Skip to main content

2 Konings 5

Die Here genees Naäman deur ‘n klein dogtertjie se getuienis oor Elisa

Elisa se invloed het oor die nasionale en volksgrense gestrek. Soos dit uiteraard ook waar is van God, want Hy is nie net die Skepper nie, maar die een wat die Geskiedenis beheer. Die genesing van Naäman, bevelvoerder van die Aramese (Siriese) leër, beklemtoon God se genesende krag en die kontras tussen geloof en ongeloof wat alle mense geld.

Teks en konteks

Let op dat die verhaal begin met ‘n verwysing daarna dat dit die Here is wat reeds in vroeëre oorloë deur Naäman vir die Arameërs oorwinning in oorlog gegee het. Die band met die Here was dus alreeds voor sy siekte en genesing daar, al het Naäman onbewus daarvan gelewe.

Die Here werk ook deur die ontvoering van ‘n klein dogtertjie uit die land Israel wat Naäman se vrou van die profeet in Samaria vertel wat hom van sy velsiekte kan verlos. Interessant dat sy nie sy naam noem nie, maar wel weet van die wonderwerke wat deur Elisa plaasgevind het.

Interessant genoeg lyk dit asof die koning van Aram bereid is om te aanvaar dat genesing in Israel moontlik is – dit is immers hy wat ‘n brief van aanbeveling met Naäman saamstuur – maar dat die koning van Israel (waarskynlik Jehoram) dit nie glo nie!

Elisa vra egter die koning om Naäman na hom toe te stuur dat Naäman sal besef: “dat daar ‘n profeet in Israel is.”

Let op dat Elisa nie vir Naäman persoonlik ontvang nie, maar hom eenvoudig die opdrag gee om sewe keer homself op sy pad terug in die Jordaan te was: “sodat jou liggaam kan herstel” en hy so “rein” kan word. Die velsiekte het immers nie net hom siek gemaak nie, maar sosiaal van ander geïsoleer deur sy “onreinheid” sodat hy nie aan die godsdiensbeoefening kon deelneem nie.

Naäman vererg hom vir die amper nonchalante manier waarop hy hanteer word, en moet deur sy dienaars oortuig word om dit wel te doen. Toe hy gehoorsaam is, het sy vel volkome genees en was hy weer “rein” om sy plek in die geloofsgemeenskap in te neem.

Naäman gaan terug om Elisa te bedank en verlof te vra om steeds deel te neem aan die “heidense” geloofsgemeenskap se verrigtinge, maar erkenning aan Jahwe te gee deur dit op “heilige beloofde land” grond te doen wat hy vir daardie doel met hom sou saamneem.

Hy sou nou in die heidense tempel aan die Here alleen sy brandoffers (vir sonde) en maaltydoffers (vir gemeenskap met God en sy volk) bring. Hy het immers nou tot die volle besef gekom van die feit dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe die God van Israel. En vra vergifnis as hy as deel van sy seremoniële verpligtinge teenoor die Aramese koning in die tempel van Rimmon moet buig.

Elisa se woorde is: “Gaan in vrede!” Waarmee hy Naäman verlof gee.

Let verder op hoe Elisa op geen manier munt wil slaan uit die genesing wat God vir Naäman gee nie, en die geskenke weier, maar dat Gehasi die kans net nie verby kan laat gaan om persoonlik verryk te word uit Elisa se wonderwerke nie.

Gehasi word daarom gestraf met die velsiekte van Naäman waaraan hy tot sy dood aan gely het.

Boodskap en betekenis

Die klein dogtertjie se verhaal inspireer my. Sy kon stilgebly het in die vreemde oor die genesing wat God kan bring, maar sy styg bo haar tragiese omstandighede uit en help Naäman.

Let ook op hoe gewone goed belangrik is in die werk van God, nie net die buitengewone nie. Dit is ‘n klein dogtertjie se inligting, ‘n bad in die Jordaanrivier, ‘n dankie-sê van die generaal eerder as die baie goud en silwer wat hy aangebied het, wat in hierdie verhale van Elisa belangrik is.

God se buitengewone goed gebeur deur die gewone goed. Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed nie. God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur. Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het. Ons kan Hom daarvoor vertrou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar