Skip to main content

Amos 8:1-14

Die oordeel van die vierde gesig van ‘n mandjie somervrugte

Dit is nogal ironies dat die vierde gesig met ‘n mandjie ryp somervrugte te make het (8:1-3). Amos was ‘n ekspert om nie net te weet wanneer vye ryp is nie, maar inderdaad ook om daartoe te kan bydra deur hulle te prik (7:14). Die Here gebruik dus sy vaardigheid om ryp vrugte raak te sien, om met hierdie gesig van die mandjie somervrugte Sy boodskap oor te dra.

Dit is egter ‘n ontstellende boodskap. Die Here wys vir Amos dat Hy weet wanneer die tyd ryp is vir sy volk. Dit is egter nie ‘n tyd van blydskap nie. Dit is ‘n tyd van hartseer, die tyd wanneer hulle deur die vyand geëet sal word, en die sang in die paleis sal stil word en in ‘n gehuil sal verander.

Teks en konteks

In drie gedeeltes pak die Here die betekenis van die visioen uit. Hy beskryf die konteks van ongeregtigheid wat Hom tot dié gevolgtrekking gebring het oor hulle rypheid vir oordeel (8:4-6). Hy verklaar dat Hy dit doodgewoon nie kan oorsien nie (8:7-10). En Hy beskryf die nood aan Homself en sy woorde wat sal heers in sy oordeel (8:11-14).

Amos 8:4-6 – Die onreg van die volk is wydverspreid en welbekend

Die Here beskryf ‘n konteks waarin arm mense verdruk word en die fokus op onregmatige wins is. Die godsdienstige rituele en feeste word wel nagekom, terwyl angstig gewag word vir die normale ekonomie om daarna weer in te skop. Die Here beskryf met afsku die valsheid en onreg wat hulle in die gemeenskap pleeg.

Amos 8:7-10 – Die Here sal nooit vergeet wat hulle gedoen het nie

Dit is waarom die Here net nie kans sien om dit oor te sien nie. Hy kan nie en sal nie vergeet wat hulle gedoen het nie. Die hele skepping sug eintlik saam met Hom oor die onmoontlikheid van die situasie. Die Here moes die roem van Israel gewees het. Nou is hulle vir hom ‘n las en ‘n skande. Daarom laat Hy dit vir hulle word: “soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur.” Die uiteinde sal vir hulle bitter wees.

Wat ‘n mens waarskynlik moet raaksien in hierdie beskrywing van die leed wat die Here die volk aandoen, is dat Hy oor hulle voel: “soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur.” Dié mense wat sy roem en trots op die aarde moes wees, het Hom versaak en teen Hom in opstand gekom.

Amos 8:11-14 – Mense sal ronddwaal om die woord van die Here te soek, maar nie kry nie

As dit maar al was, sou ‘n mens kon sê. Maar die ergste kom nog.

Die mees tragiese vir my van dié visioen, trouens miskien van die hele boodskap van Amos, is die feit dat die woord van die Here verlore raak. Daar sal ‘n honger wees, sê die Here: “nie na kos nie, ‘n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor.

Die ontroerende prentjie word geskilder van mense wat ronddwaal en rondslinger op soek na die woord van die Here. Maar vind, sal hulle dit nie vind nie. Die pad na die Here, sê Amos, sal verlore wees, uitgewis, uitgevee … net soos die pad na die heiligdomme van hulle afgode by Dan en Berseba, dié twee heiligdomme wat op die noord- en suidgrens respektiewelik geleë was en hulle in die eerste plek verlei het om aan die Here ongehoorsaam te wees.

Boodskap en betekenis

Daar is ‘n noodwendigheid in die uitkoms van ‘n lewenspad wat mense inslaan. Waar die Here en sy wil vir die lewe gesoek word, dáár is ‘n toename in die bewussyn van God. Waar die Here en sy wil vir die lewe nie gesoek word nie, dáár is ‘n afname in die bewussyn van God. Soveel só dat die woord van die Here soek kan raak, trouens, dat Hy nie meer gevind kan word nie.

Dit is vir ons moeilik om te hoor, veral waar ons die woorde van die Here Jesus nog hoor weerklink: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7:7-8).

Die woorde van Jesus bly gelukkig steeds die evangelie, maar in spesifieke kritiese omstandighede, waar die Here langdurig en deurlopend geïgnoreer word, en sy stem uitgedoof word, daar raak dié prentjie van Amos se mandjie ryp somervrugte relevant, van ‘n tyd wat ryp raak vir oordeel. Dit is daarom dat ons nooit mag toelaat dat iemand geestelik moeg raak en uitsak en doof raak vir die woord van die Here nie, soos die skrywer aan die Hebreërbrief waarsku nie (vgl. Hebr. 4:1).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…