Skip to main content

1 Kronieke 17

Dawid se behoefte vir ‘n huis vir God word ‘n belofte van ‘n huis vir Dawid

Kronieke neem met die terugkeer uit die ballingskap in die 5de eeu vC die verhaal uit 2 Samuel 7 oor en vertel van Dawid se behoefte om ‘n huis vir die Here te bou wat gelei het tot die allesomvattende belofte van die Here om inteendeel Dawid se huis te bou en sy koningskap vir altyd te bevestig. Met dié verhaal bemoedig Kronieke die volk wat weer die land moet opbou.

Teks en konteks

‘n Paar interessante verskille val ‘n mens op in die wyse waarop die Kronis met die 2 Samuel 7 teks werk. Benewens die kleiner taal- en formulerings verskille, staan die volgende vir my uit:

  • Die Kronis laat die opmerking: “nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing” uit die Samuel teks uit, waarskynlik om die verhaal nader aan die voorafgaande gebeure rondom die tuiskoms van die ark te posisioneer.
  • Die Kronis formuleer die vraag van die Here: “Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon?” in Samuel baie sterker as ‘n bevel: “Nie jý sal vir My die huis bou om in te woon nie.”
  • Die Kronis verkies om Saul se naam nie te noem nie, en praat net van Dawid se voorganger. Soos hy kies om net van Saul se dood te skryf in hoofstuk 10, en dit net om Dawid aan die orde te stel, en min aandag aan die minagting van Mikal spandeer in 1 Kronieke 15, doen hy dit hier deur nie eers Saul se naam te noem nie.
  • Die Kronis gebruik ‘n pragtig metafoor om die meer prosaïese beskrywing van Dawid se verwondering oor die toesegging van God aan hom weer te gee: “U sien my as die man wat soos ’n duif die hoogtes bereik, Here God!” Dawid se digterlike finesse word daarmee in herinnering geroep.

Dawid se gesprek met Natan word uiteindelik ‘n gesprek met God ná Natan sy aanvanklike positiewe reaksie op Dawid se versoek aangepas het nadat God met hom gepraat het. Let op hoe God se stem hier na Dawid deur die woorde van die profeet kom, en dat sy gebed ‘n reaksie op God se toesegging is, anders as wat hy in die twee oorloë met die Filistyne ervaar het waar God direk met hom gepraat het.

Wat uitstaan van God se antwoord aan Dawid is sy soewereiniteit en onafhanklikheid aan die een kant – Hy het nie ‘n huis nodig nie – en sy deernis en betrokkenheid aan die ander kant – Hy sal vir Dawid nie net ‘n huis bou nie, maar sy seun toelaat om ‘n huis vir die Here te bou. Hy omvorm dus Dawid se behoefte in ‘n belofte van God vir ‘n bestendige koninkryk, terwyl God ook die behoefte op sy eie manier antwoord. Salomo sal die tempel bou.

Dawid se gebed in antwoord op God se belofte wys op die innige verhouding wat daar tussen hom en God was. Hy gaan sit waarskynlik in die tent by die ark om met God te praat, en fokus op die belofte van God wat nie net sy verwagtings oortref nie, maar nogal gemaak is ten spyte van wie Dawid is: “U ken immers u dienaar.” En hy eindig sy gebed deur te bely dat dié beloftes in God se wese begrond is: “U, Here, het geseën; daarom is dit vir altyd geseën.”

Boodskap en betekenis

In die Nuwe Testament word die Dawidiese verbond van 1 Kronieke 17 en 2 Samuel 7 in Jesus Christus vervul. In Hom sien die Nuwe Testament die samesmelting van die koninkryk van God en die koninkryk van Dawid. Dit sien ons in hoe Jesus se geboorte beskrywe word (Luk 1:32), sowel as sy opstanding (Hand 2:30), hemelvaart en verheerliking (Hebr 1:5 haal 1 Kron 17:13 en 2 Sam 7:14 as bewysplaas aan).

Jesus is dus nie maar net Dawid se Seun nie. Jesus is ook God se Seun wat in beheer is van die hele huis van God: “en ons is sy huis as ons bly vashou aan die vrymoedigheid en hoop waarop ons ons beroem.” (Hebr 3:6)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…