Skip to main content

1 Konings 19

Die Here wys vir Elia dat Hy vir die oorblyfsel sorg

Teks en konteks

Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, kom na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense. In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie! Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê.

Elia sou nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en vlug na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die verste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20). Hier was ook ’n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5).

Dit is egter ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21:1-22), Abraham voorspoed beleef met die ooreenkoms wat hy met Melgisedek gesluit het (Gen 21:27-34), Isak homself gevestig het na die konflik wat hy in die ooste van die land rondom waterputte gehad het (Gen 26), en waar Elia self nou ’n ontmoeting met ’n engel het.

Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11). Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24). Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self. Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33). Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie. Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?” Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …” Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit. Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie. Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte. God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie! Hy sorg vir die oorblyfsel.

Elia het die daad by die woord gevoeg en daarvandaan weggegaan en heel eerste sy mantel oor Elisa gegooi om iemand te kry wat die werk kan voortsit. Elia word dan sy volgeling en helper.

Boodskap en betekenis

Soos Moses sy gesag oorgedra het aan Josua, só dra Elia sy gesag oor aan Elisa. En met Elia se hemelvaart (2 Kon 2) – een van net drie mense met wie dit in lewende lywe gebeur het: Henog, Elia, en Jesus – gaan die profetiese mantel oor op Elisa. In die 9de eeu van 850-800 vC.

Twintig jaar na Elisa sou Jona op die toneel verskyn, en dan in die res van die 8ste eeu nog vier profete: Amos, Jesaja, Miga en Hosea.

Wat ook beteken dat die oorgang na Elisa ook net vir ‘n tyd was en hy uiteindelik ook weer net een persoon was in die lang suksessie van profete wat die Here in hierdie wêreld ingespan het om die konings en die volk se harte aan Hom te verbind.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…