sal luister en sal oplet wat met hulle gebeur: “Draai u oor na my, Here, en luister! Here, maak u oë oop en kyk!”

Hy erken wel die mag van Assirië, maar nie die mag van sy gode nie! Hulle is: “net die werk van mensehande, hout en klip.”

Die spits van sy gebed is die lastering wat Sanherib pleeg teenoor die Here, met die versoek dat die Here hulle sal red as ‘n teken aan alle nasies dat “net U, Here, God is.”

6. Die Here se antwoord aan Hiskia deur Jesaja

Let op hoe die Here vir Hiskia deur sy profeet antwoord. Dit is in twee dele: ‘n woord aan Sanherib en ‘n woord aan Hiskia.

Sanherib word gewys op sy flagrante oorskatting van sy mag wat hom verlei het om God te minag. Hy is net die instrument van die Here wat nou weens sy arrogante hoogmoed verwerp sal word. Sion gaan vir hulle lag as die Here hulle verwoes weens hulle lastering van die Heilige van Israel.

Trouens, die Here het in die verre verlede reeds sy planne gereedgemaak vir hierdie tyd. Dit het ingesluit dat Assirië sy mag sou uitbrei, maar hulle het hulle mandaat oorskry.

Hiskia word ‘n teken gegee, soos aan sy pa, Agas, ‘n paar dekades tevore, van ‘n normalisering van die landbou wat die vryheid van die Assiriese verdrukking vir die volk simboliseer. Let op die redes vir dié optrede van God: 1) ter wille van Homself en sy eer en 2) ter wille van God se dienaar Dawid en Sy verbintenis aan dié se nageslag.

7. Die Engel van die Here se optrede teen Sanherib en die Assiriese leërmag

Die Engel van die Here tree teen Sanherib op met ‘n groot slagting – 185 000 man – en sonder dat Hiskia en sy mense ‘n vinger verroer, word die Assiriese bedreiging die hoof gebied wat ‘n gedeeltelike vervulling van die profesieë teen Assirië inhou (Jes 10:33-34; 30:31; 31:8). “Toe die mense van Jerusalem vroeg die oggend opstaan, was hulle morsdood, almal lyke!”

Sanherib is terug na sy hoofstad Nineve waar hy deur twee van sy seuns doodgemaak is, Adrammeleg en Sareser (waarskynlik 20 jaar later in 681 v C soos Assiriese inskripsies te kenne gee), en deur ‘n derde seun, Esarhaddon, opgevolg is – 37:36-38.

Konings en Kronieke som Hiskia se lewe op deur te verwys na sy baie groot rykdom en eer: “ja, God het vir hom besonder baie besittings gegee.” Hy het was suksesvol in alles wat hy aangepak het.

Boodskap en betekenis

Op ‘n baie praktiese wyse word die boodskap van Jesaja 30 hier geïllustreer: in stille vertroue en gebed kom God in beweging en red Hy sy volk van bedreiging. Hiskia se inspirerende woorde aan sy manskappe om die Here te vertrou, het gekom uit ‘n hart wat self aan die Here vasgehou het vir sy optrede.

Dit is ‘n woord ook aan elkeen van ons. Ons krag lê in stil vertroue wat ruimte laat vir God om op te tree. Hiskia was gehoorsaam om die volk aan God te bind, om hulle in die krisis te bemoedig, te verseker dat die stad beveilig is so goed as wat hy kon, maar sy vertroue het uiteindelik by God se optrede gelê. So is dit ook met ons. Wees gehoorsaam. Doen wat jy moet. Maar, vertrou die Here vir die uitkoms.

Hiskia leer ons, God is nie daar net vir ons voorspoed nie. Hy is nie ons talisman nie. Hy is nie daar om alle swaar van ons lyf en van ons mense af te weer nie. Nee, Hý bring soms benoudheid oor ons om ons te help om agter te kom wat regtig in ons lewens aan die gang is.

  • Sommige benoudhede kom oor ons om ons te help verstaan waar ons te kort skiet, waar ons genade nodig het in ons lewe, waar ons tot bekering moet kom (Rom 2:9). Ons doen verkeerd, ons het gebrekkige insig, ons maak verkeerde keuses en ons betaal baie keer die prys van ons eie nalatigheid en dom-astrantheid. En ons moet nie probeer om dít weg te steek. Bely en laat staan is die enigste manier om sonde in jou lewe te hanteer.
  • Ander benoudhede kom oor ons pad omdat ons nodig het om tot beter selfkennis te kom. Trouens, die Kronieke skrywer sê dit van Hiskia dat God hom verlaat het: “om hom te toets en hom sy eie hart te laat ken.” (2 Kron. 32:31). Hoe sal jy weet hoe jy onder druk sal optree, as jy nie soms onder druk kom nie? Hoe sal jy weet of die Here se gebod dat jy jou vyande moet liefhê deel van jou manier van lewe geword het, as jy nie soms vyande moet hanteer nie?
  • Petrus sluit hierby aan en sê dat daar nog ’n dieper rede is as net selfkennis en dit is dat beproewinge nodig is “sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.” (1 Pet. 1:6). Want ons geloof is baie kosbaar en moet getoets word sodat dit vas en seker kan vasgryp aan God om in Hom ons hele saligheid te vind.
  • En dan is daar nog ’n dieper rede as maar net ons self. Dit gaan in benoudheid nie net om ons sonde, of ons selfkennis of ons geloof nie. Dit gaan uiteindelik en ten diepste oor God self, want, sê Petrus, ons geloof moet getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig kan wees by die wederkoms van Jesus Christus. Dit gaan dus uiteindelik oor God en wat van Hóm in óns lewe gesien kan word. Sodat Jesus as Here geëer kan word.

Dit moet ons aanmoedig om aan die een kant te doen wat ons kan om reg te lewe, die regte dinge te doen, alles van ons kant af te doen wat ons weet ons moet.

Maar, aan die ander kant, moet Hiskia se verhaal ons ook aanmoedig om self in die tempel te gaan sit, by wyse van spreke, met die briewe van die gevare wat ons bedreig oopgesprei voor die Here en Hom vra, Luister tog … Red ons tog. Want Hy hoor en Hy verhoor.

Die tafel is dus nou gedek vir die volgende hoofdeel van Jesaja om te begin, hoofstuk 40-66. Jesaja gaan ons aandag daar fokus op die verlossing wat God vir sy volk ook uit die gevaar van Babilon gaan bring, onder andere deur die bediening van die Dienskneg van die Here wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66), waarin dit ook duidelik raak dat die boodskap die grense van ’n eng Judese interpretasie oorskry.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar