Skip to main content

Psalm 31

My toekoms is in u hande

Psalm 31 word ook hier geplaas, omdat dit ’n tweeling Psalm met 27 is. Albei hierdie Psalms teken die worsteling van Dawid om in sy vertroue op God te volhard, ten spyte van teëstand en teëspoed.

Teks en konteks

Dit is baie belangrik om in hierdie Psalm te sien dat die Psalmis, Dawid, aan God vashou ten spyte van sy ellende, die lewensbedreiging, die vyande, sy nood, sy verdriet, sy kommer, sy swaarkry, en sy uitgeteerde liggaam (vers 8-13). Hy voel “soos iemand wat lankal dood is”, hy’t “geword soos ’n ding wat lê en vergaan” (vers 13) … “Maar ek vertrou op U, Here” … “ek sê, U is my God” (vers 15).

Vertroue kom dus meer tot sy reg in die smeltkroes van die lewe. Vertroue wys sy ware karakter in swaar tye. En Dawid kan dit doen, omdat hy glo: “My tye is in u hand” (vers 16). Hierdie sin kan ook vertaal word met “My toekoms is in u hand” (Craigie).

Terwyl hy pleit dat hy uit die hande van sy vyande en vervolgers gered word, en hy pleit dat God hom sal red deur sy onfeilbare liefde, en hy smeek dat die Here hom nie teleurgestel sal laat staan in sy verwagting nie, neem hy nie God se rol oor deur in die uitkoms te glo nie, maar net in God.

Waaraan hy vashou, is alles wat hy weet van God – sy getrouheid (vers 6, 22), sy getroue en onfeilbare liefde (vers 8, 17), dat Hy raaksien (vers 8), dat Hy ’n veilige staanplek gee (vers 9), sy goedheid (vers 20) en sy guns en beskerming (vers 25). Hoe hy vashou, is om te vertrou, sterk te wees, moed te hou.

Dat die Here wel die uitkoms voorsien het, wat Dawid gevra het, is wonderlik: “U het geluister na my gesmeek toe ek na U om hulp geroep het” (vers 23). Daarom vorm dit deel van sy appèl aan die geloofsgemeenskap, om sterk te wees, moed te hou en die Here te vertrou: “Die Here beskerm dié wat aan Hom getrou is …” (vers 24).

Boodskap en betekenis

Uit ’n NT hoek word die Psalm se boodskap egter verruim, deurdat Jesus aan die kruis die woorde in vers 6: “In u hande gee ek my lewe oor” aan die kruis gebruik het: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor” (Luk 23:46). Waar Dawid gevra het vir redding uit die dood, het Jesus gevra vir redding in die dood (Craigie)! Daarmee wys Jesus dat die uitkoms (tye/toekoms) van ’n mens se lewe regtig in God se hande lê, (vers 16) en dat dit selfs die dood kan insluit.

Ek dink dit is baie keer ons probleem in ons geloofslewe. Ons fikseer op die uitkoms, die redding self, nog soos onsself dit definieer, en verbind dan ons geloof aan die regte uitkoms, in plaas daarvan om ons geloof aan God te verbind, op Hom te vertrou. En dit stuur net op rampspoed af in terme van ons geloofslewe.

Jesus wys vir ons dat ons ernstig en volhardend vir uitkoms kan bid, soos ’n Dawid van ouds, maar altyd die spesifieke uitkoms in die Here se hande moet laat. Dit sal voorkom dat ons geloof wankel of ten minste ongeloofwaardig voorkom, as die uitkoms nie is wat ons verklaar het dat dit sal wees nie. En kan ons die uitkoms, hoe dit ook al is, met blydskap uit die hand van die Here ontvang.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar