Skip to main content

Psalm 57

Van vrees na versekering

Psalm 57 word weereens met ’n noodsituasie uit Dawid se lewe verbind, dié keer met die gebeure toe hy van Saul in ‘n grot ingevlug het. Ons lees in Samuel van twee sulke geleenthede, waarvan hierdie Psalm waarskynlik na die tweede verwys, die verhaal in 1 Samuel 24, waar Dawid ’n stukkie van Saul se mantel afgesny het. Veral Psalm 57:7 kan ‘n digterlike verwysing na hierdie gebeure in die grot wees: “Hulle het ’n gat vir my gegrawe, maar self daarin geval”.

Dit is ook interessant dat hierdie Psalm ooreenkomste met ’n hele klomp ander Psalms het. Vers 8–12 word met kleiner verskille teruggevind in Psalm 108:2–6. Vers 11 kom ooreen met Psalm 36:6. Vers 7–14 het ook sterk ooreenkomste met Psalm 60:7–14 van dieselfde Psalmboek. Dit kan beteken dat Psalm 57 ’n bron van formulerings vir ander Psalms was, hoewel dit natuurlik moeilik bewys kan word.

Teks en konteks

Die aanwysing vir die koorleier om die Psalm uit te voer op die wysie van “Moenie verwoes nie!” (OAV) is een wat ook vir die volgende twee Psalms gebruik word (Ps 58 en 59 – Ps 75 verwys ook daarna). Dit is nogal ‘n veelseggende titel – aan die een kant vra Dawid in die Psalm om God se genade te ervaar, en nie verwoes te word nie, maar vra wel aan die ander kant vir verwoesting vir sy vyande.

Die Psalm het twee verse wat as herhalende refreine gebruik word, vers 6 en 12: “Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel, u mag hoog bo die aarde.” Treffende woorde as ’n mens wegkruip in ’n grot! Dit gee ’n natuurlike verdeling van die Psalm in twee gedeeltes:

By U soek ek skuiling – vers 2-6

Let op hoe die grot vir Dawid eintlik ’n metafoor word van sy behoefte aan skuiling by God – vers 2. Hy wil by God skuil tot die bedreiging verby is. Sy fokus is op God wat sal antwoord in sy liefde en trou en dié wat hom jaag (Saul) die stryd sal laat verloor – vers 4. Hy bevind hom tussen mense wat hom wil verskeur, soos leeus met spiese en pyle vir tande en swaarde vir tonge – vers 5. Daarom beroep hy hom in sy vrees op God se grootheid en mag wat nie deur die aardse struwelinge ontmagtig word nie – vers 6.

Ek voel weer veilig – vers 7-12

Die situasie is omgekeer, die gat wat vir hom gegrawe is, het tot hulle eie ondergang gelei – vers 7. Daarom voel Dawid weer veilig en verseker, iets wat hy twee keer herhaal om dit te beklemtoon – vers 8. Hy wil daarom in die oopte buite die grot gaan sing, die rooidag wakker maak, omdat God sy situasie verander het – vers 9. Die rol van die profeet Gad kan moontlik hier verreken word wat hom moed ingepraat het om weer terug te keer na Juda. Let op hoe hierdie boodskap ook van universele betekenis geag word, iets waarvan die nasies kennis moet neem. God se liefde reik tot in die hemel, sy trou tot in die wolke – vers 11.

Boodskap en betekenis

Die wraakgedagtes in die Psalm is deel van die sin vir regverdigheid wat die OT openbaar, en in Dawid se gebede geëggo word: “’n Oog vir ‘n oog, en ‘n tand vir ‘n tand.” (Eks 21:24; Deut 19:21 – vgl ook Lev 24:20). Die kwaad móét vergeld word aan dié wat dit gepleeg het, en God word ingeroep as die een wat dit moet uitdeel.

Vir ons wat die NT ken, klink dit vreemd, maar ons moet onthou dat ons die voordeel het dat ons die volle openbaring van Jesus Christus ontvang het, en by Hom gehoor en gesien het hoe vyandsliefde werk: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie.” (Matt 5:38-39).

Ons volg daarom vir Paulus na wat op grond van die openbaring van Jesus Christus ons as volg geleer het: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld,’ sê die Here.” (Rom 12:17-19 – Paulus haal uit Deut 32:35 aan).

Die wraakPsalms het egter ‘n plek, enersyds as ‘n perspektief op die pad wat Dawid met God gestap het ten spyte van die onvolledigheid daarvan, en andersyds as ‘n verwoording van ons eie geregverdige woede oor onreg en vervolging. Soms het ons nodig om “woorde aan ons woede te gee” (Bybel vir die Lewe), en die wraakPsalms kan ons daarmee help.

Ons moet ook nie vergeet dat daar wel ‘n oordeel aan die einde van die tyd is waar God sy reg om te straf en te vergeld sal uitoefen. Dat ons in genadetyd leef, moet ons nie die sekerheid van die oordeel deur God laat vergeet nie. Paulus is duidelik daaroor: “Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk.”  (Rom 1:18)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…