Skip to main content

1 Samuel 13

Saul minag die Here

Alhoewel Saul sy loopbaan goed begin het met die oorwinning oor die Ammoniete (hfst. 11), demonstreer twee optredes gou sy onvermoë om God se volk te lei. In die eerste plek verontagsaam hy Samuel se opdragte wat op die wet gebaseer is en daarom ook die koning se optrede moes struktureer (hfst. 13). In die tweede plek kies Saul om die Here nie te raadpleeg in die oorlog teen die Filistyne nie, en vertrou eerder op sy eie planne wat amper tot ‘n tragedie lei vir sy seun Jonatan (hfst. 14). In albei gevalle ignoreer Saul die openbaring van God en bring hy die volk in gedrang. Hulle was immers afhanklik van God vir hulle voortbestaan in die land. Daarom lei Saul se minagting van die Here tot die opheffing van God se seën op sy koningskap.

Teks en konteks

Saul se strategie om ‘n aantal vrywilligers terug te stuur na hulle tente toe, boemerang in die oorlog teen die Filistyne, omdat hy die teenstand heeltemal onderskat het. Miskien wou hy die eer vir die oorwinning vir Benjamin opeis, maar hy word terstond gedwing om die hele Israel op te roep tot die oorlog. Want, die Filistyne het met alle mag en geweld op die Israeliete toegesak met: “manskappe so talryk soos die sand wat langs die seestrand is.” Die Israeliete was oorweldig en vasgekeer en het in vrees oral waar daar ’n holtetjie was, bewend gaan wegkruip.

Maar, wat nog erger was, is dat Saul nie in afhanklikheid van en gehoorsaamheid aan die Here opgetree het nie. Hy ignoreer nie net die woorde van God se profeet nie, maar ook God se woorde in die wet. Samuel het Saul beveel om te wag tot hulle geestelik gereed was – deur die standaard offers waardeur die “Here se guns gesoek” is – maar Saul het verbouereerd geraak – veral toe van die manne gedros het – en gekies om self die offers te bring, selfs al was dit teen die Here se eksplisiete voorskrifte in die wet.

Saul se geestelike ongeduld en ongehoorsaamheid kon dus nie net daar gelaat word nie, want dit het die verhouding tussen die volk en God deurbreek. Samuel spreek daarom die dwaasheid van Saul direk aan. Hy pas sy eie profetiese woorde in 1 Samuel 12:25 – dat ‘n ongehoorsame koning “weggevee” sal word – nou toe op Saul: “Maar nou sal jou koningskap nie standhou nie” (1 Sam 13:14). Daarmee lê Samuel die sentrale beginsel van die wet uit. Bewaar die Here se opdrag en Hy sal jou bevestig (1 Sam 13:13). Kom in opstand teen sy woord, en jy sal jou koningskap verloor.

Terloops, daar is wel getuienis van ander konings wat geoffer het (Dawid in 2 Sam 6; Salomo in 1 Kon 3). Die verskil lê waarskynlik in die feit dat Saul verbied is deur Samuel om te offer en Dawid en Salomo die verlof daartoe gehad het. Dit wil voorkom asof die Dawidiese lyn priesterlike status gekry het (hy dra bv die efod met die vestiging van die ark in Jerusalem – vgl 2 Sam 6:14), moontlik in die lig van sy verbintenis met Melgisedek (vgl Ps 110) en die verowering van Jerusalem (Melgisedek was die koning van Salem, dit is Jerusalem – vgl Gen 14:18 en Hebr 7:1).

Saul se koningskap wankel dus al te gou. Dit is tragies dat hy al die potensiaal gehad het, en die Here sy koningskap vir altyd wou bevestig, maar dat hy nie die riglyne vir aanbidding en gemeenskap met God nakom nie, en so uit God se guns val.

Nog erger, anders as ‘n Dawid, toe dié aangespreek is, keer Saul nie terug na die Here in berou nie, maar besluit om op sy eie die oorlog voort te sit! Dit kom neer op ‘n totale minagting van God en sy woord – die woord van die profeet, sowel as die woord van die wet.

As Samuel dan vir Saul sê dat die Here besluit het om ‘n ander koning te kies, spel Samuel dit uit dat dit “‘n man na God se hart” sal wees. En hiermee word alreeds in prinsiepe die groot verskil tussen Saul en Dawid aangevoer, die een wat God hierna gaan soek het. Die verskil tussen Saul en Dawid is ‘n hart wat kan reageer op wat God sê en doen. Dawid oortree eintlik self eksplisiet die Tien Gebooie – moord en egbreuk – en het net so baie huismoles as Eli en Samuel, maar keer telkens in berou na die Here toe, as dié hom aanspreek daaroor. Dit is steeds wat God in my en sy kinders soek.

Saul word egter nie deur hierdie verwerping van sy koningskap van stryk gebring nie, en maak gereed vir die verdere oorlog met die manskappe wat nog by hom was, al was die bedreiging van die Filistyne lewensgroot, onder andere omdat hulle gesorg dat net Saul en Jonatan toegang gehad het tot ordentlike wapens.

Boodskap en betekenis

Vanuit ‘n sekulêre hoek was Saul ideaal toegerus om koning te wees. Hy was koninklik van gestalte. Hy het homself bewys in oorlog. Hy was populêr by die volk.

Maar, hy was terselfdertyd uit ‘n geestelike hoek ‘n rebel teen die Here en sy woord. Hy was skuldig aan twee van die ernstigste tipes sonde wat moontlik was in ‘n teokrasie waarin God se woord – deur profete en die Skrif – die deurslaggewende een was. Hy het die goddelike woord verwerp soos ons kan sien in sy aktiewe ongehoorsaamheid met die offers. En hy het die goddelike woord aangevul met sy eie bykomende woorde, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien met sy verbod dat die soldate iets mag eet in die stryd (hfst. 14). Dit is ten diepste waarom Saul se koningskap van hom weggeneem word.

God het Saul dus gekies as ‘n man wat potensiaal gehad het en vir wie Hy ‘n kans wou gee. En onthou, dit het aanvanklik perfek gewerk. Saul was nederig en dapper. Maar, die gehoorsaamheid het nie gehou nie. Daarby het Saul nie soos Dawid voor God gebuig nie. Dit was die groot verskil tussen Dawid en Saul. Die een het op God se woorde reageer, en die ander nie. Die verskil lê dus in ‘n hart wat leerbaar is of nie. Dit is ook nie God wat ‘n fout gemaak het met Saul nie, of nog erger hom opgestel het om te misluk as voorbeeld vir ons nie. Dit is Saul wat ‘n fout gemaak het om die oordeel van God nie te aanvaar en om vergifnis te vra nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar