Skip to main content

Romeine 10

God bied die regte verhouding met Hom aan Jode en nie-Jode in Christus

Die agtste hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 10:1-11:36 en handel oor redding vir die Israeliete en die heidene in Christus. Paulus raak drie sake aan:

  1. Nie alle Israeliete het God se redding in Christus aanvaar nie (10:1-21)
  2. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (11:1-32)
  3. God moet hiervoor geprys word (11:33-36)

Die eerste saak is die boodskap dat nie alle Israeliete God se redding in Christus aanvaar het nie.

Paulus bid dat sy volk sal raaksien dat die wet hulle na Christus wil lei (10:1-4)

Paulus openbaar sy hartewens en gebed vir Israel dat hulle die wonder van Christus sal raaksien wat die genade uitdeel aan elkeen wat glo. Hulle ywer is prysenswaardig deur die wet te probeer nakom, maar dit is misplaas en sonder insig. Die wet wil hulle juis na Christus lei, want Hy is die enigste Een wat deur geloof hulle in die regte verhouding met God kan bring.

Jode en Grieke kan slegs in die regte verhouding met God kom deur in Christus te glo (10:5-13)

Paulus motiveer sy lering deur die twee weë om met God in die regte verhouding te kom, te kontrasteer: die weg van die wet en die weg van die geloof. Vir beide weë haal hy Moses aan.

Hy haal eerstens vir Moses aan oor die weg van die wet. Moses het geskryf dat die wet lewe sal gee as ‘n mens dit volmaak nakom, veral met die oog op die vermyding van seksuele sondes (vgl Lev. 18:5). Maar, onthou, die wet was bedoel as riglyne vir mense wat reeds verlos was, nie as riglyne om hulle verlossing daardeur te verdien nie.

Paulus haal daarom tweedens ook vir Moses aan om die lering oor die weg van geloof steeds op Moses se lering oor die wet te baseer. Paulus gebruik ‘n kombinasie van wat Moses in Deuteronomium 9:4 en 30:12-14 geskryf het oor die nabyheid en verstaanbaarheid van die wet om sy lering oor die regte verhouding met God deur die geloof in Christus weer te gee:

“Die regverdiging deur die geloof word so verwoord: “Moenie in jou hart sê (Deut 9:4), ‘Wie sal na die hemel opgaan?’ ” (Deut 30:12) – met die bedoeling om Christus af te bring – “of, ‘Wie sal na die onpeilbare diepte afdaal?’ ” (Deut 30:13) – met die bedoeling om Christus uit die dood terug te bring nie. Nee, wat sê dit? “Hier by jou is die woord, in jou mond en in jou hart” – (Deut 30:14) dit is die woord van geloof wat ons verkondig.” (10:6-8)

Die boodskap van die evangelie wat op geloof gebaseer is, is dat:

“as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos.” (10:9-10)

Let op hoe belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt geskets word. Die ervaring is immers baie keer dat dit eers is wanneer jy bely dat jy glo, dat jou geloof tot sy reg kom, of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy regtig glo, dat jy die Here Jesus kan bely.

Paulus haal vir Jesaja en Joël aan om die belangrikheid van belydenis en geloof vir alle mense verder uit die Skrif te onderstreep: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” (Jes 28:16). Want: “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” (Joël 2:32)

Dit maak dus inderdaad geen verskil of jy ‘n Jood of ‘n Griek is nie. Ons het almal dieselfde Here, en Hy deel sy rykdom uit aan almal wat Hom aanroep.

Hierdie goeie nuus moet aan alle mense verkondig word (10:14-19)

Paulus moedig daarom alle gelowiges aan om hierdie goeie boodskap van die regte verhouding met God deur geloof in Christus Jesus aan alle mense op die aarde te bring. Want, die geloof is uit die gehoor, en die gehoor is uit die Woord van God.

Om te kan hoor, moet iemand jou daarvan vertel. Soos die Skrif sê: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!” (Jes 52:7; Nah 1:15)

Nie al die Jode het hierdie goeie nuus aangeneem nie (10:16-21)

Paulus is baie bewus daarvan dat nie almal wat deel is van die Joodse volk hierdie boodskap aangeneem het nie, soos Jesaja al gekla het oor hulle: “Here, wie het geglo toe hulle ons gehoor het?” (Jes 53:7)

Hierdie Jode se ongeloof was egter nie vanweë ‘n gebrek aan verkondiging nie, maar weens hulle ongehoorsaamheid en opstandigheid (Jes 65:1-2), want God het selfs deur die skepping met hulle gepraat (Ps 19:4) en gaan hulle nou deur die bekering van ander volke jaloers maak (Deut 32:21).

Boodskap en betekenis

Romeine 10 beklemtoon dat die regte verhouding met God, vir sowel Jode as nie-Jode, slegs deur geloof in Christus moontlik is. Paulus wys daarop dat Israel, ondanks hul ywer vir die wet, misluk het om Christus as die vervulling daarvan te erken. Hy verduidelik dat redding nie deur wetsgehoorsaamheid verkry kan word nie, maar deur geloof en belydenis dat Jesus die Here is. Die boodskap van die evangelie is universeel, en Paulus dring daarop aan dat dit aan almal verkondig moet word, aangesien geloof ontstaan deur die boodskap te hoor. Hoewel sommige Jode weier om hierdie boodskap te aanvaar, is dit nie weens ‘n gebrek aan verkondiging nie, maar eerder hul opstandigheid. Paulus onderstreep dat God se redding aan alle mense beskikbaar is en deur die bekering van die heidene selfs Israel jaloers sal maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda