Skip to main content

Spreuke 12:1-28

Leerbaarheid getuig van wysheid

Spreuke 12:1

Spreuke kontrasteer die dom-astrante persoon wat teen alle dissipline rebelleer met die leergierige persoon wat weet dat dissipline wesenlik is om jou kennis te verbreed.

Spreuke 12:2-3

Spreuke stel dit sterk. ’n Goeie mens vind genade van Jahwe. Die mens met slinkse planne word deur Hom veroordeel. Niemand wat aanhou kwaaddoen en onreg pleeg, kan ooit bestendig wees nie. Terwyl regverdiges soos ’n boom met ’n diep penwortel is. Hulle kan nie ontwortel word nie.

Spreuke 12:4

Spreuke besing die lof van ’n knap vrou teenoor een wat skande maak. Die een bou haar man op. Sy is vir hom soos ’n kroon. Die ander breek haar man af. Sy is vir hom soos ’n kanker.

Die woord “knap” (ḥayil) kan ook met “sterk”, “dapper”, “vermoënd”, en “vaardig” vertaal word. Dit kan selfs met “kragtig” vertaal word wat seksuele konnotasies het (vgl Spr 31:3). Die woord “skande maak” (mĕḇîšâ) het ook seksuele konnotasies in sommige kontekste. Dit word bv in kontekste gebruik waar onsedelikheid ter sprake is (Hos 2:7).

Interessant genoeg word die Spreuke 31 vrou ook met die woord ḥayil beskryf (Spr 31:10). So ook Rut (Rut 3:11). Dit is waarom Peterson hierdie vers só vertaal: ” A hearty wife invigorates her husband, but a frigid woman is cancer in the bones.” Food for thought.

Spreuke 12:5-7

Spreuke kontrasteer die betroubaarheid van die regverdiges met die bedrog van die goddeloses. Die regverdiges meet alles wat hulle sê en doen aan dit wat vir God reg is. Dit red hulle en dié wat na hulle luister. Dit word bevestig in hulle nalatenskap.

Die goddelose mense bedrieg ander vir eie gewin – dink aan Jakob se bedrog (Gen 27:35) – en soek ander se ondergang. Dit sal hulle egter suur bekom, want hulle kom tot ’n val deur hulle eie toedoen. Soos Jesus sê, die wyse man bou sy huis op die rots – om te luister na en te leef in wat God sê. Die dwase man bou sy huis op die sand van sy eie bose planne (Matt 7:24-27).

Spreuke 12:8-9

Spreuke kontrasteer in vers 8 verstandigheid met verwardheid. Die man met woorde van insig en verstand word geprys. Die man met ’n perverse en verdraaide hart word verag. Dit is vanuit ’n Bybelse beoordeling. Vers 9 kontrasteer selfstandigheid met skynheiligheid. Dit is beter om gering geag te word terwyl jy vir jouself werk en ander in diens kan neem, as om jouself vernaam te hou, maar niks het om van te leef nie.

Spreuke 12:10

Spreuke beskryf die verskil tussen die regverdige en die goddelose aan die hand van hulle omgee vir hulle veediere. Die regverdige ken die behoeftes van sy diere en voorsien daarin. Die goddelose is wreed selfs al gee hy voor dat hy ontfermend optree.

Spreuke 12:11

Spreuke kontrasteer een van die fundamentele kenmerke van die wyse teenoor die dwase. Die wyse belê in harde werk. Die dwase belê in denkbeeldige skemas. Die wyse floreer daarom met brood op die tafel. Die dwase krepeer van leë beloftes.

Spreuke 12:12-14

Vers 12 is uiters moeilik om te vertaal. Een manier om dit te verstaan, is dat die goddelose vasval in bose begeertes en die regverdige vasstaan in vrygewigheid. Vers 13-14 is helder. Die bose mens verstrik homself in sy eie verdraaide woorde, terwyl ’n regverdige deur sy eerlikheid ontsnap (vgl Matt 12:36-37). Woorde en dade het gevolge.

Spreuke 12:15-17

Vers 15 en 16 onderskei die dwase van die wyse deur hulle bereidheid om na raad te luister waar te neem, sowel as hulle bereidheid om nie aanstoot te neem nie. Die sot besluit self of hy reg is. Die wyse luister na raad. Die sot is onmiddellik kwaad oor ’n belediging, maar ’n wyse is bereid om dit oor die hoof te sien. Vers 17 onderskei ’n betroubare van ’n vals getuie in wat hulle met die waarheid wil doen. Die betroubare getuie wil die waarheid laat seëvier. Die valse getuie wil die waarheid wegsteek deur bedrog.

Spreuke 12:18

Spreuke kontrasteer woorde wat seermaak met woorde wat heelmaak.

Woorde wat seermaak, is woorde wat onverskillig en onbedagsaam (bôṭe in Hebreeus) uitgeblaker word, sonder om eers goed na te dink daaroor. Dit is soos die steke van ’n swaard. En ’n mens is skuldig aan die effek daarvan, of dit nou bedoeld of onbedoeld is (vgl Lev 5:4). Sulke woorde het Moses die beloofde land gekos, omdat hy uit bitterheid teenoor die volk oortree het (vgl Ps 106:33).

Woorde wat heelmaak, is woorde waaroor goed nagedink is: “What the wise say is faithful and true, gentle and kind, uplifting and encouraging; so their words bring healing.” (NET). Sulke woorde kan ook met ’n swaard vergelyk word, soos dit talle plekke van die Woord van God, die Bybel, gesê word, maar die doel daarvan is anders. Dit beoordeel die bedoelinge en gedagtes van die hart om dit in lyn met God se wil te bring (vgl Hebr 4:12).

Spreuke 12:19-20

Vers 19 kontrasteer die leuen met die waarheid. Die “lip van waarheid”, soos dit letterlik vertaal word, hou vir altyd. Die “tong van bedrog” net ’n oomblik. Die rede is vanselfsprekend. Waarheid kan die toets van ’n ondersoek deurstaan. Die leuen nie. Vers 20 kontrasteer die hart van kwaadstokers met dié van vredemakers. Bose planne verraai ’n bedrieglike hart. Vrede maak bring vreugde in die hart van die vredemaker.

Spreuke 12:21-23

Die eerste deel van vers 21 kan heeltemal verkeerd verstaan word. Dit is nie asof niks slegs met ’n regverdige kan gebeur nie, soos baie vertalings dit weergee nie. Rashi, ’n Joodse geleerde, vertaal dit so: “The righteous will not be caught up in wickedness.” Die NIV vertaal: “No harm overtakes the righteous.” Die HCB vertaal: “No disaster overcomes the righteous.”

Die regverdige sal dus nie heeltemal ten gronde gaan weens onheil of onreg nie (vgl Rom 8:28,37). Die teendeel is waar van die goddelose. Hulle val vas in ongeluk.

Vers 22 bevestig dat God betroubaarheid lief het. Hy haat bedrog. Vers 23 wys die wysheid uit van nie te vinnig met jou kennis te spog nie. Dit is wat dwase doen. Hulle loop te koop met hulle stommiteite.

Spreuke 12:24

Spreuke spel die oeroue waarheid uit. Hardwerkende mense styg uit. Die mense wat lyf wegsteek, sak uit. Jerobeam is ’n voorbeeld daarvan as iemand wat oor ander aangestel is deur Salomo weens sy hardwerkendheid. Trouens, die Here vertrou Jerobeam uiteindelik met die noordryk van Israel weens Salomo se afvalligheid (vgl 1 Kon 11:28 vv).

Spreuke 12:25

Spreuke beklemtoon die algemene waarheid dat bekommernis ’n mens neerslagtig kan maak, maar ’n vriendelike (goeie) woord jou daaruit kan haal. Let op dat dit nie goeie nuus oor die bekommernis as sodanig is nie, maar doodgewoon ’n woord van bemoediging, ’n woord wat jou kan opvrolik. Gee só ’n woord aan iemand vandag wat dit nodig het.

Spreuke 12:26 

Vers 26 se eerste deel kan op verskillende maniere vertaal word. Ek hou van die ESV se vertaling: “One who is righteous is a guide to his neighbor, but the way of the wicked leads them astray.” Die NET se vertaling is die naaste aan die oorspronklike: “The righteous person is cautious in his friendship, but the way of the wicked leads them astray.” Die eerste vertaling fokus op begeleiding van jou naaste. Die tweede op die keuse van jou vriende. Jy moet dus rekening hou daarmee dat jy ’n groot invloed het op ander, en hulle op jou.

Spreuke 12:27-28

Vers 27 kontrasteer luiheid met hardwerkendheid. Die luiaard voltooi geen projek nie: “hy braai nie sy wild nie”. Die hardwerkende verwerf kosbare besittings. Vers 28 verheerlik die pad van geregtigheid. Dit het betekenis nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die ewigheid (“dié pad is ‘nie-dood’” in die oorspronklike). Nog ‘n voorbeeld van die OT nadenke oor die ewige lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.