Skip to main content

Jesaja 59

God sorg dat sy Gees en woorde nie verlore raak vir sy volk nie

Jesaja 59 sit drie sake op die tafel:

  1. Dit is nie God wat te stadig is om te help nie, maar sondes wat Hom traag maak om te luister – Jesaja 59:1-8.
  2. Geweld en duisternis is sondige mense se voorland – Jesaja 59:9-15.
  3. Tog tree God steeds as Verlosser op en sorg dat sy Gees en woorde nie totaal verlore raak vir sy kinders nie – Jesaja 59:16-21.

Teks en konteks

Jesaja 59:1-8

Dit is só ‘n belangrike perspektief op God. Hy is nie doof vir ons gebede nie. Dit is ons wat die skuld dra vir dinge wat verkeerd loop, omdat die heilige God sy aangesig vir ons verberg wanneer ons sonde doen, sodat Hy ons nie uitwis in sy toorn nie.

Ons raak as’t ware “swanger” van moeilikheid, en “gee geboorte aan onheil,” uitgedruk met skrikwekkende metafore van die vrug van kobras, adders en spinnekoppe wat vir niks anders deug as onheilswerk nie.

In ons sonde maak ons self ons paaie vol kinkels. “Niemand wat daarop loop, ervaar vrede nie.”

Jesaja 59:9-15

Vir mense wat in rebellie teen God lewe, is geweld egter die enigste opsie om hulle behoeftes te bevredig en duik die reg in die hek; struikel mense helder oordag soos in die skemer, omdat hulle pad pikdonker bly en God se lig afwesig is: “Ons tas soos blindes aan ‘n muur, asof sonder oë tas ons rond.”

Die probleem is dat ons oortredings en sonde teen ons getuig. Sonde is per definisie om weg te draai van God af. Dit maak ons “swanger” van leuentaal wat die waarheid laat struikel.

Die Here sien dit…

Jesaja 59:16-21

Interessant hoe Jesaja vir God teken in vers 16, dat Hy verbaas is dat niemand tussenbeide tree nie; daarom tree Hyself op en laat Hy geregtigheid geld. Hy vergeld volgens verdienste en laat sy Naam en mag geëer word. Hy tree op as Verlosser met sy Gees wat teëstanders op loop jaag.

Watter wonderlike, hoewel ook ontnugterende, belofte in vers 21. God sorg dat sy Gees en woorde (vgl Jer 31:33; Rom 10:8) nie verlore raak vir die volk en hulle nageslag nie – ten spyte van hulle ongehoorsaamheid. “Nie nou nie en nooit nie”! Watter genade!

Boodskap en betekenis

Hoe ontbloot vers 1 nie ons wanpersepsie van God nie! Dit is nie God wat te stadig is om te help nie. Dit is nie sy krag wat te kort skiet om te help nie. Dit is ons sonde wat ‘n skeiding bring tussen ons en God en wat maak dat Hy nie na ons wil luister nie. Chaos kom nie van God se onvermoë af nie, maar van ons gebrek aan verantwoordelikheid.

Ons verteer sulke uitsprake vandag maar moeilik. Dit val vreemd en swaar op die oor. Maar dit is ‘n beklemtoning wat regdeur die OT voorkom (Deut 31:17; Miga 3:4; – let op Ps 27:9 waar die Psalmis juis vra dat God Hom nie sal verberg weens oortredinge nie!). In die NT praat ook Jakobus daaroor – “Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. 3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (4:2c-3).

Maar as ‘n mens regtig nougeset na God se motivering van sy afsydigheid luister, dan kan Hy dit nie waag om maar net te gee wat ons vra nie, omdat dit ons sal laat dink dat dit maar reg is om onreg te pleeg, en leuens te vertel. God soek egter eerlikheid en betroubaarheid by dié wat Hom aanroep en van Hom om uitkoms vra.

Hy wil ook hê dat ons eie woorde lewe moet bring vir ander, soos Hy dit doen, en nie die lewe uit ander wurg met ons woorde nie. Dán sal Hy luister en gou wees om aan ons goeie goed te gee. Let op die grillerige beelde van slangeiers en spinnerakke wat as metafore vir sulke betekenislose leë woorde gebruik word.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar