Skip to main content

Nahum 1

Die Here sorg vir wie by Hom skuil

Inleiding

Die profeet Nahum, ‘n bietjie ouer as Jeremia en Sefanja, word as Elkosiet aan ons bekendgestel, dws afkomstig van die dorpie Elkos, moontlik in Noord-Galilea volgens die geskiedskrywer Hiëronimus. Sommige identifiseer dit met die dorpie Kapernaum waar Jesus later sou optree.

Sy beskrywings van die stad Nineve, asook twee moontlike Assiriese leenwoorde (“mense aan jou hof”, en “amptenare” – 3:17), getuig egter volgens sommige geleerdes van ‘n deeglik genoeg kennis van die stad dat hy moontlik daar gebly het, moontlik ’n nasaat van mense wat weggevoer is met die ballingskap van die noordelike tienstamme ryk (2 Kon 15). Ons weet egter nie genoeg oor hom om met groter sekerheid daarop uit te brei nie. Hy sou ook dié profesieë in Juda kon gelewer het.

Nahum bevat ‘n grusaam-helder boodskap van God se finale oordeel oor Nineve, die hoofstad van die Assiriërs. Dit word as ‘n troosboodskap aan die mense van Juda aangebied: “Vier maar jou feeste, Juda! Betaal jou geloftes, want die booswigte sal nooit weer deur jou trek nie; hulle is almal uitgeroei.” (1:15).

Indien aanvaar word dat die verhaal van Nineve se bekering in die tyd van Jona histories korrek was – soos Joodse geskiedskrywing dit aanbied in Tobit en die Jerusalemse Talmoed (hier is skakels na die onderskeie Engelse tekste daarvan by Ebible en CDL ) – was dié bekering óf halfhartig óf het dit nie vir lank gehou nie. Die oordeel van Jona, al het hy nie gelewe om dit te aanskou nie, het dus wel in vervulling gegaan, soos Nahum dit voorspel.

Die historisiteit van Jona se verhaal al dan nie, verander egter nie wesenlik aan die boodskap van Nahum nie. Nahum se boodskap is nie afhanklik van ondersteunende getuienis van die ander profete nie. Dit staan selfstandig as boodskap van God wat in die konkrete geskiedenis van die wêreldpolitiek van sy tyd vervul is met die val van Nineve in 612 vC.

Wat belangrik is om te onthou, is dat Assirië op die kruin van hulle mag is met die lewering van hierdie profesieë. Die Here sê egter oor hulle: “Al was hulle ook in volle sterkte, so baie as wat hulle was, soveel is afgemaai. En hy het verdwyn.” (1:12).

Nahum verwys ook na die Egiptiese stad Thebe wat deur die Assiriese koning Assurbanipal II ingeneem is (663 vC). Die profeet gebruik hierdie gebeurtenis as ‘n voorbeeld van die vernietiging wat vir Nineve voorlê (Nah 3:8-10). Dit is dus heel waarskynlik kort hierna geskryf.

Na Assurbanipal II se dood in 627 vC, is Assirië verswak deur ‘n reeks interne stryde. Terselfdertyd het Babilon sterker geword. In 612 vC is Nineve deur ‘n koalisie van Babiloniërs en Meders verower.

Nahum laat hom dus nie beïnvloed deur die oënskynlik onaantasbare mag van die wêreldmag van die Assiriërs nie. Hy luister na die beoordeling van die Here, en verkondig hulle val, vóórdat enigiets daarvan sigbaar raak.

Teks en konteks

Nahum begin in vers 1 om sy boek as ‘n profesie of uitspraak van die Here téén Nineve te tipeer. Dit bevat die openbaring van die Here van wat met hulle, sowel as met die Godsvolk, gaan gebeur.

God se liefde en oordeel word in die werklikheid voltrek – Nahum 1:2-8

Let op hoe dié boek begin met die prentjie van hoe God oor sy volk en sy mense voel: “Die Here is ‘n God wat baie begaan (jaloers of besitlik) is oor sy volk.” Sy gevoel vir die volk – sy jaloersheid of besitlikheid oor hulle – sluit in dat Hy Hom wreek op sy teëstanders, dié wat dit waag om téén Hom en daarmee ook teen sy volk in opstand te kom. Hulle word dus God se teëstanders omdat hulle die volk van Hom wil afrokkel. Dit is wat die jaloersheid of besitlikheid van God in wese beteken. Dit is om nie enige mededingers in sy verhouding met sy volk te duld nie. Daarom is jaloersheid in die Godsbeskrywing nie ‘n sonde nie, maar ‘n deugde.

Die karakter van God word daarna verder beskryf aan die een kant in eienskappe soos lankmoedig (Nah 1:3) en goed (Nah 1:7) en aan die ander kant in handelinge soos die groot krag waarmee Hy optree waar dit nodig is (Nah 1:3). ‘n Hele aantal skeppingsfenomene word genoem om God se kosmiese krag waarmee God chaos tot orde roep, mee uit te druk – rukwind, storm, wolke, droogte (Basan, Karmel en Libanon was bekend vir hulle vrugbaarheid), en aardbewings.

Dit herroep ook die tye in Israel se geskiedenis wat dié tekens God se openbaring vergesel het, in die woestyn met die Uittog (see wat droog word), op Sinai met die gawe van die wet en op Horeb met die hernuwing van God se roeping van Elia. God gee sulke teofanieë – Godsverskynings – as openbarings van sy magtige teenwoordigheid.

Let op hoe God se liefde en sy oordeel in vers 7 en 8 langs mekaar gestel word. Aan die een kant is God goed, en is Hy ‘n toevlug in tyd van nood. Daar kan altyd op Hom gereken word om te sorg vir dié wat by Hom skuil. Aan die ander kant is Hy ook soos ‘n vloed wat alles meesleur, en gaan Hy dit illustreer deur “haar plek” – Nineve – nou weg te vee soos met ‘n besem.

Dit is klaar met jou, Nineve! – Nahum 1:9-15

Nahum verkondig hier die eeu-oue waarheid van die spreuk: “Die mens wik, maar God beskik.” Nineve kan maar planne maak. Wat hulle ook al bedink, die Here sal dit tot niet maak. Hulle planne vir Juda sal spesifiek nie geluk nie. Al was hulle so ondeurdringbaar soos inmekaargevlegte dorings en deurweek van drank (moeilik verstaanbaar, maar miskien beteken dit natgemaak as beskerming teen die vuur), sal hulle soos kurkdroë stoppels verbrand word (vers 10).

Uit die verlede herroep Nahum die oorwinning van koning Hiskia oor Assirië in die tyd van die veldslag van Sanherib (vgl 2 Kon 19). Hy/hulle het kwaad bedink teen die Here, maar dit was planne wat nie geslaag het nie. Trouens, Hiskia het oorwin sonder om ‘n vinger te verroer. Die Here het die veldslag vir hulle gewen.

Die Here sê vir Nineve: “dit is klaar met jou.” ‘n Mens kan ook vertaal: “jy is onbenullig.” Ironies: die groot rolspeler op die wêreldverhoog is in God se oë onbenullig, van geen waarde nie. Op die punt om van die wêreldtoneel af te verdwyn.

Dié boodskap moet Juda met vreugde vervul. Hulle kan hul feeste vier en hulle geloftes betaal. “Die verdrukker sal nie weer deur jou land trek nie, hy is verslaan, vernietig.

Boodskap

Die versoeking is groot om die groot rolspelers op die wêreldtoneel as die hoofakteurs van die menslike drama te beskou. Die Assiriërs met hulle hoofstad in Nineve was immers in oortreffende trap ‘n groot rolspeler wat oor ‘n wye gebied geheers het in die 7de eeu vC.

Nahum help ons om die eintlik groot rolspeler op die wêreldtoneel en die ware hoofakteur van die menslike drama raak te sien. Dit is die Here self, dié God wat wel lankmoedig en geduldig is, maar met gloeiende toorn kán optree om Hom op sy teenstanders te wreek. Die feit dat dinge vir jare oënskynlik deur die wêreldmagte beheer en gestuur word, is presies dit, oënskynlik.

Agter die skerms is God besig met sy haarfyn beplanning en uitvoering van sy wil vir hierdie lewe. Dit het hy in die verlede bewys. Dit sal Hy ook in die toekoms bewys. Assirië – en enige mag daarvoor of daarna, ook die magte van vandag – sal uiteindelik voor God se mag moet buig. Om die waarheid te sê, Nahum kan met stelligheid die waarheid verkondig aan dié magte wat God nie erken nie: “Al is hulle hoe sterk, hoe baie, hulle sal afgemaai word en tot niet gaan.” Hulle is in sy oë onbenullig.

Daarteenoor staan die wonderlike troos dat die Here “sorg vir dié wat by Hom skuil.” “Hy is ‘n toevlug in tyd van nood.” Daarop kan sy mense te alle tye staatmaak. Dit is waar ook vandag. Dit is waar ook vir jou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…