Skip to main content

Prediker 1:1-11

Alles kom tot niks. Daar is niks blywend nie.

Die Prediker was nie ‘n profeet, priester of geskiedskrywer wat oor die belangrike godsdienstige en historiese aspekte van Israel as Godsvolk praat nie. Daarom soek ‘n mens tevergeefs in Prediker vir tradisies rondom die ontstaan van die wêreld, die aartsvaders, die Uittog uit Egipte, die Intog in Kanaän, en die belangrike momente van Israel se bestaan as volk.

Waaroor die Prediker nadink, is die sin van die lewe en of dit enigsins te vinde is. Hy dink na oor watter manier van lewe wys sou wees, en watter onwys, watter lewenstyl waarde het en watter nie. Byvoorbeeld, wanneer hy oor die aanbidding van God praat (hfst 5), fokus hy nie op die waarde van die tempel en die godsdienstige nut daarvan nie, eerder op watter benadering tot God daar wys sou wees, en wat nie. En sy slotsom is dat luister beter is as praat.

Die Prediker staan dus in die wysheidstradisie van Israel. Dat hy ook ‘n leraar in dié wysheidstradisie was, lei ‘n mens uit die naam “Prediker” (Qohelet in Hebreeus) af. Die naam beteken “sameroeper”, wat dit waarskynlik maak dat hy een of ander amptelike rol gehad het, moontlik as sameroeper van die Godsvolk in hulle samekomste (Pred 12:9), wat ook die taak van lering in die wysheid gehad het (vgl Jer 18:18 wat van “raadgee” as taak van die wyses praat, op vergelykbare vlak met die profete en priesters).

Hy staan dus in die tradisie van die wysheidsleraars, soos die skrywers van Spreuke en Job, wat oor die sin van die lewe nagedink het, gesoek het vir begrip en insig oor hoe dinge in die praktyk werk, en probeer het om hulle leringe op hulle ervarings van die werklikheid van die lewe te baseer. Hulle het daarom gesoek na patrone en ordes in die werklikheid (of die gebrek daaraan!), om daaruit beproefde beginsels en wyshede af te lei, wat tot hulp kan wees in die lewenskuns.

Van die wyshede is:

  • as spreuke verwoord (“Wat krom is, kan nie reguit word nie” – Pred 1:15),
  • ander as raad (“As die heerser vir jou kwaad word, moenie jou pos verlaat nie” – Pred 10:4),
  • ander as opdragte (“Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug” – Pred 11:1),
  • nog ander as voorbeeldverhale (die verhaal van die tronkvoël wat koning geword het – Pred 4:14-16).

Wie die Prediker presies was, histories gesproke, is egter moeiliker om vas te stel. Omdat die boek van hom praat as ‘n koning van Israel, boonop ‘n seun van Dawid (Pred 1:1,12), is hy tradisioneel met Salomo verbind. Trouens, daar is ’n tradisie wat sê dat Salomo Hooglied in die fleur van sy lewe geskryf het, Spreuke gedurende sy middeljare, en Prediker aan die einde van sy lewe.

Salomo se naam kom egter glad nie in die boek voor nie. Pred 1:12 praat ook van dié koningskap in die verlede tyd. Dit kan nie van Salomo geld nie, omdat hy immers oorlede is toe hy nog koning was. Die boek vertoon daarby inhoudsgewys ook geen verdere tekens van só ‘n koningskap nie, selfs, anders as wat ‘n mens verwag, nie in die laaste hoofstuk nie. Die Prediker was dus waarskynlik net ‘n wysheidsleraar, wat homself in die boek voorstel in die rol van die koning, om gewig aan sy argumentasie te gee, sonder dat hy dit inderdaad was.

Teks en konteks

‘n Handige manier om Prediker te lees, is aan die hand van drie aspekte van die Prediker se wysheid, soos RBY Scott dit in sy kommentaar opsom (Anchor Bible):

  1. One must face facts;
  2. One must learn to live with what cannot be changed;
  3. One must develop the capacity to find enjoyment in work and wisdom and in the very experience of living.

Probeer dus, soos jy lees, die dele in die teks te merk wat vir jou tref as:

  1. feite waarmee jy rekening moet hou (bv regverdiges word nie noodwendig meer as goddeloses beloon nie – 8:14),
  2. onveranderlikhede wat jy moet leer om te aanvaar (bv korrupsie is deel van enige burokrasie – 5:7-8), en
  3. vreugdes wat jy deel van jou lewe moet maak (bv geniet die lewe met die vrou/man wat jy liefhet – 9:9).

Kies dan een van dié feite, onveranderlikhede of vreugdes om (losweg gebaseer op Lectio Divina):

  1. diep daaroor na te dink, veral oor die praktiese betekenis vir jou lewe,
  2. met die Here daaroor te gesels in gebed, en
  3. jou lewe daarop te baseer of daaraan toe te wy.

Dit kan (en sal!) jou lewe verander.

Lees die inleiding 1:1-11

Ons vind hier twee van die hooftemas van die boek, beide oorhoofse feite en onveranderlikhede:

  • “Alles is hebel” (alles kom tot niks). Die woord kan op baie verskillende maniere vertaal word: niks, nietigheid, ’n rookwalmpie, ’n miswolkie, ’n wasempie. En Hebel word in die boek op alles van toepassing gemaak – op die soeke na plesier en vreugde, op die keuse vir wysheid eerder as dwaasheid, op die ritmes van die lewe, op die wanbalans tussen reg en onreg, op die voorkoms van verdrukking en geweld, op fluksheid sowel as luiheid. Kortom, in die 37 keer wat dit gebruik word, beskryf die woord eintlik alles “onder die son”! Die woord funksioneer dus eintlik as ’n metafoor vir die kern of die wese van die menslike toestand – “Alles kom tot niks”. Dit is nou behalwe drie goed: om iets as ’n gawe van God te geniet; om saam te wees en om God te dien – maar daaroor praat hy eers ’n bietjie later …
  • Daar is geen wins “onder die son” nie. Vers 3 kan vertaal word met: “Watter wins het die mens vir al die moeite waarmee hulle swoeg onder die son.” En die antwoord is duidelik – daar is geen wins nie! Daar is niks nuut of permanent nie. In die ewige siklus van lewe en dood, bly alles altyd maar net dieselfde. En daarom kan alles vir die Prediker met hebel beskryf word, kom alles tot niks. Met vele voorbeelde uit die geskiedenis en natuur, sowel as uit die menslike werklikheid, motiveer hy sy argument: die kom en gaan van geslagte, die gang van die son, die rigting van die wind, die vloei van die riviere, die vlugtigheid van woorde, die onversadigbaarheid van sig, die onklaarkomstigheid van gehoor, en die verydeling van die vergetelheid. Niks gee vir jou permanensie nie. Niks is ooit werklik nuut nie. Soos Peterson daarvan sê: “Everything’s boring, utterly boring”. Alles kom tot niks.

Die Prediker se rasionele reis om alles in die lewe te deurdink, het dus uitgeloop op sy bevinding dat die lewe moeilik is. Alles kom tot niks. Daar is niks wat blywend is nie. Selfs die wysheid as sodanig het geen blywende nut nie. Dit is die harde werklikheid van die lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar