Skip to main content

Job 27

So lank ek lewe, sal ek niks verkeerd sê nie

In hoofstuk 27 sluit Job by sy heel eerste worstelgesprek in hfst. 3 aan wat gehandel het oor die angs wat hy verduur oor die verlies van sy goed en besittings.  Ná hy in hoofstuk 26 gekla het oor die sinnelose raad van sy vriende en die onverklaarbaarheid van God se misterieuse karakter, fokus hy nou op sy onregverdige en onskuldige lyding (27:1-12).

Dit bly verstommend en inspirerend dat hy steeds bly by sy voorneme om niks te sê wat verkeerd is nie: “so lank as die asem van God in my is.” (27:3-4).  Hy sluit sy klag af met ‘n verwysing na die lot wat God uitmeet vir die goddeloses, wat eintlik ‘n implisiete teregwysing van sy vriende is, soos die gebruik van die meervoud waarskynlik aantoon (27:13-23).

So lank ek lewe, sal ek niks sê wat verkeerd is nie – 27:1-12

Job se onwrikbare keuse om by die Here te bly, en aan Hom getrou te lewe, sonder om selfs iets verkeerds te sê, terwyl hy steeds worstel met die oorsake van sy lyding en verydeling, bly ongelooflik.  Wat egter begin duidelik word, is dat Job werk met die fundamentele waarheid dat hy alles wat hy ontvang het, sy goed en sy gesondheid, van God self af ontvang het.

Dit is omdat God leef, dat hy wat Job is leef.  Dit is omdat die asem van God in hom is, dat hy wat Job is enigsins kan praat.  Dit is omdat God die lewe gee, dat hy in gesprek kan tree met God. Daarom bly Job se getrouheid aan die Here absoluut, verlaat hy nie sy voorneme om die Here te dien nie, selfs al kan hy dié God nie verstaan nie, en tref die onverstaanbaarheid van onskuldige lyding hom in al sy felheid.

Maar, omdat hy van albei dinge oortuig is: dat God in beheer is van die lewe, en dat hy nie iets verkeerd gedoen of gesê het nie, help dit hom om weerstand te bied teen die beskuldigings van sy vriende.  Hulle onbegrip vir sy situasie kom vanaf hulle onbegrip van wat God regtig besig is om te doen. Daarom kan Job dit afwys as ‘n sinnelose gepraat.  Uiteindelik steur hy hom nie aan hulle perspektiewe nie, want dit is nie waar nie: “tot my dood toe sal ek volhou dat ek onskuldig is.  Ek bly daarby dat ek reg het, ek sal daarvan nie afsien nie.” (27:5-6).

Job se vriende het sy vyande geword met hulle verkeerde interpretasie van sy lewe.  Dit illustreer ook hulle verdraaide Godsbewussyn.  Hulle sê die regte goed oor God, maar in die verkeerde situasies. Daarom bring hulle woorde nie hoop nie, en wens hy hulle die lot van die goddeloses en die godloses toe.

Die Almagtige blaas die goddeloses weg uit hulle plek – 27:13-23

Job dink weer na oor wat die drie vriende oor die goddelose gesê het, en gee hulle toe dat God uiteindelik optree teenoor die goddeloses, maar maak dit eintlik op hulle van toepassing.  Dié wat nie reg praat oor God nie, dié wat Hom nie waarlik dien nie, dié wat Hom nie regtig erken nie, dié beleef dat hulle voorspoed tydelik is: “Die goddelose se huis is tydelik, soos ‘n kokon vir ‘n mot.” (27:18).

Die goddelose gaan slaap as ‘n ryk man, maar vind dat alles weg is, as hy weer sy oë oopmaak (27:19).  Soos hy sonder genade geleef het, só storm die wind op hom af sonder genade: “Die wind klap sy hande van blydskap terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas.” (27:23).

‘n Oorsig oor die derde gespreksrondte – Job 21-27

In die derde gespreksrondte reageer Job weereens skerp op die drie vriende se ontleding van wat die lot van die goddelose is. Hy kom in opstand daarteen dat hy volgens hulle nie ongeduldig mag raak nie, want sy klag is dan juis nie teenoor mense nie.  Hulle moet dit tog kan sien en eerder stilbly van verbasing oor dít wat hom oorgekom het (Job 21).

Elifas se antwoord daarop is egter net so skerp.  Hy verwyt Job dat hy vanselfsprekend onregverdig en onbarmhartig moes wees.  Daarom is Job besig om onder te gaan. Job moet hom net onderwerp aan God en hy sal weer vrede en voorspoed belewe (Job 22).

Job se antwoord daarop is egter dat hy juis in sy soeke na God gefrustreer word.  Sy soeke na God is vrugteloos en maak hom eerder vreesbevange.  Ten spyte van die feit dat hy meer waarde heg aan God se woorde as aan sy eie begeertes, is hy bang vir God, omdat hy nie verstaan wat in sy lewe aangaan nie (Job 23).

Nog minder verstaan hy wat in die wêreld aangaan, want die feit dat die Almagtige nie optree teen die wydverspreide onreg van mense in die wêreld nie, verdiep sy ongemak en ontsteltenis.  Dit lyk vir Job asof dieselfde lot regverdiges en onregverdiges tref, en dít maak net nie sin vir Job nie. Het vromes en goddeloses dan dieselfde einde?  Hoe kan dit wees?  Hoe kan dit regverdig wees? (Job 24).

Bildad se kort antwoord is natuurlik olie op Job se vuur.  Bildad neem sy toevlug tot die eenvoudige teologie dat God groter is as Job.  Op sy kenmerkende brutale manier probeer hy Job dus stilmaak met die soewereiniteit van God.  Daarmee eindig die drie vriende se pogings om Job te antwoord en met hulle eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie tot inkeer te probeer bring.  Sofar kom nie eers aan die woord nie.

Die drie vriende se raad kon dus nie die komplekse aard van Job se verlies beskryf nie en vir hom in kontak bring met die Een op wie sy lewe gerig was.  Job is immers iemand wat meer waarde heg aan God se woorde as aan sy eie begeertes, en net ‘n woord van God sou sy hart tot berusting kon bring.

Job antwoord op Bildad se laaste bydrae met die deurpriemende vraag na die oorsprong van sy drie vriende se bydraes in hulle gesprekke: “Met wie sy hulp het jy gepraat?”.  Met vyf vrae oor hulle hulp, bystand, raad, en insig, ontbloot hy hulle fundamentele gebrek aan ‘n doelgerigte luister na God, en wys dat hy eintlik nog dieper as hulle die misterieuse karakter van God besef wat uiteindelik alle mense se begrip – ook sy eie –  ontglip (hfst. 26).

In hoofstuk 27 sluit Job by sy heel eerste worstelgesprek in hfst. 3 aan wat gehandel het oor die angs wat hy verduur oor die verlies van sy goed en besittings ten spyte van die feit dat hy nie in sy vroomheid verslap het nie.  Hy kla oor sy onregverdige en onskuldige lyding, al bly hy steeds by sy voorneme om niks te sê wat verkeerd is nie: “so lank as die asem van God in my is.”.

Job bly dus vroom tot die einde toe.

So lank ek lewe, sal ek niks verkeerd sê nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar