Skip to main content

Psalm 26

Lewe met integriteit en vertroue

Psalm 26 kom ooreen met Psalms 15 en 24 en was moontlik ook ‘n tempel-toetrede Psalm wat deur pelgrims gebruik is. Omdat dit aan Dawid toegeskryf word, hanteer ons dit hier.

Teks en konteks

Dawid maak hier in die eerste deel van die Psalm sy lewe oop voor God en lê sy integriteit (onskuld) in optrede en vertroue op God aan sy ondersoekende oog bloot. Daarmee herinner hy ons daaraan dat sowel ons lewe in die wêreld as ons lewe met God volgens dieselfde waardes geleef moet word. Dit is waarom hy sê dat Hy hom deur God se liefde laat lei het. Hy het God se karakter as rigtingwyser gebruik in sy lewenstyl, terwyl hy ook op God vertrou het om dit te kan regkry (Fil 2:12-13 in OT gewaad!).

“Ek het nie getwyfel nie” in vers 1 (1983-vertaling) word deur Craigie as volg vertaal: “I shall not slip” wat beteken Dawid het nie opgehou om God te vertrou nie. Dit is ook hoe die 2020-vetaling dit vertaal: “Ek wankel nie.” Twyfel, volgens dié Psalm, is dus nie net om aan God se bestaan te twyfel nie, maar eerder om te twyfel in God se vermoë om betroubaar op te tree. Daaraan het Dawid hom nie skuldig gemaak nie.

Hierdie verbintenis is iets wat natuurlik ook nie net met Dawid se eie manier van lewe te make het nie. Dit beteken ook dat hy nee sê vir die waardes en lewenstyl van bedrieërs, agterbakse mense, misdadigers, goddeloses, moordenaars en mense wat ander probeer omkoop.

“Ondersoek my deur en deur” in vers 2 beteken letterlik: “toets my niere en hart”, die setel van emosies en verstand. Dawid wil dus sy gevoelens en gedagtes aan God se ondersoekende oog blootlê dat God self sal sien dat hy met integriteit opgetree het en steeds so wil lewe.

Dawid belowe in die tweede deel van die Psalm dus om nie op te hou om God te vertrou nie. Hy sal dit doen in die lewe daarbuite – te sorg dat sy hande skoon is – en in die lewe in die geloofsgemeenskap – te draai na die altaar toe.

Hy pleit by die Here dat hy in God se teenwoordigheid kan bly en nie saam met die sondaars en moordenaars omkom nie.

Dit gaan dus vir Dawid in sy lewe daaroor om te alle tye in lyn met God se waardes en beginsels op te tree. Dit is die deurlopende tema in die Psalm soos reeds in vers 1 aangedui is, en waarop hy nou in vers 11 verder uitbrei (onskuld/onberispelik kan met integriteit vertaal word): “Ek het met integriteit opgetree … Ek sal met integriteit optree … Red my en wees my genadig”.

Maar wat vir my ongelooflik diepsinnig is, is dat hy homself weliswaar verbind aan ‘n lewe met integriteit (vers 1, 11), maar tog in die laaste instansie staatmaak op God se redding en genade (vers 11). Dan sal sy pad vorentoe gelyk wees en sal hy die Here kan bly prys in die samekoms van die gemeente.

Boodskap en betekenis

Dit is een die groot uitdagings vir ons vandag, om God te vertrou dat Hy in óns wêreld betrokke is en sy wil sal láát geskied.

Wanneer ons dit regtig glo, help dit ons met ons manier van lewe. In absolute integriteit. Terwyl ons van God self ook vra om ons te ondersoek en te help om dit inderdaad reg te kry.

Die keuse om God te vertrou, vereis dus van ons om in elke dimensie van ons publieke en private lewe met integriteit te lewe. Dit is iets waarvoor ons verantwoordelik is. In elke keuse wat ons maak. Dit is egter ten diepste ook iets wat God vir ons gee. Waarvoor ons Hom moet vertrou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar