Skip to main content

1 Kronieke 10

Saul se gebrek aan gehoorsaamheid en gebedsafhanklikheid

Die eerste boek van Kronieke begin ná die geslagsregisters van hoofstuk 1-9 in hoofstuk 10 met Saul se dood. Dit vertel dus dieselfde verhaal as 1 Samuel 31. Ons gaan dit dus hier lees, hoewel dit eers ná die ballingskap geskryf is.

Die fokus is in Kronieke deurgaans op ‘n waarderende blik op dié veelbewoë verhale van Samuel en Konings waardeur die volk Israel ná die ballingskap weer kon ontdek watter ryk erfenis hulle het en dat hulle daarmee ‘n nuwe pad met God in die hede kon begin loop. Kronieke skryf dus nie ‘n nuwe geskiedenis van Israel nie, maar verwoord die ou verhale op waarderende wyse as ‘n nuwe boodskap vir die hede.

Dit was ‘n uiters tydige boodskap, want die ballinge het weliswaar in die tyd van die totstandkoming van Kronieke teruggekeer na Jerusalem, maar het die gevaar geloop om hulle identiteit as Godsvolk te verloor, omdat hulle nie meer die wortels waaruit hulle geloofsgemeenskap gegroei het, geken het nie.

Daarom spandeer Kronieke soveel tyd om die volk se verbintenis aan die mensdom (Adam), die Joodse volk (Abraham) en die Koningshuis van Juda (Dawid) met die eerste 9 hoofstukke se geslagsregisters te beklemtoon. Dit word opgevolg in die res van Kronieke met die talle verhale van God se sorg deur die eeue van Dawid af tot in die hede om die volk weer uit te nooi om hulle in ‘n gehoorsame verhouding met Hom te anker.

Met dié perspektiewe wil die boek hulle inspireer om die Here in die hede met hul hele hart te dien aan die hand van hulle identiteit as Godsvolk, sowel as na aanleiding van die konkrete voorbeelde van die geloofshelde van weleer. Daarmee spreek die boek ook tot elkeen van ons wat in Jesus Christus deel van die volk van God geword het en ook Abraham ons vader kan noem (Gal. 3:29). En word ons ook opgeroep om God met ons hele hart te dien in ‘n groeiende geloofsverhouding.

Teks en konteks

Die Kronis kies om net die verhaal van Saul se selfmoord te vertel soos dit in 1 Samuel 31 opgeteken is. Hy verswyg dus die bekende verhaal van 2 Samuel 1 waarin vermeld word dat Saul nie suksesvol was in sy selfmoord poging nie, en ‘n jong Amalekiet hom uiteindelik doodgemaak het op Saul se versoek.

Waarskynlik doen die Kronis dit om sy lesers die grusame detail te spaar, dat Dawid, ná hy die res van die dag gerou het uit ontsteltenis oor Saul se dood, die Amalekiet laat doodmaak het omdat hy sy hand aan die “gesalfde van die Here” geslaan het.

Trouens, die Kronis verswyg die hele verdere bekende geskiedenis van Saul in 1 Samuel 9 tot 2 Samuel 1, omdat dit ook nie inpas in die doel met sy verhaal nie. Hy wil eintlik net na Saul verwys, en spesifiek na sy dood, as inleiding tot Dawid se bewindsaanvaarding, die man na God se hart. Saul se troubreuk kleur – in die oë van die Kronis – Saul se verhaal só negatief dat dit nie as motivering vir die volk se verbintenis aan God in die tyd ná die ballingskap kan dien nie.

Ons weet bv uit die verdere verloop van die verhaal in 2 Samuel 1 en verder dat Saul se veldslag teen die Filistyne (1 Sam 31) ‘n draaipunt was. Hoewel die Filistyne gewen het, het hulle hierna nie verder hond kon haaraf maak teen die verenigde ryk van Israel nie, sodat uiteindelik van Dawid gesê kon word dat hy die Filistyne verslaan het, hulle onderwerp het en die mag uit hulle hande uitgeneem het (2 Sam 8).

Daarmee kies die Kronis vir ‘n waarderende blik op die volksgeskiedenis en fokus eerder op die verheffende verhale van die verlede as die probleemverhale. In narratiewe terme, lig hy die positiewe verhale van die verlede uit en hang die unieke uitkomste daarvan aan die groot klok as aanmoediging en motivering aan die volk om die beste uit die verlede te neem en dít die basis van die hede en die toekoms te maak. Dít is na alles die visie waarop die transformasie van die volk en die herstel van hulle verhouding met God gaan berus.

Dit is steeds vandag goeie raad, soos Pat Kiefert dit stel, om eerder jou tyd en energie te spandeer aan die ontdekking en gebruikmaking van die “usable future in the past”. Want, jy verander in die rigting waarop jy fokus, en dit geld ook vir die manier waarop jy vrae vra of vir die manier waarop jy aspekte uit die verlede kies om uit te lig!

Die Kronis gee die verhaal van 1 Samuel 31 redelik getrou weer, meesal woordeliks, maar met belangrike uitsonderings:

  • Vers 6: Die Kronis voeg by dat “ja, al sy seuns” saam met Saul dood is. Die Kronis kies dus om die geskiedenis van Saul se seun Is-Baäl (Is-Boset) te ignoreer wat ‘n tyd lank Saul se koninkryk voortgesit het (2 Sam 2-4). Hy wil geen verder aandag op Saul verspil nie, omdat Jahwe Saul verwerp het en Dawid nou God se uitverkore koning was. Hy wil waarskynlik ook nie verwys na die verdere grusame geskiedenis van wat Dawid gedoen het met die twee bendeleiers wat Is-Boset twee jaar na sy bewindsaanvaarding doodgemaak het nie (2 Sam 4:2-12)
  • Vers 10: Die Kronis laat die naam van die godin Astarte weg in die beskrywing van die tempel, moontlik weens sy afgryse aan die heidense seksuele orgies wat met haar kultus geassosieer is. Die aanbidding van dié godin sou onder andere vir Salomo se val verantwoordelik wees (1 Konings 11:33). Kronieke verswyg dié feit ook wanneer hy oor Salomo se koningskap skryf. Die res van die verskille rondom die wapenuitrusting en wat met Saul se kop en lyk gedoen is, kan aan ‘n ander Hebreeuse tekstradisie van Samuel en Konings gewyt word, soos ontdek is by die Qumram grotte. Daarvolgens het die Filistyne Saul se kop aan die tempel van Dagon vasgemaak.
  • Vers 12: Die Kronis laat die detail rondom die verbranding van die lyk van Saul weg. Die verhaal van die eerbied van die burgers van Jabes in Gilead word met minder detail vertel.

Die belangrikste punt van die Kronis se weergawe van die Saul-verhaal is in vers 13-14 wat nie in Samuel só voorkom nie. Saul se dood word aan sy troubreuk gewyt. Hy het twee goed nie gedoen nie:

  1. Hy het nie gedoen wat die Here van hom gevra het nie; hy was ongehoorsaam. Hier word waarskynlik gedink aan die twee keer wat hy doelbewus die opdragte van God se profeet-priester Samuel verontagsaam het in terme van sy eiesinnige offerandes en die weiering om die oorlogsbuit te vernietig soos die Here beveel het (1 Sam 13 en 15).
  2. Hy het nie die Here geraadpleeg nie, maar eerder ‘n gees. Hier word verwys na die gebeure in 1 Sam 28. Uit Samuel is dit egter duidelik dat Saul wel die Here probeer raadpleeg het, maar dat die Here hom nie geantwoord het nie. Dit het hom sy toevlug tot ‘n medium laat neem, iets wat die wet uitdruklik verbied het. Die Kronis laat dié detail uit en fokus net op die feit dat hy nie in afhanklikheid van die Here geleef het nie.

Boodskap en betekenis

Met die hervertel van hierdie verhaal onderstreep die Kronis die belangrikheid van gehoorsaamheid aan wat jy weet die Here wil hê. Ongehoorsaamheid het ‘n destruktiewe effek op jouself en almal rondom jou. En waar jy onseker is oor wat die Here wil, vra! Soos ‘n Dawid.

Dit is ook duidelik dat die Here sulke afhanklikheid in die oortreffende trap beloon soos ‘n mens telkens in die lewe van Dawid kon sien. Die verhaal van Saul is dus ‘n tydige waarskuwing teen ‘n lewe onafhanklik van die wil van God. En ‘n aanmoediging om die Here se wil te volg in alles.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar