Skip to main content

Psalm 77

O God, u weg is heilig

Ons het reeds Psalm 76 hanteer in die tyd van Hiskia (2 Kronieke 32; 2 Konings 19; Jesaja 37), omdat dit in die Griekse vertaling van die OT verbind word aan God se oorwinning oor Sanherib in sy tyd.

Psalm 77 worstel met die vraag of God nog handel soos in die verlede. Om die waarheid te sê, die worsteling is só erg dat die Psalmis eintlik amper hoop opgegee het, soos die kernvers in vers 11 met hartseer uitdruk: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.”

Dit wil vir die Psalmis nie voorkom asof God nog die tipe dade doen soos in die vroeër dae, die jare lank gelede nie (vers 6), of hoe?

Ek roep om hulp, maar verniet – vers 2-4

Hy roep immers na God om hulp, in die verwagting dat God sal hoor, maar daar gebeur niks nie (vers 2 – let op dat die 2014 vertaling “sodat Hy my moet hoor” vertaal en nie “want Hy sal my hoor” soos in die 1983 vertaling nie). Hy is onvermoeid besig om te bid, maar vind geen troos nie. Sy denke aan God bring hom nie vreugde nie. Om die waarheid te sê, sy gedagtes oor God laat hom kreun en kla, dit mergel hom uit (vers 4).

My nadenke bring geen verligting nie – vers 5-10

Dit is so erg vir hom dat hy wakker lê in die nag, trouens “U hou my ooglede oop” (vers 5). Weens sy ontsteltenis kan hy eintlik nie meer bid nie, hy is “sprakeloos” (1983). Al wat vir hom oorbly is om terug te dink en te peins oor wat in die verlede lê. Hy probeer om die kloutjie by die oor te kry. Wat kan ’n mens nog regtig van God verwag vandag?

Die Psalm worstel dus met die basiese belewenis van God se teenwoordigheid in die nood wat ’n mens in die lewe ervaar. Die nood word nie uitgespel nie, maar in die proses sit die Psalmis vyf baie belangrike aspekte van God se karakter en betrokkenheid by ons op die tafel:

  • Aanvaarding – “Sal my Heer ons dan vir ewig verstoot en ons nooit weer aanvaar nie?” (vers 8 in 2014 vertaling);
  • Getrouheid – “Is dit vir altyd die einde van sy troue liefde?” (vers 9a in 2014 vertaling);
  • Beloftes – “Het sy boodskappe van geslag tot geslag nou tot ’n einde gekom?” (vers 9b in 2014 vertaling – die Hebreeuse woord wat hier met boodskappe vertaal word, kan ook as “woorde van belofte” verstaan word);
  • Genadig – “Het God vergeet om genadig te wees?” (vers 10a in 2014 vertaling);
  • Ontferming – “het Hy in sy woede sy ontferming opgehef?” (vers 10b in 2014 vertaling).

Ek sal tog oor U dade en wonders bly dink – vers 11-21

Die Psalm se kernvers is vers 11 omdat dit eintlik die vorige 10 verse opsom, terwyl dit die volgende deel van die Psalm inlei. “En ek sê: ‘My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.‘” In die NET Bible (77:10) lui dit so: “Then I said, ‘I am sickened by the thought that the sovereign One might become inactive.'”

Hoewel ons nie enigsins van ’n verandering in die situasie van die Psalmis lees nie, bly hy egter nie in hierdie verslaentheid en bevraagtekening van God nie. Vanaf vers 14 kry hy dit reg om van die merendeels ek-taal wat hy tot dusver gebruik het, weg te beweeg en meer direk met God besig te raak. Hy spreek God direk aan: “U is die God …” Hy fokus weer doelbewus sy gedagtes op die wonderlike dade van die Here uit die verlede, maar hierdie keer om God se lof direk te besing, want alles wat die Here doen, is eintlik heilig. “O God, u weg is heilig” (vers 14 – 2014 vertaling). Die pad wat God met hulle stap, is heilig, want die Here is daar midde-in die onrus en nood en bring op sy tyd uitkoms. Daarom kan ’n mens Hom vertrou.

Dit wys tog onomwonde in die verhale van die Uittog uit Egipte (vers 16), die tog deur die Rooi See (vers 20) en die begeleiding deur die woestyn (vers 21). God is vir sy mense ’n God wat wonders doen, wat hulle op kragtige wyse verlos, wat sy krag in die natuur kan demonstreer, maar ook in verhouding met sy mense hulle kan begelei (vers 21).

Psalm 78 sal verder uitbrei op dié dade van God regdeur die woestyntyd tot en met Dawid, wat beteken die twee Psalms kan as ‘n eenheid gelees word. In vers 65 van Psalm 78 word God se ingrype geteken as ‘n held wat uit die slaap wakker word en optree om sy mense te verlos, wat eintlik as ’n antwoord op die vrees van Ps. 77:11 gesien kan word.

Boodskap en betekenis

Die worsteling van die Psalm is baie relevant vir ons vandag. Dieselfde vrae oor God se betrokkenheid by ons lewens kom by ons op veral wanneer ons in die nood is. Kan Hy vandag nog dieselfde dinge doen as wat Hy in die verlede gedoen het? Om die waarheid te sê, soms as ons hoor van ander mense wat wonders ervaar, bring dit ons in twyfel nie óf God in ons lewens kan ingryp nie, maar of Hy dit wil doen.

Die omkeer in ons worsteling kom wanneer ons minder bekommerd raak oor wat ons ervaar en ons met God self besig raak, Hom aanspreek, Hom loof vir sy grootheid en heiligheid, ten spyte van ons nood. Dit is dan wat ons begin ervaar dat Hy al die tyd by ons is en dat ons op sy begeleiding in elke situasie kan staatmaak, selfs al word die spesifieke nood nie presies opgelos soos ons dit wil hê nie.

Ek neem vandag die frase in vers 14 met my saam: “O God, u weg is heilig”. Die sin van my lewe lê nie in die afwesigheid van nood nie, maar in die teenwoordigheid van God self. Daarin vind ek berusting.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar