Skip to main content

Spreuke 5:1-23

Bly weg van hartelose verhoudings

Spreuke 5:1-6

Die agste lewensles” van die pa aan sy seun strek van Spreuke 5:1 tot 6:19 en fokus op vyf versoekings. Hy fokus in hoofstuk 5 aan die een kant op die verleiding van die vreemde vrou (dws iemand anders se vrou). Hy fokus in hoofstuk 6:1-19 op die verdere vier versoekings van vreemdes (dws mense wat jy nie ken nie), luiheid, onreg en eiegeregtigheid.

Die pa waarsku in vers 1-6 teen die versoeking van die vreemde vrou (die vrou van iemand anders, dws ‘n getroude). Om jou voet op hierdie verkeerde pad te plaas, lei jou in die eerste plek, bó alles, tot ’n goddelose pad, ‘n pad waarin jy ook jou Godsverhouding kan verloor. Vermy die vreemde vrou dus soos die gif, want dit is ‘n pad van die dood. Sy sal jou weghou van die pad van die lewe. Dit lyk miskien na “easy sex,” maar dit is net skyn, die skyn van die dood. Sulke seks laat jou verdwaal. Dit sal die pad na die lewe vir jou sluit.

Spreuke 5:7-14

Die pa borduur voort op die versoeking van die vreemde vrou en waarsku al sy seuns teen die effek wat ontrouheid in die huwelik op jouself kan hê. Hy waarsku hulle dat hulle nie hulle beste jare vir ‘n hartelose mens sal gee nie. Let op hoe realisties die pa die gevolge teken. ‘n Verhouding met ‘n vreemde vrou – ‘n vrou wat met iemand anders getroud is – het ekonomiese en patologiese gevolge. Jy doen jouself daardeur finansiële sowel as fisiese skade aan. Jy gaan geld verloor sowel as jou gesondheid.

Met ontrouheid loop jy dus die gevaar dat jy uiteindelik jou welvaart met ander moet deel – dink aan die moderne problematiek van onderhoud met egskeidings – sowel as die gevaar van siektes moet trotseer. Jy sal boonop ook deur jou gewete aangekla word.

Ontrouheid in die huwelik is nie speletjies nie! Dit lei tot ’n private hel en publieke skandes, sê Spreuke. Natuurlik is daar genade en vergifnis – so leer ons in die NT. Maar, voorsorg is beter as nasorg.

Spreuke 5:15-21

Let op hoe die pa dan die situasie omkeer. Sal jy nou graag wil hê iemand anders moet by jou vrou kom slaap? Stellig nie, so, waarom dit aan iemand anders doen?

Die punt van die verbod op ontrou is om volle vreugde te vind in die huwelik met die vrou (of man) wat die Here vir jou gegee het. Drink water uit jou eie reënbak! Jou vrou moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.

Let op dat hier in die enkelvoud gepraat word, want dit was altyd die ideaal dat die huwelik monogaam sal wees, soos Jesus helder in Matteus 19 vir ons leer op grond van Genesis 2. Poligamie het via die nageslag van Kain pos gevat, en selfs die Israeliete het die nasies daarin begin navolg. Maar, dit was nooit God se skeppingsdoel met die mens nie.

Laat jou vrou (of man) jou dus bedwelm, en niemand anders nie, want God sien en reageer op alles wat jy doen. Hierdie waarskuwing het daarby ook ‘n geestelike kant, want die Here sien dit alles raak. Jou sonde sal jou inhaal, jy sal sterf deur só ‘n gebrek aan selfbeheersing.

Spreuke 5:22-23

Wie goddeloos lewe en God se wet hieroor oortree, sal vasval en verstrik in hulle skuld, sonde en sotheid, sê die pa. Hiermee waarsku die pa sy seuns dat hulle nooit die effek van die skuld van ongeregtigheid en sonde moet onderskat nie. Jy kan moontlik nog jou skuld wegsteek vir ander, maar nie vir jouself of vir God nie.

Dit is waarom vermaning só ’n belangrike deel van ’n geloofsgemeenskap se omgee vir mekaar moet wees. Ons mag nie wegskram daarvan nie. Daar is lewens op die spel. Wie lê die Here op jou hart vandag met wie jy moontlik moet praat?

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…