Skip to main content

2 Samuel 23:8-39; 1 Kronieke 11:10-47

Dawid se dapper manne

Ek hanteer die laaste woorde van Dawid in 2 Samuel 23:1-7 eers aan die einde van ons leeswerk in 2 Samuel, omdat dit baie waarde het om dié woorde aan die einde van Dawid se lewe te lees, om só insig te kry in dié dinge wat sy gedagtes vasgevang het aan die einde van sy lewe.

Ek volg hier Samuel se orde deur die gedeeltes nou eers te lees. Kronieke plaas dieselfde gegewens aan die begin van die verhaal van Dawid om doelbewus te beklemtoon wie almal aan Dawid se kant was vóór die ark Jerusalem toe is. Die skrywer van Samuel plaas die bydrae oor Dawid se dapper manne later om aan die einde van Dawid se lewe dieselfde te sê.

Ek het reeds vroeër 1 Kronieke 12:1-22 hanteer in die konteks van die verhaal in 1 Samuel 27, omdat dit oor dieselfde gebeure handel. Dieselfde met 1 Kronieke 11:1-9.

Dawid se dapper manne word in die twee gedeeltes in ‘n uitgebreide lys vereer, en geplaas in ‘n rangorde van dapperheid. Kronieke verhelder op punte die Samuel-teks.

Daar word meer as dertig name in die dertigtal genoem, heel moontlik omdat hulle van tyd tot tyd in Dawid se termyn aangevul is. Sommige het inderdaad in oorlog gesneuwel en is aangevul (bv Asael en Urija). Die dertigtal is dus ‘n titel, nie ‘n presiese getal nie.

Teks en konteks

Dawid se koningskap word sterk ondersteun deur die leiers van sy dapper manne

2 Samuel 23 en 1 Kronieke 11 werk met dieselfde detail, maar Kronieke voeg ‘n paar ekstra dapper manne by van vers 41 af. Let op veral na die naam van Urija, die Hetiet, wat een van Dawid se dapper manne was. Die detail oor Batseba, wie se man hy was, word egter in Kronieke uitgelaat.

Dit is nie oral maklik om die twee lyste van helde te vergelyk nie, want daar is ‘n paar name wat verskillend is, en van die getalle kom ook nie ooreen nie. Dit wil ook lyk asof Samma se naam uitgeval het in Kronieke, omdat hy die derde naam van die drietal in Samuel is, en Kronieke nie die derde een in die drietal noem nie. Jasobam (Kronieke) en Joseb-Bassabet (Samuel) is wel waarskynlik dieselfde persoon waarvan die naam net verskillend gespel is wat beteken dat die drietal Jasobam, Eleasar en Samma moet wees. Die verwysing na die dertigtal in Kronieke is ook waarskynlik ‘n skryffout en moet eerder op ‘n drietal dui soos in Samuel.

Hoe dit ook al sy, die punt wat Kronieke maak met dié lys van dapper manne, is enersyds dat God sy werk deur mense doen. Hy werk deur die dapperheid van die helde wat hier genoem word. Let byvoorbeeld op hoe die Kronis oor die drie dapper helde (Jasobam, Eleasar en Samma) wat in ‘n garsland gaan stelling inneem het en die Filistyne verslaan het, sê: “en so het die Here vir hulle ‘n groot oorwinning gegee.”

Andersyds dien dié helde natuurlik ook om Dawid se posisie verder te bevestig, want hulle was lojaal aan hom. Hulle vertrou hom om die Here se wil uit te voer

Boodskap en betekenis

Dit is gepas dat die name van diegene wat hulle onderskei het ter verdediging van Israel en van koning Dawid in die verslag van sy regering opgeteken word. Die koning sou nooit soveel bereik het sonder sy lojale en dapper helde nie. Die Here het hulle aan Dawid lojaal gemaak en sy koningskap só in die gemeenskap ondersteun.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…