Skip to main content

2 Samuel 22; Psalm 18

Dit is God wat die oorwinning gee

Die Psalm wat in 2 Samuel 22 opgeneem is, is amper woordeliks dieselfde as Psalm 18. Dawid spreek met die inhoud in albei gevalle sy dankbaarheid teenoor die Here uit vir sy redding, bevryding en verbondstrou. Hy vier sy vryheid van al sy vyande, Saul van vroeër ingesluit.

Die Psalm word waarskynlik in Samuel geplaas net na Dawid se finale oorwinning oor die Filistyne (vgl 2 Sam 21:15–22) om te beklemtoon dat dit God is wat oorwinning gee, omdat Dawid – ten minste vanuit ‘n menslike perspektief – nie meer so onoorwinlik in oorlogvoering was nie, en die manskappe het hom aangeraai om nie langer homself bloot te stel daaraan nie (vgl 2 Sam 21:15–16). Die Here van die oorwinning was egter steeds Dawid se God.

Die Psalm word ‘n reeks van Tien Psalms geplaas – Psalm 15-24 – om dieselfde boodskap, net in ‘n ander konteks, te bring, dit is, dat God die oorwinning gee. Dit relativeer Dawid se rol om die fokus op die sentrale rol wat die tempel speel te plaas. Want, dit is plek waar God se teenwoordigheid beleef en gevier kan word, ook in die oorwinnings wat Hy gee.

Dit sien ons in die besondere chiastiese (konsentriese) patroon wat merkbaar is in die wyse waarop hierdie tien Psalms in die Psalmboek gerangskik is.

Let op die volgende:

  • Psalm 15 beantwoord die sentrale vraag: Wie mag in die tempel kom?
    • Psalm 16 beklemtoon die vertroue op die beskerming van Jahwe.
      • Psalm 17 bid om verlossing vanuit hierdie vertroue.
        • Psalm 18 (ons Psalm) fokus die gebed spesifiek op die verlossing van die koning en gesalfde in hulle oorwinnings.
          • Psalm 19 is die sentrale Psalm in hierdie groep, die spilpunt, wat beide op God se teenwoordigheid in sy Skeppingswerk fokus (Ps 8) as op die sentrale rol wat Sy woorde speel om sy teenwoordigheid te ervaar (Ps 1, 14). Hierdie woorde is natuurlik in die tempel gehuisves (die kliptafels in die Ark van die verbond), en as die basis van die Godsopenbaring aan die volk verkondig.
        • Psalm 20-21 fokus weereens die gebed spesifiek op die verlossing van die koning en gesalfde in hulle oorwinnings.
      • Psalm 22 bid weereens om verlossing vanuit hierdie vertroue.
    • Psalm 23 beklemtoon weereens die vertroue op die beskerming van Jahwe.
  • Psalm 24 beantwoord dieselfde sentrale vraag: Wie mag in die tempel kom?

Jy kan kies watter weergawe jy vandag lees.

Teks en konteks

2  Samuel 22 / Psalm 18 herdenk Dawid se oorwinning oor sy vyande, veral oor Saul. Ek maak ’n paar opmerkings oor die Psalm aan die hand van die struktuur daarvan:

  1. Oorwinning oor Saul – vers 1

Die konteks van die oorwinning oor Saul word aangekondig as getuienis vir die geloofsgemeenskap (vers 1). Let op dat Dawid homself nie as koning beskryf nie, maar as dienaar van die Here.

  1. Hulp in nood – vers 2-4

Dawid loof die Here vir Sy hulp in nood op ’n besondere wyse (vers 2–4). Die pragtige woorde van hierdie Psalm weerklink daarom baie keer in ons kerke: “Ek het U baie lief, o Heer, my rots, my sterkte, my verweer.” (TT Cloete se woorde). God se hulp in dreigende omstandighede, selfs so gevaarlik soos die “bande van die dood” (vers 5), staan bo alles vas.

  1. God luister en tree op – vers 5-19

Dawid beskryf sy nood met ’n verskeidenheid treffende metafore om sy verskrikking, en bedreiging uit te druk (vers 5-6). En dan vervolg hy met ’n paar selfs nog treffender natuur-metafore om die Godsverskyning op die wieke van die gerubs (hemelwese met groot vlerke) te beskryf (vers 8-16), dié God wat nie net na hom geluister het nie (vers 7), maar hom uit sy nood verlos het (vers 17-19).

  1. Verhouding met God – vers 21-25

Daarom loof Hy dié God wat Hom verlos het, omdat Hy hom liefhet (vers 20), én omdat Hy Dawid se onskuld aanvaar het en sy vashou aan die Here raakgesien en beantwoord het (vers 21–25). Let op hoe Dawid sy verhouding met God beskryf, want dit gee ons ’n goeie aanduiding hoe ons eie verhouding met God werk: gehoorsaam God se wil, laat hom deur al sy bepalings lei, wyk nie van sy voorskrifte af nie, opreg voor God, op sy hoede teen enige ongeregtigheid (Psalm 19 gaan hierop uitbrei!).

  1. God is getrou – vers 26-28

Dawid gee ‘n pragtige beskrywing van God se getrouheid vir almal wat Hom dien – getrou vir die getroues, opreg teenoor die opregtes, rein teenoor die reines, maar Hy verwerp dié wat huigel (vers 26–28).

  1. God is onvergelykbaar – vers 29-46

Dawid gaan oor tot ’n verdere loflied aan hierdie onvergelykbare God wat sy dienaar, Dawid, beskerm en laat oorwin deur die lig wat Hy gee (vers 29–46). Hierdie beskrywings van hoe God aktief is in ons lewe, word baie keer gebruik as geloofsversterking: “met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (vers 30).

En Dawid brei uit hoe God hom gehelp het om sy vyande te agtervolg, in te haal en uit te wis: 34Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan.” (vers 34)

Ontstellend – dié vyande roep selfs na God in hulle nood, maar Hy antwoord hulle nie (vers 42) – wat waarskynlik na Saul se onegte “bekerings” teenoor Dawid verwys, wat altyd weer in vyandskap geëindig het. Om nie van die verraad van Absalom te praat nie.

God word egter nie daardeur om die bos gelei nie. Terloops – ’n mens moet só ’n uitroep altyd in die breër konteks van die Psalm en die res van die Bybelse getuienis lees, anders is jou interpretasie daarvan gebrekkig, en kan dit tot verkeerde gevolgtrekkings lei.

  1. Lof voor die nasies – vers 47-51

Dawid is so oorweldig deur die uitkoms wat God gee, dat hy sy lofbetuiging uitbrei om die Lewende Here voor die nasies te verheerlik, wat in ’n sekere sin, eintlik altyd die doel van die wonderwerke is: om alle mense op te roep tot lof aan hulle Skepper (vers 47–51).

Boodskap en betekenis

Aan die einde van Dawid se lewe besing hy dus die wonder van God wat in die moeilikste situasies denkbaar, uitkoms gee en Dawid die oorwinning laat behaal, selfs in gevalle waar sy eie kragte te min geword het. Dit is God wat die oorwinning gee (vers 48).

Bely vandag saam met Dawid: “Ek het U baie lief, Here, my Sterkte.” (vers 2)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar