Ekskursie – Numeri in die NT

Die boek Numeri en verwysings daaruit word op drie maniere in die NT gebruik, as agtergrond vir die boodskap, as oorhoofse metafoor vir die geloofsreis en as konkrete voorbeelde vir die geestelike lewe.

Agtergrond vir die NT boodskap

Daar is in die eerste plek verwysings na gebeure of beskrywings uit Numeri wat die agtergrond verskaf vir die boodskap van die NT.  ‘n Mens kry bv.:

  1. ‘n verwysing na die priesterlike voorskrifte uit Numeri 28:9-10 vir die bevestiging van Jesus se lering oor die Sabbat (Matt. 12:5),
  2. ‘n verwysing na die Paaslam se bene wat nie gebreek is nie uit Numeri 9:12 as bevestiging vir die gebeure rondom Jesus se kruisdood (Joh. 19:36; vgl. ook Eks. 12:46; Ps. 34:20),
  3. ‘n verwysing na die woestyngebeure in die toespraak van Stefanus as veroordeling van die Joodse leiers (Hand. 7:36, 39, 45), sowel as
  4. die verbintenis van die Aäronitiese seën uit Numeri 6:24-26 aan die wederkoms en nuwe hemel en aarde: “die Here God sal hulle verlig” (Openb. 22:5).

Metafoor vir die geloofsreis

Daar is in die tweede plek die algemene verwysing na die “woestyn” soos Numeri dit vertel wat as metafoor ingespan word om Jesus sowel as gelowiges se geestelike reis in die NT te beskrywe waarop hulle versoekings moet weerstaan om deur hulle volharding die beloofde bestemming te kan bereik.

  • So lees ons dat Jesus deur die Gees ingelei word in die woestyn om versoek te word en waar dit ook juis sy fisiese behoeftes is wat as aanleiding tot die versoekings deur die duiwel gebruik word (Matteus 4:1-11). Anders as die eerste generasie van die volk Israel in die woestyn slaag Jesus egter dié toets deur vas te hou aan die Woord van God as die “brood” wat Hom voed in sy versoekings.  Sy volharding bevestig nie net sy geskiktheid as die een wat gelowiges na die eindbestemming kan begelei nie, maar dien as motivering tot standvastige volharding vir almal wat aan versoekings blootgestel word, soos verskeie NT skrywers aantoon (1 Kor. 10:13; Hebr. 2:18; 4:15; 12:1-4; Jak. 1:12; vgl. ook Gal. 6:1 en 2 Petrus 2:9).
  • Ook Paulus gebruik die reis deur die woestyn op pad na die beloofde land as ‘n metafoor om die gelowiges in Kolosse aan te moedig om in alle omstandighede geduldig te volhard sodat hulle die “erfenis” wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig in besit kan neem (Kol. 1:3-14; vgl. ook Matt. 18:29; 25:34; Gal. 5:21; Ef. 1:18; Hebr. 9:15; 1 Pet. 1:4). Hy bid dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang en vas en sterk in die geloof te staan sodat hulle nie losgeruk word van die hoop wat in hulle gewek is deur die evangelie nie (Kol. 1:21-23).

Voorbeelde vir die geestelike lewe

In die derde plek is daar meer as dertig direkte en indirekte verwysings na die verhale en beskrywings in Numeri wat hierdie reis-metafoor uitlê in terme van praktiese “voorbeelde” van die geloofsgemeenskap se identiteit in Christus, die voorsiening waarop hulle van God kan staatmaak en die waarskuwing en aanmoediging tot volharding op die geestelike reis na hulle ewige bestemming.

Die verwysings word uit bykans alle dele van die boek Numeri gemaak, van hoofstuk 6 af tot by hoofstuk 28.  Hier is ‘n opsomming van die elf belangrikste wyses waarop Numeri as voorbeeld vir die NT geloofsgemeenskap gebruik word:

  1. Die geloofsgemeenskap staan as ‘n eenheid wat aan God behoort, saam

Johannes gebruik in Openbaring 20:9-10 die idee van die “kamp” in die woestyn uit Numeri 9:18-23 as beskrywing van die wyse waarop die geloofsgemeenskap as ‘n eenheid in ‘n “laer” moet vasstaan in die oorlog wat die Satan teen hulle voer.

Paulus gebruik in 2 Timoteus 2:19 ‘n soortgelyke frase as dié uit Numeri 16:5: “sal die Here bekend maak wie Hom toebehoort” (OAV) om die Here se onderskeiding tussen dié wat aan Hom behoort en dié wat afvallig geraak het, aan te dui: “Die Here ken die wat syne is”.  In Numeri word Korag, Datan en Abiram as afvalliges aangedui; in 2 Timoteus Himeneus en Filetus.  Die Here se onderskeiding maak saak.

  1. Die geloofsgemeenskap is afhanklik van God se voorsiening

Die verhaal van die vyf broodjies en die twee vissies in die broodvermeerderingsverhale van Jesus in al die evangelies (vgl. Mark. 6:30-44; Luk. 9:10-17; Matt. 14:13-21; Joh. 6:1-14) kan verbind word aan die verhaal van Numeri 11:4-34 by Kibrot-Taäwa waar God benewens brood (manna) ook vleis (kwartels) vir die volk voorsien het.  Dit is insiggewend dat Moses die moontlikheid van vis noem (Num. 11:22) en dat die kwartels uiteindelik van die see af kom (Num. 11:31).  Die punt van die verhaal is egter nie soseer die ooreenkoms tussen die kwartels en die vis nie, maar die oorvloed waarmee God geseën het.  Jesus het nie net brood gegee nie (manna in die OT), maar ook vis (kwartels in die OT) vir die honger skare mense.  Die verskil in die verhale lê natuurlik in die feit dat die oorvloed ‘n straf was vir die mense wat gekla het in Numeri, en in die evangelies net ‘n bonus was vir die dissipels wat Jesus gevolg het.

Die oorvloed van hierdie voorsiening word ook gesien in die feit dat daar twee verhale van Jesus se voorsiening is in die evangelies van Markus en Matteus (Mark. 8:1-10; Matt. 15:32-39) soos die Here ná die voorsiening van die manna (Eks. 16) – wat natuurlik vir veertig jaar volgehou is – ook hier met die kwartels in Numeri 11 ‘n tweede keer vir die volk voorsien.  Daar is interessant genoeg ook verder in die OT twee sulke tipe verhale wat aan Elisa verbind word: die vermeerdering van die olie vir die weduwee van ‘n profeet (2 Kon. 4:1-7) en die vermeerdering van die twintig garsbrode wat vir ‘n honderd mense kos voorsien het, op grond van God se wondervoorsiening, soos Elisa gesê het: “want so sê die Here: Hulle sal eet en nog oorhou.” (2 Kon. 4:42-44).

  1. God bemagtig en stuur leiers en geestelike werkers uit

Dit is interessant dat die verhaal van die voorsiening van die kwartels in die woestyn gekoppel word aan die aanwys, bemagtiging en uitstuur van die sewentig leiers  in Numeri 11:16-30, soos ‘n mens dit ook in die verhale van die broodvermeerdering sien in die evangelies.  In al drie Sinoptiese evangelies word die verhale van die broodvermeerdering gekoppel aan die roeping en uitstuur van die twaalf dissipels as uitvloeisel van hulle roeping (Mark. 6:7-13; Matt. 10:1-15; Luk. 9:1-6).

Hierbenewens kan die aanwys van die sewentig (of twee-en-sewentig as ‘n mens Eldad en Medad byreken!) in Numeri 11 ook vergelyk word met die uitstuur van die twee-en-sewentig (of sewentig soos baie manuskripte dit het) deur Jesus in Lukas 10:1-24.  In Numeri was die sewentig se taak om saam met Moses verantwoordelikheid te neem vir die opstandige volk van die Here.  In Lukas was die twee-en-sewentig se taak om die evangelie van die koninkryk te gaan verkondig in elke dorp: “waar Hy van plan was om te gaan.

Jesus se uitstuur van sy twaalf dissipels (Mark. 6:7-13; Matt. 10:1-15; Luk. 9:1-6) herinner ook aan die uitstuur van die twaalf verspieders in Numeri 13  om die bevolking en land se situasie te verken.  Waar Jesus se dissipels egter bekering gepreek het, duiwels uitgedryf het, en baie genees het onder die verlore skape van die volk Israel, sou die volk met die Intog oorlog teen die inwoners gemaak het om die land in besit te neem.

Jesus beklemtoon in Markus 6:34 en Johannes 10:3-4 die noodsaak van herders vir die volk as Hy van die Jode as skape sonder ‘n herder praat op voetspoor van Moses se versugting in Numeri 27:17 dat die Here iemand aanstel wat die volk se leier en aanvoerder kan wees ná sy dood, sodat die volk van die Here, sê Moses: “nie soos skape sonder wagter sal wees nie” (OAV).  Daarmee begrond en bevestig Jesus natuurlik sy rol as Goeie Herder vir die skape!

Die gevolglike handoplegging van Josua: “’n man op wie my Gees is”, as ‘n teken van die geestelike gesag waarmee leiers bemagtig word in Numeri 27:18 (vgl. Deut. 34:9) sien ‘n mens ook  in Handelinge 6:6 met die handoplegging van die sewe leiers wat gekies is om die versorging van die weduwees te behartig, ook in Handelinge 13:3 waar Saulus en Barnabas vir hulle roeping afgesonder word, sowel as in die beskrywing van Timoteus se aanstelling (1 Tim. 4:14) en dié wat hy sou aanstel (1 Tim. 5:22).  Handoplegging het dus in die NT dieselfde funksie van bemagtiging as in Numeri.

Handoplegging het in die NT egter ook nog die funksie van ‘n insluitende seën (Jesus wat die kinders hande oplê in Matt. 19:13-15), genesing (Mark. 6:5; 8:23; Luk. 4:40; 13:13; Hand. 28:8) en die ontvangs van die Heilige Gees (Hand. 8:17-19; 9:12, 17; 19:6; vgl. Hebr. 6:2).

  1. Die Heilige Gees word uitgestort, en vervul en bemagtig die liggaam van Christus

Die impak van Numeri 11 in die NT is daarmee egter nog nie uitgeput nie.  Die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2:1-4 kan verbind word aan die soortgelyke verhaal in Numeri 11 waar die Gees op sewentig leiers kom en hulle bemagtig om as profete te begin optree.  Dié sewentig het waarskynlik van die sewentig oudstes ingesluit wat vroeër hier by Sinai in God se teenwoordigheid geëet en gedrink het terwyl die verbond met die tien gebooie se ontvangs beseël is, indien nie almal nie.  Hierdie groep leiers moet natuurlik ook onderskei word van die leiers oor duisend, honderd, vyftig en tien wat vroeër aangestel is (Eks. 18).

Die gawe van profesie wat hierdie sewentig leiers ontvang het, het wel ná die aanvanklike bemagtiging verdwyn, maar die verantwoordelikheid as leiers in ondersteuning van Moses het gebly.  Die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2 het egter op die hele gemeenskap van gelowiges gekom en is daarna telkens aan nuwe gelowiges gegee (Hand. 2:37-38).  Die bemagtiging van die Heilige Gees in terme van sy vervulling, gawes en vrug het ook nooit tot ‘n einde gekom nie, hoewel Hy ook bedroef (Ef. 4:30) en verwerp (1 Tess. 4:8) kan word.

Die verwysing na en wens van Moses dat die Gees op almal gelê sal word in Numeri 11:29 kan ook verbind word met die gebed om die Gees wat inderdaad in die NT in vervulling gaan (Luk. 11:13).

Die gesprek tussen Johannes en Jesus oor mense wat in sy Naam praat, maar nie deel van die dissipelgroep is nie, toon ook duidelike ooreenkomste met die gesprek tussen Moses en Josua oor profete in Numeri 11 (Luk. 9:49-50).  Net soos Moses niemand wou keer nie, doen Jesus dit ook nie: “Moet hom nie keer nie, want wie nie teen julle is nie, is vir julle.

  1. ‘n Waarskuwing om Christus se voorsiening nie te minag nie

‘n Mens kan ook die opmerkings oor die “lewende water” in die gesprek van Jesus met die Samaritaanse vrou (Joh. 4:10) en op die Loofhuttefees (Joh. 7:37-38) met die beeld van die “lopende water” by Meriba in Numeri 20:8-10 (vgl. ook die water uit die put in Num. 21:16-18) verbind, veral as ‘n mens die verdere verbintenis van die water in Numeri 20 met die geestelike drank in ag neem wat Paulus met die geestelike rots, dit is Christus, verbind (1 Kor. 10:4; vgl. ook Jes. 44:3; 55:1; 58:11; Sag. 14:8 vir verdere verwysings wat as agtergrond vir die “water” kan dien).

In Numeri word die lewende water aan die voorsiening in die teenwoordigheid van die Here verbind.  In Johannes word die lewende water aan die gawe wat Christus gee – wat as ‘n verwysing na die Heilige Gees verklaar word – verbind.  Die  verhaal word egter hier as waarskuwing vir die geloofsgemeenskap gebruik om nie in dieselfde strikke as die volk in die woestyn te trap nie, en die rots wat water gee nie te verag nie, dit is Christus (vgl. die soortgelyke verhaal in Eks. 17).

  1. ‘n Waarskuwing teen sondige begeertes wat jou geestelik dood kan maak

Paulus waarsku die geloofsgemeenskap in 1 Korintiërs 10:1-22 dat hulle hulle nie: “deur sondige begeertes moet laat dryf nie” soos in die verhaal in Numeri 11:4-34 waar die lus vir vleis Israel by Kibrot-Taäwa tot opstand teen God verlei het (vgl. ander OT gedeeltes wat hierdie gebeure ook as voorbeelde van rebellie aanhaal: Ps. 78:18; 106:13-20; Neh. 9:15-20; Deut. 32:22-24).   Israel se sonde in die woestyn was geleë in die feit dat hulle iets anders wou hê as wat God vir hulle voorsien het.

Hierdie tipe gulsigheid sou weer kop uitsteek in die reis deur die woestyn in die verdere konflik oor brood en water (Num. 21:5) en hulle uiteindelik verlei tot afgodery en onsedelikheid (Num. 25:2) weens Bileam se raad aan koning Balak van Moab (Num. 31:16).  Dit is wat met slegte begeertes gebeur.  Trouens, dieselfde het vroeër gebeur by Sinai toe Aäron die volk se begeertes met ‘n goue kalf bevredig het (Eks. 32).  Dit het hulle tot afgodery en onsedelikheid verlei.

As slegte begeertes toegelaat word om grond te vat in ‘n mens se lewe, selfs al is dit net ‘n ongelukkigheid met God se voorsiening, maak dit jou ‘n teiken vir versoekings – die “uitnodigings” van die Moabitiese vrouens (Num. 25:2) – en kan dit lei tot afgodery en onsedelikheid en die dood.

Ten spyte van die feit dat die Here Bileam gekeer het om Israel te vervloek en eerder te seën (vgl. Deut. 23:4-5; Jos. 24:9-10; Neh. 13:2; Miga 6:5) het die Moabiete en Midianitiese leiers (Num. 22:4) dus tog in hulle doel geslaag om Israel in afvalligheid te laat verval.  En word hierdie verhaal ‘n voorbeeld wat vir alle tye die geloofsgemeenskap waarsku teen slegte begeertes.

Bileam word uiteindelik wel doodgemaak in die oorlog teen die Midianiete (Num. 31:8; vgl. Jos. 13:22), maar sy nalatenskap bly voortbestaan in terme van die sonde waartoe hy Israel verlei het en wat telkens vir die geloofsgemeenskap ‘n uitdaging sou bly.

  1. ‘n Aansporing tot getrouheid tot die einde toe

Die Hebreërskrywer spoor gelowiges tot getrouheid aan met die voorbeeld van Moses in Numeri 12:7 wat “die betroubaarste” van almal in God se diens is.  Hy vergelyk dit met Jesus se getrouheid: “Hy is getrou aan God wat Hom aangestel het, soos ook Moses getrou was in die hele huis van God.” (Hebr. 3:2,5).  Dieselfde moet van ons waar wees: “Ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.” (Hebr. 3:6).

Die Hebreërskrywer vergelyk ook die verhaal van die ontrouheid van Israel om die Here te wantrou en in verset teen Hom te kom in Numeri 14 (vgl. Ps. 95) deur nie bereid te wees om die land in te neem nie as kontras met die getrouheid van Jesus wat tot die einde gehoorsaam was, as waarskuwing vir die geloofsgemeenskap om nie in dieselfde strik van ontrouheid te trap nie en so die belofte van God se rus mis te loop nie (Hebr. 3:7-19): “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.  Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.”

  1. Die klem op die vergifnis en verlossing wat God bring

Jesus se verwysing na God se vergifnis in die Ons Vader (Matt. 6:12; Luk. 11:4) kan ook verbind word met Numeri 14:19 se uitspraak: “Vergewe dan tog die sonde van hierdie volk in u groot liefde, soos U hulle van Egipte af tot hiertoe vergewe het.”  Uiteraard word dit breër uitgespel in die NT, maar die wortels van God se vergifnis lê reeds ingebed in hierdie woestynverhaal van Numeri, soos die Here Homself aan Moses geopenbaar het: “Ek, die Here, is lankmoedig en vol liefde; Ek vergewe ongeregtigheid en oortreding, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.

Dieselfde geld die gesprek wat Jesus in Johannes met Nikodemus het oor die koperslang in die woestyn van Numeri 21:4-9 (Joh. 3:14).  Soos Moses die koperslang in die woestyn op ‘n paal opgelig het en dit genesing van die dodelike gif van die slange in die woestyn gebring het, só bring Jesus verlossing deur sy dood aan die kruis: “sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” (Joh. 3:15-16).

Ook Paulus verwys na die koperslang van Numeri 21, maar spesifiek as ‘n waarskuwing dat God nie deur afgodsdiens en onsedelikheid uitgetart moet word, want só ‘n verset teen God sal jou dood beteken, omdat dit ‘n verset en verwerping van Christus inhou (1 Kor. 10:9).

  1. Die gevaar van die sonde teen die Heilige Gees

Jesus verwys waarskynlik ook in sy uitleg van die sonde teen die Heilige Gees na die beskrywing van moedswillige sondes uit Numeri 15:30-31 (Matt. 12:32).  In die oorspronklike in Numeri 15 word hierdie sonde beskryf as: “sondes wat met ‘n hoë hand gedoen word.”  Dit beteken, sondes wat as’t ware jou hand téén God oplig, wat sy wil doelbewus verag en verontagsaam en Hom in oneer en diskrediet bring (vgl. 1 Sam. 3:14 waar die ongeregtigheid van Eli se familie ook nie vergewe word nie).

Indien die werk van die Heilige Gees op soortgelyke wyse verag en verontagsaam word, en daarbenewens deur “lastering” aan die duiwel toegeskryf word, soos Jesus dit uitlê, is dit ‘n sonde wat só afgryslik sleg geag word dat dit onvermydelik tot die dood sal lei.

  1. Christus is die Middelaar tussen God en mens wat die OT verwag het

Paulus gebruik in 1 Timoteus 2:5 die ongewone frase “die mens Jesus Christus” om die Middelaarskap van Jesus te beskryf: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.”  Dit begrond Jesus se Middelaarskap in sy mensheid, soos die eerste deel van die vers dit ook in sy Goddelikheid begrond.

Geleerdes verbind hierdie beskrywing van die Messias as mens aan die derde en vierde uitspraak van Bileam in Numeri 24:7 en 17 (vgl. ook Jes. 19:20 se “redder” wat getuig van die “Almagtige” se teenwoordigheid).  In die Griekse vertaling (LXX) van vers 7, wat Paulus waarskynlik gebruik het, staan daar “’n man sal uit sy saad kom” in plaas van die Hebreeuse grondteks se: “en sy saad is by baie waters” (OAV – vgl. ook Hos. 11:1 se ooreenstemmende “seun”).  Hierdie man word beskryf as ‘n heerser oor die nasies, soos dit ook die geval is in vers 17 waar van hierdie heerser gepraat word as die “ster uit Jakob” wat as mens uit die nageslag van Israel sal heers.

Matteus verbind ook moontlik die “ster” van die sterrekykers in die geboorteverhaal van Jesus in Matteus 2:1-12 aan die “ster uit Jakob” van Numeri 24:17 waarop Israel se Messiaanse verwagting onder andere begrond was.  Die sterrekykers raak dus die NT heidense getuies van die geboorte van die Messias, soos Bileam ‘n OT heidense profeet daarvan was.

Ook Johannes gebruik moontlik in Openbaring 2:28 in sy brief aan Tiatira (vgl. ook Ps. 2:9) op soortgelyke wyse die beskrywing van die “môrester” wat ‘n oorwinningskroon sal wees in die stryd teen die nasies en begrond dit op die agtergrond wat Bileam se uitsprake in Numeri 24:14-20 verskaf.

  1. ‘n Waarskuwing teen verkeerde leerstellings wat jou van God afvallig kan maak

Johannes gebruik in Openbaring 2:14 die verhaal van Bileam uit Numeri 22-25 (vgl. Num. 31:8,16) om nie net die verval in afgodsdiens en onsedelikheid in sy brief aan Pergamum aan te spreek nie, maar ook die gevaar van verkeerde leerstellings uit te lig wat die basis verskaf vir gelowiges om afvallig te raak.  Die “leer van Bileam” raak dus ‘n beskrywing van enige leerstelling wat gelowiges verlei om by afgodsdiens en onsedelikheid betrokke te raak, terwyl hulle in hulle onkunde dink dat daar niks fout is mee nie!

Dieselfde sien ‘n mens by Judas, die broer van Jesus, wat in Judas 11 die verhaal van Bileam uit Numeri 22-25 gebruik om die “bedrog van Bileam” af te wys in terme van die lasterlike leerstellings van goddelose leraars wat die genade van God misbruik en mense verlei om doodgewoon volgens hulle natuurlike drange te lewe en nie volgens God se standaarde nie.

Hulle sal egter nie die straf wat God oor afgodery en onsedelikheid bring, kan ontwyk nie, want in plaas daarvan dat hulle deur die Gees van God beheers word, laat hulle toe dat hulle natuurlike drange hulle beheers. Dit bring nie net verdeeldheid in die geloofsgemeenskap nie, maar stort die oortreders in die volle oordeel van God, soos Judas dit uitspel in die res van sy brief.

Ook Petrus gebruik die “weg van Bileam” uit Numeri 22-25, op voetspoor van Judas, as waarskuwing in 2 Petrus 2:15-16 om die lasterlike lering van die dwaalleraars aan die kaak te stel wat met wellus en losbandigheid jong bekeerlinge verlei om terug te keer na die besmetting van die wêreld waaruit hulle so pas vrygekom het nadat hulle die Here Jesus as Verlosser leer ken het.  Hulle verlei met hulle losbandige leringe onstandvastige mense – “die vervloektes”, sê Petrus! – om af te wyk van die “heilige gebod” rondom morele waardes en terug te keer na die sondes van hulle natuurlike drange, soos ‘n hond na sy braaksel, soos ‘n gewaste vark wat weer in die modder gaan rol.

View all posts in this series

Numeri


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: