Skip to main content

Daniël 1-2

Daniël blink uit in die uitleg en openbaring van drome

Die eerste verhaal in die boek Daniël plaas die gebeure in die derde regeringsjaar van Jojakim d.w.s. 606 vC (Dan. 1:1). Jeremia 25:1 plaas hierdie oorlog van Nebukadnesar waarna Daniël verwys in die vierde regeringsjaar van Jojakim. Die verskil kan as volg verklaar word:

  • Daniël werk waarskynlik met die Babiloniese metode om die eerste regeringsjaar van die koning te bepaal. Die eerste jaar van ’n koning word eers van die nuwe jaar af getel. Die eerste maande van sy regering tot met die nuwe jaar tel dus nie om sy regeringstyd te bepaal nie.
  • Jeremia werk weer waarskynlik met die Palestynse metode om die regeringstyd te bepaal. Die maande wat die koning regeer tot by die nuwe jaar word as die eerste regeringsjaar van die koning getel.

Die jong Daniël word deur Nebukadnesar weggevoer saam met ’n hele aantal ander jongmanne, net ná Nebukadnesar die Egiptiese leër by Karchemis oorwin het. (Vgl. ook 2 Kon. 24:1 en 2 Kron. 36:6 wat van Nebukadnesar se optrede teen Jojakim en Jerusalem vertel).

Die verhale in Daniël 1-4 vind almal in hierdie tyd plaas. Die res van die boek Daniël, hoofstuk 5-12,  word ‘n paar dekades later gedateer aan die einde van die ballingskap.

Die laaste visioen in die boek word gedateer in die derde regeringsjaar van Kores, d.w.s. 537 vC (Dan. 10:1), ’n tydperk van bykans 70 jaar (vgl. Jer. 29:10). Daniël is hier as ou man steeds aktief betrokke as God se instrument in die openbaring van sy plan vir die koms van Sy koninkryk.

Die boek gee vir ons geen inligting oor Daniël se afkoms nie. Daar is bv. geen geslagsregister of ten minste net ’n aanduiding van sy familie nie. Al wat ons van sy lewe voor Babel weet, is dat hy ’n goeie opvoeding moes gehad het en onder die vername mense uit Jerusalem getel het. Dit lei ons af uit die feit dat die koning se voorskrif vir die seleksie van jongmanne was dat hulle: “toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen,“ moes wees (Dan 1:4).

Die boek is in twee duidelike dele opgedeel waarin God se betrokkenheid by sy mense sowel as in die wêreld en heelal geïllustreer en beskryf word deur:

  1. Ses verhale van Daniël (Beltsasar), sy vriende, naamlik Gananja (Sadrag), Misael (Mesag) en Asarja (Abednego), sowel as die konings, naamlik Nebukadnesar, Belsasar en Darius, se wedervaringe tydens die ballingskap in Babilon – hfst. 1-6 (die gebeure in hoofstuk 5-6 vind ‘n paar dekades later in die middel van die 6de eeu vC plaas);
  2. ’n Reeks van vier apokaliptiese visioene, waarin die gordyn op die koms van die koninkryk oopgetrek word en die invloed en impak wat dit op die magte en kragte van die aarde en die hemel sal hê – hfst. 7-12.

Aan die eenkant demonstreer die boek Daniël God se voorsiening en versorging vir dié wat aan Hom getrou en lojaal bly ten spyte van talle uitdagings (Daniël en sy drie vriende), sowel as sy aanvaarding van enigiemand wat hul vertroue in Hom plaas, selfs heidense konings (Nebukadnesar, Darius).

Aan die anderkant demonstreer dit God se invloed en ingrype in die geskiedenis wat nie net die wel en weë van konings en koninkryke bepaal nie, maar afstuur op ’n finale afrekening met die boosheid van die mensdom en die vestiging van Sy koninkryk.

Daarom word die boek onder die apokaliptiese literatuur gereken, aan die een kant gewortel in die wysheidstradisies van Israel en aan die ander kant deel van die profeties-eskatologiese literatuur.

Die boek is in twee tale geskryf:

  • Hfst. 1 tot hfst. 2:4a sowel as hfst. 8-12 is in Hebreeus – die taal van die Jode.
  • Hfst. 2:4b tot hfst. 7 is in Aramees – die wêreldtaal van dié tyd, ook van Babel ( vgl. 2 Kon. 18:26), waarskynlik om die boodskap van dié verhale toeganklik te maak vir ’n wyer gehoor as dié van die Jode.

Die feit dat die gebruik van die twee tale nie ooreenkom met die verdeling tussen die verhale en die visioene nie, dui op die eenheid van die boek in terme van die skryf daarvan.

Teks en konteks

Ons lees vandag twee verhale van Daniël.

  • Die eerste verhaal stel Daniël aan ons bekend as ’n besonder wyse jongman wat uitblink in die uitleg van gesigte en drome – hfst. 1.
  • Die tweede verhaal gaan vêrder en stel Daniël aan ons bekend as iemand wat in kontak is met dié God wat geheime kan openbaar, selfs die drome van die koning – hfst. 2.

Die twee verhale dien ook as ’n tekening van God as Iemand wat nie net agter die skerms mense se wel en weë as’t ware onsigbaar bestuur nie, maar Self in gesprek tree met hulle selfs in hulle mees private en intieme droomwêreld. In die proses skuif die gordyn op die toekoms op ’n skrefie oop in die uitleg van die droom van Nebukadnesar.

Daniël blink uit in die uitleg van gesigte en drome – hoofstuk 1

Daniël en sy vriende was reeds deeglik onderrig soos ons aflei uit die koning se vereiste vir hulle: “toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen”.
Hulle moes nou egter onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal oor ‘n tydperk van drie jaar om daar diens te kon doen.

Die drie vriende het betekenisvolle Hebreeuse name van hulle ouers gekry:

  • Gananja – “Jah(wê) is genadig”;
  • Misael – “Wie is soos God?” of “voorsiener”;
  • Asarja – “Jah(wê) het gehelp”.

Dit is egter deur Aspenas, die hoofpaleisbeampte, verander om Babiloniese gode te reflekteer:

  • Sadrag – “Bevel van Shudur Aku (maangod)”;
  • Mesag – “Wie is soos Aku? (waarskynlik verkorte vorm van Mi-sha-aku)”;
  • Abednego – “Dienskneg van Nergo (verkorte vorm van Nergal – sommige dink dit verwys eerder na Nebo)”.

Die naamsverandering het Daniël-hulle hulle laat geval. Wat mense van buite af aan hulle doen, kon hulle eintlik nie skeel nie. Om egter hulle dieet te verander en veral aan afgod offervleis blootgestel te word, was baie meer problematies.

Let op hoe Daniël as leier van die vriende optree, en dat sy “voorneme” om hom nie te verontreinig met die koning se kos en wyn nie, tot sy versoek lei om vrygestel te word daarvan. Hy het goed gedink oor wat hulle te doen staan.

Let ook op dat hy dit vra as ‘n “vergunning”, nie as ‘n eis nie, en dit boonop formuleer in ‘n wen-wen proefnemingsvoorstel. As die voorstel werk, is dit tot beide partye se voordeel. As dit nie werk nie, sal hulle inval by die koning se voorskrifte. Baie wys!

Die hoogtepunt in die verhaal is egter dat die erkenning vir die feit dat die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek teenoor Daniël gestem is, aan God se werk toegeskryf word. Dit is die eerste onsigbare transformasie punt in die verloop van hulle verblyf in Babel. En let op dat die hoofpaleisbeampte primêr op ‘n persoonlike vlak gunstig en simpatiek teenoor Daniël gestem word, nie teenoor sy idee as sodanig nie. Persoonlike kontak bring mens verder as ‘n blote ooreenstemming van idees.

Die tweede transformasie punt in die verhaal kom weereens weens God se onsigbare aksie: “God het aan hierdie vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.” Sonder dié gawes van God sou hulle getrouheid, en veral dié van Daniël, nie so ‘n wye impak gehad het nie.

Die netto resultaat van hulle getrouheid aan hulle geloofstradisie en hulle soeke na ’n wen-wen oplossing in hulle situasie aan die een kant en God se onsigbare werk aan die ander kant, maak dat die vier vriende ‘n groot en deurlopende invloed in die koningshuis kon uitoefen.

Daniël is in kontak met dié God wat geheime openbaar – hoofstuk 2

Waar God in die eerste hoofstuk onsigbaar aan die werk was om die hoofpaleisbeampte, Aspenas, gunstig teenoor Daniël-hulle te stem, is Hy hier baie meer op die voorgrond. Dit herinner ’n mens ook aan Josef wat die droom van farao uitgelê het. Die feit dat Daniël die droom van die koning kon vertel, skets ‘n prentjie van God wat in alles wat gebeur teenwoordig en aktief besig is. Hy weet selfs wat in ons droomwêreld aangaan en gee selfs vir ons drome.

Let op die detail waarmee die verhaal beskryf word, veral dat die naam van Arjok, die hoof van die lyfwag, net soos Aspenas in die eerste hoofstuk genoem word. Dit dui op ’n detail kennis van die verhaal wat die egtheid daarvan verhoog.

Dat die koning nie tevrede is net met ’n uitleg nie, maar sommer ook van sy wyses vra dat hulle die droom self moet weergee, dek die tafel vir Daniël om Nebukadnesar aan Sy God bloot te stel, dié God wat nie net geheime kan uitlê nie, maar inderdaad die geheime ken en selfs gee.

Die uitleg van die droom is uiteraard baie belangrik as God se boodskap vir die koning sowel as vir ons, maar die bekendmaking van iets so vlietend en verborge as ‘n droom, nooi ons alreeds uit om in alles met dié God rekening te hou.

Let op die rol wat gebed speel om agter die kap van die byl van die droom te kom. Dit nooi ons uit om dieselfde te doen met die drome wat ons self droom. Daniël prys die Here in ’n pragtige gebed wanneer God die droom openbaar en ook die uitleg daarvan in ’n nagtelike visioen vir Daniël gee. Daarin bely hy dat wysheid en mag aan God alleen behoort, nie aan hom (wysheid) of selfs aan Nebukadnesar (mag) nie. Dit is God wat tye en omstandighede bepaal, wat konings afsit en aanstel en wat die verborge dinge aan die lig bring.

Die beeld se samestelling in die droom en die uitleg daarvan word vervolgens aan Nebukadnesar openbaar wat met die opeenvolging van 4 of 5 koninkryke te make het. Let egter op dat die uitleg nie die koninkryke se name identifiseer waarna verwys word nie.

Die tradisionele verklaring van die opeenvolging van koninkryke is dat die kop van goud met die Galdeërs, die bors en arms van silwer met die Mediërs-Perse, die maag en heupe van brons met die Grieke en die bene van yster en die voete deels van yster en deels van klei met die Romeine geïdentifiseer word. Laasgenoemde kan moontlik op twee tydperke dui, maar dit word meesal as een geïnterpreteer weens die feit dat daar in die res van die boek van vier koninkryke gepraat word (bv. hfst. 7). Die klip wat die beeld verpletter en ’n groot rots word wat die hele aarde bedek, dui op die koninkryk van Christus.

Boodskap en betekenis

Die ballingskap van Daniël was een van die Here se voorsienings wat waarskynlik die Jode se lot in ballingskap versag het, aangesien Daniël uiteindelik vir jare in diens van die onderskeie konings van die Galdeërs was. God voorsien dus iemand wat in ‘n tyd van krisis sy stem in die vreemde te kan wees.

Wat ons in die persoon van Daniël self sien, is dat getrouheid en gehoorsaamheid aan God in uitdagende omstandighede, God se begeleiding ontsluit hoe om in ‘n vyandige omgewing te oorleef, meer nog, hoe om ‘n  positiewe invloed in só ‘n omgewing te hê wat seën uiteindelik ook vir die geloofsgemeenskap in die vreemde sal hê.

God se soewereiniteit word ook hier deur die visioen uitgelig as ‘n bron van hoop. Dit is God wat die verloop van wêreldgeskiedenis bepaal. Hy sal uiteindelik sy ewige koninkryk oprig, wat nie deur menslike hande omver gewerp kan of sal word nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda