Skip to main content

Deuteronomium 30

Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie

Teks en konteks

Moses voltooi sy derde preek in hoofstuk 30 deur die gevolge van hulle gehoorsaamheid al dan nie uit te spel in terme van die vloek en die seën (Deut. 30:1-10), en volg dit op met ‘n bemoedigende woord dat gehoorsaamheid moontlik is. Dit is nie moeilik nie. Dit is nie buite bereik nie, ‘n gedagte wat Paulus sal gebruik in sy begronding van geloof in die NT (Deut. 30:11-14; vgl. Rom. 10:5-13).

Al wat hulle nou moet doen, is om te kies vir die lewe saam met God en Hom nougeset te gehoorsaam. Die hemele en die aarde is getuies daarvan dat Moses niks teruggehou het van dít wat God wou hê dat hy vir hulle moes deurgee nie, soos Jesus dit eeue later ook sou doen (Deut. 30:15-20; vgl. Joh. 15:15).

God beheer die geskiedenis en die natuur – Deuteronomium 30:1-10

Die seëninge en strawwe van hoofstuk 27-28 word hier duidelik in hoofstuk 30 gefundeer in beide God se beheer van die geskiedenis as in sy beheer van die natuur (vgl. ook die geloofsbelydenis van hoofstuk 26). Soos God die wel en weë van die nasies kan bepaal in terme van seën en straf (geskiedenis), só kan Hy ook die voorspoed en teenspoed in die skepping bepaal (natuur). En só kan Hy dit ook doen vir sy volk. God kan beide die geskiedenis (bv. die nasies) en die natuur (bv. droogtes of reën) gebruik in die proses.

Moses help daarom die volk om te verstaan dat hulle ervaring van God se seën en straf wentel om hulle gehoorsaamheid aan die grense wat Hy stel al dan nie. Die hoop is dat selfs as hulle weens hulle ongehoorsaamheid deur die straf van die Here hulle in ‘n vreemde land bevind, ‘n terugkeer na gehoorsaamheid vir hulle die seën van die Here sal beteken. As: “jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander.

Hiermee word God se verhouding met die volk in sy deernis met hulle gefundeer. Bekering tot die Here en die gevolglike omkering van hulle lot is altyd binne die verhouding met God moontlik. Trouens, die Here is in staat om hulle te heilig aan Hom, om hulle te beweeg om Hom lief te hê met hart en siel. Selfs hulle toewyding aan die Here kom uiteindelik van Hom af.

Lees vers 6 in die OAV om die betekenis daarvan ter harte te neem: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” Dit is in die werk wat God in hulle harte sal doen wat die hoop vir die toekoms lê, ‘n boodskap wat tot in die NT ‘n impak gehad het.

Al wat God van hulle vra, is dat hulle die keuse sal maak om Hom te gehoorsaam. Dan: “sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

Die gebod is nie te moeilik of buite jou bereik nie – Deuteronomium 30:11-14

Die gehoorsaamheid wat die Here van hulle vra, is dus nie te moeilik nie. Dit is ook nie buite hulle bereik nie. Dit is nie in die hemel daarbo asof God se woord onverstaanbaar en geheim is nie. Dit is ook nie anderkant die see dat dit onprakties of wêreldvreemd sou wees nie: “Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.” (OAV).

Paulus noem hierdie woord, die “woord van geloof”. Dié woord se inhoud, met die groter openbaring van die Here Jesus Christus, is as volg: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” (Rom. 10:5-13). ‘n Getuienis van die eenheid wat daar tussen OT en NT bestaan.

Kies die lewe en wat goed is, nie die dood en wat sleg is nie – Deuteronomium 30:15-20

Moses se preek mond daarom uit op die appèl dat hulle die lewe moet kies en dit wat goed is, nie die dood en dit wat sleg is nie. In dié keuse tot gehoorsaamheid lê die seën van die Here opgesluit. Daarsonder sal hulle die straf van die Here ervaar.

Soos in die Ou Nabye Oosterse verdrae spel Moses ook die getuies uit wat sal waghou oor Israel se gehoorsaamheid al dan nie. Dit is gepaste getuies: die hemel en die aarde, dié dinge wat God gemaak het en waarbinne en waarop die mens tot aanbidding en diens aan God geroep is. Daarby kom in die volgende hoofstuk die wetboek wat Moses aan hulle oorhandig om langs die verbondsark in die Allerheiligste te bewaar as getuie “teen” hulle (Deut. 31:26).

Hiermee kan Moses sy derde preek afsluit, want hy het niks teruggehou van dít wat God wou hê dat Hy vir hulle moes deurgee nie, soos Jesus dit eeue later ook sou doen (vgl. Joh. 15:15).

Boodskap en betekenis

  1. Hierdie hoofstuk is ‘n baie belangrike begronding van die feit dat God die lewe kies eerder as die dood. Soos ons dit in een van die genesingsverhale van Jesus sien.

In ‘n verstommende gebruik van die beginsel van “lewe en dood” van Deuteronomium 30:15 vra Jesus in Markus 3:4 of dit “wettig” is om goed te doen of kwaad op die sabbatdag toe die Fariseërs hom dopgehou het of hy ‘n man met ‘n gebreklike hand gaan gesond maak. Hyself kies dan vir die “lewe” deur die man gesond te maak.

Hoe ironies dat Jesus die vraag vra… en dat die Fariseërs nie net swyg nie, maar direk na die genesing uitloop om Jesus kwaad aan te doen. Hulle beplan om Hom saam met die Herodiane, dood te maak, en dit boonop op ‘n Sabbatdag!

Doodmaak was immers volgens die wet, sewe dae van ‘n week, verkeerd.

Geen wonder dat Jesus se emosies hoog geloop het nie, dat Hy tegelykertyd woedend en diep hartseer was nie! Die woede was oor die agteraf manier waarop die Fariseërs Hom hanteer het en selfs nie eers die moeite gedoen het om met Hom oor sy vraag in gesprek te tree nie. Die hartseer was oor hulle “hardheid van hart” wat nie net beteken dat hulle geen gevoel vir die gebreklike man gehad het nie, maar in opstand gekom het teen die goedheid van God wat Hy deur genesing aan die man wou bewys.

Jesus se woede en hartseer keer egter nie dat Hy die man se vertroue in Hom vergeet nie. Hy genees die man se hand ten volle.

Wat ‘n mens dus moet raaksien is dat Jesus se genesende teenwoordigheid óf vertroue óf verset van almal oproep. Niemand word deur Hom onaangeraak gelaat nie.

Die man met die gebreklike hand vertrou die Here Jesus, doen wat Hy sê, gaan staan in die middel van die sinagoge waar almal hom kan sien en hy baie bewus is van sy gebrek. Hy ervaar uiteindelik genesing.

Die Fariseërs verset hulle teen die Here Jesus. Hulle kan die helderheid waarmee Hy oor die Sabbat praat nie troef nie. As God “werk” Hy op die Sabbat, en as mens “eer” Hy die Sabbat as ‘n dag van goeddoen en genesing – alles op die Skrif gebaseer.

Die Fariseërs kan Jesus dus nie uit die Skrif stilmaak nie. Hulle argumente op grond van hulle eie interpretasies van die Sabbat sneuwel telkens, want Jesus troef hulle uit die Skrif.

Daarom kies die Fariseërs die enigste ander manier om Jesus by te kom, nl deur die politieke leiers van die dag. Hulle besluit dus om Jesus polities te diskrediteer en deur die owerhede te laat stil maak en só deur ‘n kruis uit die weg te ruim.

  1. Hierdie hoofstuk is ook baie belangrik vir die begronding van die NT verwoording van die vryspraak deur die geloof.

Die idee van ‘n besnydenis van die hart as simbool van gehoorsaamheid in Romeine kom uit hierdie toespraak van Moses: “En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” (Deut. 30:6 OAV).

Daarom kan Paulus in Romeine 2 sê: “Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie.” (Rom. 2:28-29).

Trouens, Paulus gebruik ‘n verdere deel van Moses se toespraak hier (Deut. 30:12-14) woordeliks in sy verwoording van die vryspraak van die geloof: “Moenie by jouself sê: ‘Wie sal na die hemel toe opklim?’ nie,” dit is, om Christus af te bring, “Of: ‘Wie sal na die onderaardse diepte toe afdaal?’ nie,” dit is, om Christus uit die dood terug te bring. Nee, die Skrif sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” (Rom. 10:6-8).

Dit is hierdie boodskap van die geloof uit Deuteronomium waarop Paulus se verkondiging oor die vryspraak van geloof eksplisiet gebaseer is: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.” (Rom. 10:9-10).

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.