Skip to main content

2 Konings 8:16-24; 2 Kronieke 21

Jehoram volg die verkeerde voorbeelde en word gruwelik gestraf

Die fokus verskuif terug na die Suidryk, Juda, met die verhaal van Jehoram (848-841 vC) wat sy pa, Josafat, opgevolg het as koning en weens die familiebande wat hom met die Noordryk verbind het, die “pad van die konings van Israel” volg (2 Konings 8:16-24), soos almal van die huis van Agab dit gedoen het. 2 Kronieke 21 draai nie doekies om oor watter slegte invloed hy in Juda gehad het nie en nie net word hy deur Elia in ‘n brief (sy enigste skriftelike nalatenskap) berispe nie (hulle termyne het oorvleuel – vgl 2 Kon 1), maar sterf hy aan ‘n ongeneeslike siekte. Maar, die Here bly verbind aan Juda ten spyte van hulle afvalligheid, en besluit om hulle ‘n kans te gee, en hulle nie te vernietig nie.

Teks en konteks

Jehoram was die oudste van sy ses broers wat deur die Kronis genoem word, en wys gou sy wreedaardige karakter deur hulle en sommige van die Israelitiese leiers te laat vermoor ná hy die troon bestyg het. Dat hy getroud was met ’n dogter van Agab word hom verkwalik deur beide Konings as Kronieke, maar nog dieper as dit was sy probleem dat hy gedoen het wat verkeerd is in die oë van die Here.

Dat Josafat nou só ’n nalatenskap in terme van sy familie moes hê!

Dit is net die belofte aan Dawid wat die Here keer om Jehoram en die hele koningshuis van Dawid heeltemal uit te wis en met iemand anders te begin. God se genade is die enigste ligpunt in ’n andersins baie donker verhaal, maar tog iets waaraan ’n mens kan vashou. Sonder dié genade sou die Messiaanse lyn gebreek het…

Jehoram faal volgens die Kronis op twee vlakke:

  • Polities: die Edomiete verwerf hulle onafhanklikheid van hom deur ’n opstand, soos Konings ons ook vertel. Ook die mense van Libna (= “die witte”) wat aanvanklik deur Josua met die Intog onderwerp is (Jos 10:29) en as stad vir die Leviete gegee is (Jos 21:13), kom teen hom in opstand. Die ergste was egter die Filistyne en Arabiere wat Juda ingeval en die paleis gestroop, en sy familie uitgewis het, net met een seun Joahas (ook Ahasia genoem) wat oorleef het. Dit het die gaping geskep vir Jehoram se vrou, Atalia (wat die aanval moes oorleef het), om haar houvas op die troon te verstewig en ná Joahas se kort regeringstyd self die koningskap oor te neem.
  • Godsdienstig: hy verlei die Judeërs tot grootskaalse afgodediens en vergeet dat die koningskap ’n gawe van God is wat net in standgehou word deur ’n groeiende verhouding met Hom. Die gramskap van Elia ontvlam teen hom en hy wys Jehoram tereg in ’n brief waarin sy einde deur ’n ernstige ongeneeslike (maar ook onbekende) siekte van die ingewande voorspel word.

Jehoram sterf ’n baie pynlike dood met die siekte van sy ingewande met niemand wat oor hom getreur het nie. Trouens hy is die eerste koning in die Dawidiese lyn waaroor die Kronis heeltemal negatief is. ’n Tragiese geskiedenis wat ’n mens liewer net van wil vergeet!

Boodskap en betekenis

Elia se brief aan Jehoram bly my by.

Jehoram het goeie voorbeelde as konings van Juda gehad: sy pa Josafat wie se: “hart opgewonde was oor die weë van die Here” (2 Kron 17:6), sy oupa Asa vir wie dit: “‘n vreugde was om na die Here te vra” (2 Kron 15:15), en selfs sy oupagrootjie Abia wat op die Here gesteun het (2 Kron 13:18)!.

Maar, sê Elia, toe volg jy die pad van die konings van Israel! Jy laat die mense van Jerusalem in immoraliteit en afgodery verval, en vermoor op die koop toe jou ses broers: “jou eie familie wat beter was as jy.”

Daarom word Jehoram gestraf met ‘n verskriklike siekte en is sy volk en familie met ‘n groot plaag getref.

As hy maar net geluister het na die goeie voorbeelde wat hy gehad het. Hoe anders sou sy lewe kon geëindig het!

En, laat ons ook onthou, Jehoram bring met sy ongehoorsaamheid die hele Messiaanse lyn in gedrang. Sy ma, Atalia, sou nog erger voortwoeker op dié pad…

As dit darem nie was vir sy suster Jehoseba wat haar lewe op die spel geplaas het om sy kleinseun Jehoas te red nie (2 Kon 11), was die hele geslag van Dawid uitgewis.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda