Esegiël 22
“Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
Die fokus skuif terug na Jerusalem en die naderende ballingskap. Esegiël formuleer die boodskap in drie punte, telkens ingelei met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom.” (22:1, 17, 23).
- In die eerste deel brei Esegiël uit oor ‘n hele aantal van die redes vir die ballingskap – 22:1-16. “Hulle maak of Ek nie daar is nie.”!
- In die tweede deel gebruik hy die metafoor van ‘n smeltoond om God se houding teenoor hulle as een van oordeel te tipeer – 22:17-22.
- In die derde deel word die gevolge van God se oordeel uitgespel. Dit is daarom hul verdiende loon – 22:23-31.
Teks en konteks
Esegiël 22:1-16 – “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
Jerusalem word die stad van bloedvergieting genoem weens die afskuwelike dade wat daarin gepleeg is. Let op hoe baie keer die woord “bloed” eksplisiet en selfs implisiet (menstruasie) in die gedeelte gebruik word. Dit dui op die sosiale geweld en mishandeling wat veral die weerloses getref het. Gekoppel aan hulle afgodery het hulle God se wet dus beide in terme van hulle verbintenis aan God en hulle verbintenis aan hulle naaste oortree. Dit is dié dinge wat hulle oordeel verhaas het.
Die koning en die gewone mense het saamgespan teen God en hulle naaste. Let op hoe Esegiël uitwys dat hulle nie net die vreemdeling, wese en weduwees verdruk en mishandel het nie, maar dat selfs kinders hulle ouers verag het. Godsdienstige misdrywe is aangevul met sosiale en seksuele misdrywe wat op ‘n grootskaalse gemors in die gemeenskap uitgeloop het. Dieselfde het op regsgebied gebeur met omkopery, bedrog en woekerwins. Kortom: “Hulle maak of Ek nie daar is nie”!
Op die oog af kom die mense selfversekerd voor in hulle argelose afvalligheid. Maar, sê die Here, dít sal van korte duur wees. Hulle einde kom verseker en dit sal vinnig wees.
Esegiël 22:17-22 – God maak hulle ‘n smeltoond van oordeel
Al die verskillende lae van die samelewing in Jerusalem word nou as’t ware in die smeltoond van God se oordeel gegooi en gesmelt soos ‘n mens dit met verskillende metale – koper, tin, yster, lood, silwer – sou doen. Die metafoor word egter nie ingespan om as simbool van verfyning of veredeling te dien nie, maar as bevestiging van die sekerheid van die uitwissing deur God se toorn.
Esegiël 22:23-31 – Ek laat julle kry wat julle verdien
Esegiël vervolg met die gevolge van God se toorn vir almal in die land. Dit tref die regeerders en hulle magsmisbruik (vgl. Sef. 3:1-4 vir soortgelyke beskrywings). Dit tref die priesters wat nie God se eer beskerm het nie. Dit tref die amptenare wat wreed is teenoor die gemeenskap. Dit tref die profete wat die volk mislei. Hulle funksioneer immers soos “religious tranquillizers” (Taylor). Dit tref alle burgers wat ander verdruk en beroof. Trouens, alle klasse in die samelewing kom hulle verantwoordelikhede nie na nie. Selfs die land sal dus in die proses verdroog.
Die ontstellende is dat die Here iemand gesoek het: “wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.” (22:30). Almal is dus skuldig – sommige weens hulle eie toedoen, ander weens hulle nalatigheid. God se toorn gaan hulle almal dus tref. “Ek laat hulle kry wat hulle verdien.” (22:31).
Boodskap en betekenis
Twee aspekte van hierdie drie punt preek van Esegiël staan vir my uit.
Aan die een kant lewe die mense van Jerusalem asof die Here nie daar is nie. Hulle doen presies wat hulle wil, maak nie saak hoe dit ander raak nie. Solank hulle gierigheid en gulsigheid net bevredig kan word. “Hulle maak of Ek nie daar is nie”! Geen wonder dat die oordeel hulle tref nie. Want, God is nie ver van ons af nie. Sy oë is oral. En Hy reageer op wat in die samelewing en die gemeenskap van gelowiges gebeur.
Aan die ander kant soek die Here verniet na iemand om in die bres te tree vir die stad. Iemand wat tussen Hom en die volk sal staan om die situasie te beredder. Maar, daar is niemand nie. Selfs die profete en priesters doen nie hulle werk nie. Jeremia het ‘n alleenstryd gestry in Jerusalem, maar het uiteindelik geen impak op die gemeenskap van sy tyd gehad nie. Sy prediking en beloftes sou eers ná sy dood hulle impak hê (vgl. bv. Daniël 9).