Skip to main content

1 Kronieke 18

Die Here help Dawid net waar hy gaan

Kronieke gebruik die materiaal in Samuel baie selektief deur sekere verhale uit te laat. Dit is goed om op hierdie punt te let op die verhale wat ‘n mens nie in Kronieke gaan lees nie:

  • Jonatan se seun, Mefiboset (2 Sam 9),
  • sy owerspel met Batseba en moord van haar man, Urija (2 Sam 11-12 – interessant genoeg verwys Kronieke wel na Dawid wat in die lente in Jerusalem agterbly op ‘n keer, sonder om te vertel wat toe gebeur het – 1 Kron 20:1),
  • Amnon se ontering van sy suster Tamar (2 Sam 13),
  • die hele ongelukkige geskiedenis rondom Absalom (2 Sam 14-19),
  • en nog ‘n paar ander uitmergelende intriges rondom Seba en Rispa, vrou van Saul (2 Sam 20-21).

Die verhaal van Mefiboset en Rispa (hy begrawe uit eerbied vir haar lykwaak die bene van haar seuns saam met Saul en Jonatan in die familiegraf, alhoewel hy eintlik verantwoordelik was vir haar seuns se dood) bring ‘n deernisvolle kant van Dawid na vore, maar die res van die verhale wys ‘n onbeholpe kant van hom in die hantering van sy kinders sowel as selfsug en magsmisbruik in die hantering van Batseba en Urija.

Daarom laat die Kronis dié verhale uit omdat die negatiewe kante van Dawid se karakter, alhoewel dit deeglik bekend was, nie by sy doel inpas om die volk te bemoedig en te motiveer om die Here te dien nie, soos Dawid immers hoofsaaklik op weergalose wyse gedoen het. Hy was die beste koning wat Israel gehad het, dié een wat die model was waarvolgens alle ander konings beoordeel is.

Interessant genoeg pas selfs Dawid se deernis met Mefiboset en Rispa nie in by die Kronis se visie op die geskiedenis nie, waarskynlik omdat hulle deel van die nageslag van Saul was, en die Kronis nie baie ooghare gehad het vir dié nageslag wat deur God verwerp is nie.

Teks en konteks

Die Kronis sit dus Dawid se verhaal voort in 1 Kronieke 18-20 met ‘n fokus op sy oorloë. Ons fokus vandag op 1 Kronieke 18 wat met die eerste deel van 2 Samuel 8 ooreenkom.

Let op in die hoofstuk hoe wyd die gebied is wat Dawid aan homself en Israel onderhorig maak. Trouens dit strek tot aan die Eufraat.

Let egter ook op dat agter dit alles dit die “hand” van die Here was wat Dawid se koninkryk, sy huis, uitgebrei het, presies soos die vorige hoofstuk aan hom belowe het: “Die Here het vir Dawid gehelp net waar hy gegaan het.” Agter Dawid se hand in oorlog was die Here met sy hand in die geskiedenis besig om sy belofte aan Dawid te vervul. En dit is wat die Kronis vir sy geslag ná die ballingskap wil onderstreep, sodat hulle God sal vertrou om op dieselfde wyse in hulle eie tyd op te tree.

Daarom kies die Kronis die verhale uit 2 Samuel uit wat Dawid as oorlogsheld uitbeeld (dele uit 2 Sam 8; 10; 12; 21) en orden dit min of meer soos dit in Samuel vertel is.

Hoofstuk 18 is ‘n opsomming van die oorloë teen al die nasies wat oorwin is. Tien nasies of groepe uit nasies word hier genoem:

  • 2 groepe van die Filistyne na die weste [van Geser en van Gat],
  • die Moabiete na die ooste,
  • 3 groepe van die Arameërs na die noorde [van Soba, van Mesopotamië, en van Maäka],
  • die Edomiete na die suide,
  • die Ammoniete na die ooste, en
  • die Amalekiete na die ooste.

Interessant genoeg vertel die Kronis hier ook die verhaal van Dawid se vriende onder die nasies. Koning Toï van Hamat soek vriendskap met Dawid deur hom geluk te wens met sy oorwinning oor ‘n gesamentlike vyand, Hadad-Eser van Soba. En Dawid verwelkom dit. Dawid het natuurlik ook goeie verhoudinge gehandhaaf met koning Hiram van Tirus wat vir hom materiaal en vakmanne vir die bou van sy paleis gestuur het, soos die Kronis vroeër vertel het.

Die Kronis sluit af met ‘n prentjie van die netwerk van leiers en administrateurs wat Dawid aangestel het om polities en religieus alles regverdig en billik te laat verloop. Interessant genoeg noem die Kronis dat sy kinders in sy persoonlike diens was, terwyl die parallelle teks in 2 Samuel 8:18 hulle as priesters identifiseer. Die Kronis verswyg dié stukkie detail, moontlik omdat konings in sy tyd nie meer die voorreg gehad het nie.

Boodskap en betekenis

Kronieke beklemtoon hier dat God met Dawid was en hom gehelp het in al sy militêre ondernemings wat hy in opdrag van die Here uitgevoer het. As gevolg van hierdie oorwinnings het Dawid se koninkryk al hoe groter geword en het hy al hoe meer invloed in die breër wêreldkonteks gehad. Dit het ook politieke en militêre stabiliteit vir die volk ingehou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…