Skip to main content

2 Konings 12; 2 Kronieke 24

Jehoas herstel die tempel, maar val vir vleitaal en verlaat die Here

Jehoas/Joas regeer in Juda vir 40 jaar (835-796 vC). In die eerste gedeelte van sy termyn is hy ‘n goeie koning wat veral uitblink deur die tempel te herstel onder leiding van sy mentor en pleegpa, Jojada. In die laaste deel van sy termyn val hy vir die vleitaal van die leiers van Juda en verlaat nie net die Here nie, maar laat ook sy pleegpa se seun, Sagaria, doodmaak op valse aanklagte toe dié hom aangespreek het oor sy oortreding van God se gebooie. Stank vir dank wil ’n mens uitroep! Hy word daarom self deur sy amptenare om die lewe gebring en sy seun Amasia word na hom koning.

Teks en konteks

Die patroon van groot hoogtes en net daarna diep laagtes in die lewens van die konings is nou al oor en oor vasgelê. Die ideaal van ’n koning wat sy sout werd is en dit reg deur sy lewe bly, is steeds lewendig … maar net so seer weet ’n mens net dat die werklikheid telkens hierdie ideaal dwarsboom. Die verwagting na ’n koning wat regdeur sy lewe goed sal doen en reg sal lewe groei in die gemoed van almal wat dié verhale lees, ’n verwagting wat ’n hele paar eeue hierna eers uiteindelik met die geboorte van die Messiaanse koning, Jesus, verwesenlik sou word.

Jehoas se verhaal begin met die rol wat Jehoseba, sy tannie, in sy lewe speel deur hom van doodsgevaar te red teen groot risiko vir haar eie lewe. Maar dit is nie net ’n heldedaad wat sy koningskap aanvanklik gevorm het nie. Dit is op nog ’n dieper vlak aan ’n uitstaande mentor en begeleier in die persoon van haar man, die hoëpriester Jojada, te danke dat sy koningskap gefloreer het.

Jojada is op 130 jarige ouderdom eers dood, wat beteken dat hy in sy tagtigerjare moes gewees het toe Joas op eenjarige ouderdom in sy huis ingeneem is om hom te beskerm. Hy was dus ’n wyse deurleefde man wat seker gemaak het dat Jehoas doen wat reg is in die oë van die Here. Jojada het selfs vir Joas twee vrouens gekies wat natuurlik nie om dowe neute was nie. Dit het die gevaar van ’n oorname deur die Omri- en Agab-dinastie van die noordelike ryk van Israel in die kiem gesmoor. Dit het ’n beslissende rol gespeel in die voortbestaan van die Dawidshuis.

Jehoas het onder Jojada se leiding die tempel herstel na sy vorige glorie, na al die verwoesting wat Atalia met haar Baälaanbidding in die tempel gesaai het. Let op hoe die Leviete en priesters oral in die land geld insamel om die tempel te herstel, maar aanvanklik bietjie aangepor moes word om iets met die geld te doen! Die kis wat by die tempel geplaas is, het die doel van ’n herinnering aan die volk gehad en gedien as kontrole in die insameling van die offergawes. Ons tref natuurlik dieselfde gebruik in die NT aan met die weduwee wat haar gawe in die kis by die tempel kom ingooi (Mark 12:42), ’n gebruik wat vandag nog deur baie kerke wêreldwyd nagevolg word. Dit wil lyk asof dié gebruik juis uit die dae van Jehoas dateer en of aan hom (Konings se weergawe) of aan Jojada (Kronis se weergawe) toegeskryf kan word.

’n Mens word getref deur die groot kontrole wat toegepas word met die geldinsameling, die deeglike en vinnige uitvoering van die herstelwerk deur die vakmanne en die feit dat die geld vir niks ander gebruik is as waarvoor dit ingesamel is nie. Toe die geld te veel is vir die herstelwerk, is die tempelgereedskap aangevul. ’n Voorbeeld van goeie rentmeesterskap.

Konings laat by ’n mens die indruk dat die priesters geld aanvaar het vir die herstel van die tempel maar dit nie daarvoor gebruik het nie en op ander dinge gespandeer het. Konings meld spesifiek dat die voormanne wat toe aangestel is om die projek te bestuur eerlik was en die geld vir die herstelwerk ingespan het. ’n Mens lei af dat korrupsie gedreig het, maar afgeweer is deur die vroegtydige tussenkoms van Jehoas. Daar word ook meer detail van die skrynwerkers, bouers en messelaars gegee wat aan die projek deelgeneem het.

Met die dood van Jojada op die rype ouderdom van 130 het die situasie egter verander. Moontlik het Joas as koning te min self gedoen, hetsy uit eie keuse of onder die leiding van sy pleegpa, maar toe hy uiteindelik net op sy eie bene staan in sy middel veertigs, het hy voor die aartsversoeking geval, vleitaal. Dit is ’n les vir alle mentors om nie met jou begeleiding die inisiatief en verantwoordelikheid van die mentee te beperk of te inhibeer nie.

Joas verset hom teen die profete wat hom waarsku en begaan die liederlike sonde om sy eie pleegpa se seun, Sagaria, wat onder leiding van die Gees van God hom kom aanspreek, valslik te laat beskuldig en met klippe te laat doodgooi. “Koning Jehoas het nie gedink aan die liefde wat sy pleegvader Jojada aan hom bewys het nie …”

Jehoas kry hierna dit reg om die bedreiging van Gasael die hoof te bied, egter teen groot onkoste, deur gewyde gawes aan hom te stuur, maar word uiteindelik self deur ’n paleisrevolusie getref, hierdie keer komende van die amptenary wat hom in sy eie bed doodmaak, na hy swaar gewond is in die geveg met die Arameërs.

Jehoas word wel op eervolle wyse in Bethlehem, die stad van Isai en Dawid, begrawe en die koningshuis van Dawid in stand gehou met Jehoas se seun Amasia wat hom opvolg en op sy beurt, na hy goed gevestig was, sy pa se dood wreek op die einste amptenare.

Boodskap en betekenis

Jesus verwys waarskynlik na die dood van hierdie profeet Sagaria in sy toespraak teen die Skrifgeleerdes en Fariseërs as ‘n aanklag teen almal wat onskuldige bloed vergiet in ‘n poging om die skyn van hulle heiligheid te beskerm (Matt 23:35; Luk 11:51 – Beregja was moontlik Jojada se pa).

Hoewel ‘n mens in die NT natuurlik ook die klem op die oordeel van almal wat in opstand teen die Here is, kry (vgl die lot van die “bokke” in die profetiese rede wat ‘n “ewige straf” ontvang – Matt 25:46), staan die genadetyd van vergifnis voorop.

Ons sien dit in die verhaal van Stefanus, die eerste Christelike martelaar. Waar Sagaria gewerk het met die oordeel van die Here en hy hom in sy sterwensuur op die Here se alsiendheid en oordeel teen sy moordenaars beroep het: “Die Here sien dit, Hy sal julle straf!” kyk Stefanus hemel toe en sien die Here aan die regterhand van God staan en roep uit: “Moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” (Hand 7:60).

Daarmee doen hy wat Jesus self aan die kruis gedoen het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34).

Dit is daarom met dié gebed van Stefanus, wat op Jesus s’n gemoduleer is, wat ons ook teenstand en verguising kan ontmoet. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Vyandsliefde op sy diepste.

Die oordeel kom verseker, want die wraak en vergelding kom die Here toe (Rom 12:19), maar die tyd waarin ons nou leef, is genadetyd, die tyd van die verkondiging van bekering tot vergifnis  van sondes (Luk 3:3; Hand 5:31).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar