Skip to main content

Jesaja 29

God gee insig vir die nageslag

Hoofstuk 29 het drie perikope:

  1. God straf sy volk, sowel as hulle vyande – Jesaja 29:1-4; 29:5-8
  2. Die straf is weens hulle hart wat ver van God af is – Jesaja 29:9-16
  3. God sal egter weer insig gee en hulle leer – Jesaja 29:17-24

Jerusalem word hier simbolies Ariël genoem, ‘n naam wat verskillend geïnterpreteer word. Dit kan beteken “leeu van God”, “sterkman/held van God” (afgelei uit die woord vir sterk man in 2 Sam 23:20), of “vuurherd van God” (soos dit in Eseg 43:15 gebruik word – vgl Jes 31:9b wat dié interpretasie steun). Dat vers 2 na die stad as ‘n vuurmaakplek (vuurherd) verwys, maak laasgenoemde interpretasie die meer waarskynlike.

Teks en konteks

Jesaja 29:1-4

God kondig ellende oor sy volk aan, al verloop dit ook langsaam. Hulle val – grusaam en grillerig beskrywe as dat net ‘n spookstem uit die stof van hulle sal oorbly – is verseker. Dit beteken – soos Jesaja nou al baie gesê het – daar sal eers oordeel wees, voor die vreugde van omkeer en verandering sal aanbreek.

Jesaja 29:5-8

Tog sal die Here Hom uiteindelik oor hulle ontferm en die vyand daarna soos stof laat wegwaai. Let weereens op hoe kunstig die skrywer-digter dit doen met die parallelle gebruik van die verwysing na die stof uit die vorige deel. Die omkeer word met groot natuurtekens beskrywe – donderslae, aardbewings, storms, orkane – wat die toekoms van die vyande in ‘n nagmerrie verander.

Jesaja 29:9-16

Let op hoe die tema van onbegrip – ‘n sleutelopdrag van Jesaja (Jes 6) – hier ook binne die konteks van die blinde profete en onverstandige sieners (1 Sam 9:9 – ‘n vroeëre naam vir profete) van die volk geplaas word. Die volk se onbegrip is ook veroorsaak deur die geestelike leiers. Terloops – die Ethiopiër in Handelinge 8 is juis besig om Jesaja te lees wanneer Filippus hom vra: “Verstaan jy wat jy lees?” Die boodskap van Jesaja word dan vir hom – God sy dank! – op ‘n verstaanbare wyse uitgelê sodat hy die Here kan aanvaar.

Die probleem van die volk in Jesaja se tyd is egter nog dieper as net die gevolg van die geestelike leiers se versuim – hulle geloof in God is net lippetaal; dit kom nie uit die hart nie. Dit bring God se oordeel oor hulle. En daaroor sal hulle God nie kan verwyt nie, net maar hulle eie ongehoorsaamheid. “Julle is agterstevoor met alles!” (vers 16). Jesus sou later dié woorde op die Fariseërs van toepassing maak – Markus 7:6-7.

Jesaja 29:17-24

Tog kan God nie Homself keer om insig te bring nie –Sy lig kan nie in die laaste instansie weggesteek word nie. Hy verander die lot van die natuur (die Libanon se bos word ‘n vrugteboord) sowel as van die mense: dowes kan hoor en blindes weer sien (vgl Jesus wat dit as ‘n sleutelelement van sy eie opdrag verstaan het – Luk 4). Let op hoe dit spesifiek ook die arm mense betrek. Wreedheid en ligsinnigheid sal uit hulle samelewing verdwyn, onreg sal uitgeroei word, en almal sal God eer. Alle lae van die samelewing sal in vrede met mekaar en met God lewe.

Die belofte vir ouers wat hierin opgesluit lê, tref my besonderlik: God belowe in vers 22-24 dat Abraham nie meer hoef skaam te wees (bleek van verleentheid!) vir sy kleinseun Jakob en dié se nageslag se dwaling nie, en netso die nageslag self – hulle sal God eer vir die kinders wat Hy op hulle beurt vir hulle sal gee. Die kinders sal die Here eer en vir Hom ontsag hê. Selfs: “dié wat gedurig foutgevind (gemurmureer) het, sal hulle laat leer”! Watter belofte om aan vas te gryp, en ‘n droom om voor te lewe!

Boodskap en betekenis

Die boodskap van Jesaja raak net al hoe sterker. God hou die weg van die lewe vir sy volk sowel as alle nasies voor. Hy wil hê hulle moet die pad kies wat Hy vir hulle voorberei het. Wanneer hulle hulle in hoogmoed teen Hom verhef, straf Hy hulle, maar altyd met die oog daarop dat daar moontlik ‘n omkeer kan kom. Met die geringste aanduiding van insig of inkeer, kom sy seën in werking. Trouens, Hy kan Homself nie keer om insig te bring nie, want die duisternis kan sy lig nie uitdoof nie.

Neem vandag hierdie belofte vir jou kinders ter harte: “Dan sal hulle wat verbyster van gees is, insig leer ken, en hulle wat gemurmureer het, sal onderrig aanvaar.” (2020-vertaling)

Dank die Here aan die een kant vir die belofte, en bid aan die ander kant met nuwe ywer dat hulle Hom sal eer en vir Hom ontsag sal hê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…